Tuesday, March 17, 2009

Moeder van die Karoo en die papegaai se foutjie

Loop nou al dae rond met die storie oor die drie seuns van ‘n Karoo-ma wat in Ingeland gaan werk. Met krismis stuur hulle vir ma op die plaas natuurlik drie krismisbokse. Die eerste twee is, volgens graptegnieke, normaal blink en indrukwekkend. Boeta 1 sê hy het vir mammie ‘n groot nuwe huis op die plaas laat bou. Boeta 2 stuur vir mammie ‘n blinknuwe en grend motor en gooi sommer ‘n chauffeur by die deal in. Die jongste boeta se present moet natuurlik vindingryk wees. Hy is moeder se liefling en wil vir haar iets heel spesiaals gee. Daarom surf hy Ebay se eksotiese geskenke van a tot z. Uiteindelik kom hy op ‘n ideale geskenk af – ‘n papegaai wat flink en slim die hele Bybel van vooraf opsê. Moeder kry dan sommer geselskap, noudat sy ‘n weduwee is en terselfdertyd geestelike voedsel.

Mammie laat toe teen nuwejaar weet sy is baie dankbaar vir die mooi geskenke. Soos ‘n gesoute en nugtere Boere-weduwee betaam skryf sy aan Boeta 1 dankie vir die huis, maar dit bly maar ‘n storie om die groot plek netjies te hou. Vir boeta 2 laat weet sy dat die motor blink en mooi is, maar sy ry eintlik net een keer per week dorp toe. Dan vat sy maar eerder o’le pa se trokkie want sy wil nie die blink nuwe kar op die stowwerige pad vuilmaak of stukkend ry nie. En, voeg sy by, met Karoo-moederlike argwaan, sy’s immers nog van voor 1994: En daardie drywer vertrou mamma darem nie heeltemal nie. Boeta 3 kry ‘n kort boodskappie, hartlik en waarderend, op die man af en sonder fieterjassies: En Boeta my seun, dankie, daardie hoender was heerlik.

Ek sit al heel week en dink hoe lekker kan ‘n mens nie hiervan absurde teater maak nie: Het die papegaai, dik vies omdat hy uit Ingeland Karoo toe moes trek, dikbek gesit, tot sy eie ondergang – moeder kon nog nie betower word deur Bybelverse nie en dog toe dit moet seker dan maar 'n hoender wees. Of was hy dalk vlugvoos, na die S.A.L. vlug (of S.A.A. soos die manne mos besluit het), onbewus daarvan dat die Karoo nie papegaai wêreld is nie en dat ‘n man daar nie op jou louere moet rus nie, veral nie as jy ‘n voël is en na hoender lyk nie.

Wys jou net dan: as jy een talent het, woeker eerder dag en nag met hom

Enige ander voorstelle vir redes waarom moeder gedink het dis ‘n hoender?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive