Saturday, March 21, 2009

Die mistieke weg 8 : Inwoning van God




Die mistieke ervaring, het ons in die vorige deel gesien, maak ‘n mens bewus dat jy deel gekry het aan God se liefde wat nie deur netjiese formule’s onder woorde gebring kan word nie. Om ingetrek te word in God se liefde is om ‘n ondeurgrondelike, lewende sekerheid en wete te beleef. Helder ervaar en besef ‘n mens dat ‘n mens nou by God is en met God verenig is. Jy aanskou God.

Dit bring ‘n mens by ‘n volgende dimensie van die mistieke ervaring. God word deel van ‘n mens se lewe. God deurdring die mens se wese tot in die diepste kern daarvan. Die beeld wat hier kan help om dit te verstaan is van hout wat brand: Hout wat vlam gevat het, word deur die vuur deurdring en verteer. Die vereniging met God in die mistieke ervaring behels ook dat God in die mens inwoon. Die mens se siel word deur die ervaring aangeraak in sy mees intieme dele. Eckhart sê God is op daardie plek in die mens se bestaan waar niemand woon nie. God word deel van die mens se diepste innerlikheid, van dit wat die mens ‘n mens maak. God woon daar, in eenvoudig stilte, in eenheid met die mens. Hierdie plek kan 'n mens ook die mens se “burg” noem, die vesting van sy bestaan. God gee Hom aan die mens as die diepste grond van sy bestaan en trek nou in hierdie vesting in die mens se innerlikste lewe in.

‘n Mens verstaan dit miskien beter deur na te dink oor hoe God bestaan. God bestaan in Homself en leef uit Homself. God se inwoning in die mens het dieselfde betekenis. God woon daar waar die mens uit hom- of haarself self bestaan. God deel Homself met die mens se siel as die diepste kern van sy of haar bestaan. God woon in in die grond, die fondament van die mens se wese. God woon in die mens in sodat die mens se bestaan ten diepste die bestaan van God in hom of haar is. God kom woon en bestaan in daardie plek wat die mens tot mens maak. God breek die mens oop en word vir die mens dit wat lewe is. God word een met die mens op die mees intieme wyse en plek moontlik. Nader kan God nie kom nie. God raak die mens op ‘n plek wat innerliker is as die intiemste deel van die mens se siel.

Die mistieke ervaring raak dus daardie een plek in jou lewe wat die mees verborge, diepste punt van jou bestaan is. Dit wat maak dat jy ‘n mens is, wat jou hele bestaan stuur en bepaal, dit word nou die ruimte wat God vul en bewoon. Daarom is niks wat jy dink, doen, sê, beleef en ervaar nou sonder God nie. God kom woon daarin want God het een met my geword. God laat jou die goddelike liefde beleef, maar nooit sal dinge weer dieselfde kan wees nie: want daardie liefde het vlam gevat in jou bestaan en dring deur tot die kern van alles. Die liefde brand deur al die hardheid van die hout, dit verteer elke greintjie van die klipharde kante en brand deur tot die binneste binne van die stomp. God kom woon in jou. Die vlamme van God se eenwording met jou brand nie aan die kante of op sypaadjies nie.


N.a.v. Waaijman (66)

Foto: Gourits Desember 2008.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive