Sunday, March 29, 2009

Wat is mistiek? (10) Oor die wederkerige verhouding tussen God en mens

In die vorige besprekings is aandag gegee aan die verrukking van die siel in God en dan God se inwoning in die siel. Dit alles het te doen met die verskuiwing van die aksie wat plaasvind wanneer iemand na God vra en verlang. Alles begin met die mens se verlange na God. Die mens se handelinge staan in die sentrum. Maar spoedig draai alles om God se teenwoordigheid. Wat nou regtig saak maak en wat meer werklik as die mens se ervaring is, is dat God in die mens teenwoordig is.

Jan van die Kruis praat van die liefde wat die twee geliefdes so omvorm dat hulle na mekaar lyk. Die een is soos die ander een en hulle is albei een. In hulle eenheid en in die liefdestransformasie gee die een hom aan die ander as besitting en albei gee hulle vir mekaar. Op die manier leef elkeen in die ander een en is die een die ander een. Hulle is albei een deur die omvorming in liefde. Ons praat hier van ‘n wederkerigheidstruktuur.

Die mistiek kan maklik so ekstaties raak dat gedink word dat die mens in die ekstase opgaan in die goddelike of dat God vereenselwig word met die innerlike diepte van die menslike siel. Dan is daar nie meer wederkerigheid nie, maar word die een opgelos in die ander.

Die mistieke ervaring moet altyd in terme van wederkerigheid verstaan word. Hadwych skryf hieroor intens:

Waar die diepte van God se wysheid is, sal God jou leer wat God is en hoe wonderlik soet die een geliefde in die ander een woon. Hulle word so aan mekaar gegee dat nie een van die twee misken word nie. Hulle besit mekaar terwyl hulle mekaar ten volle geniet: mond teen mond, hart in hart, liggaam in liggaam, siel in siel. Een soet goddelike natuur deurvloei beide van hulle.

Maar, word bygevoeg:

Tog bly elkeen terselfdertyd en steeds homself.

Daar is dus ‘n buitengewone intieme liefdesverhouding tussen God en mens. Maar in dit alles bly God God en mens mens. Nie een verloor sy eie identiteit nie. Daar is intense eenheid, maar nie ten koste van die eie aard van elkeen nie.

Wederkerigheid is ‘n nuttige begrip: dit veronderstel altyd twee party wat met mekaar in ‘n wederkerige verhouding staan. Die een verdwyn nie in die ander een nie.

Hiermee word 'n poging aangewend om die intieme, ekstatiese eenheid tussen God en mens so te beskrywe dat dit werklik om 'n unieke, noue en spesiale ervaring gaan sonder dat dit verdraai word tot iets wat die nie is nie.

Ek hou van hierdie dimensie: dit laat my meer verwonderd oor God. Om te dink dat God hierdie begeerte het om die mens te transformeer, maar nooit ten koste van die mens se menswees nie. God ag nie mens-wees tog iewers so gering dat dit maar moet verdwyn op 'n stadium nie. In die sin bly God getrou aan die skepping. En word mens-wees iets heel spesiaal. Dit is ook totaal in lyn met die vleeswording: God wil mens word, juis om die mens tot sy of haar volle bestemming te bring.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive