Sunday, March 01, 2009

Die Mistieke van die Liefde: Breathe in, Breathe out

Ek het gister die film “Breathe in, breathe out” by die Japannese filmfees in die Waterkant gaan kyk. Dit gaan oor ‘n klompie stukwerkers wat by ‘n boer en sy vrou op Okinawa-eiland suikerriet gaan oes. Die boer kry elke jaar werkers wat hom help om ‘n kontrak na te kom waarvolgens hy binne 35 dae ‘n paar ton suikerriet (70 000 plante) voor ‘n afsnydatum moet lewer. Die stukwerkers is almal jongmense: hulle bly by die boer en sy vrou in hul huis, onder opsig van ‘n bestuurder wat hulle oplei en rondry. Die bestuurder werk al vir ‘n paar jaar by die boer, maar net gedurende die oestyd. As die oes verby is, beweeg hy aan van plek tot plek waar verskillende produkte geoes word. Die jong werkers vervies hulle vir sy aanstellerigheid. Die werkers is almal self broeiende figure: niemand vra vir niemand uit waarvandaan hulle kom en waarheen hulle op pad is nie. “Hier is almal gelyk” sê iemand op ‘n stadium. Maar gou blyk dat hulle almal ‘n verlede het waardeur hulle getraumatiseer is en waarvandaan hulle wegvlug. Deur die loop van die rolprent word hulle gedwing om hul verlede in die oë te kyk, hulle daarmee te versoen en dus as heel mense weg te gaan.

Hierdie transformasie uit trauma na heling gebeur op ‘n merkwaardige manier. Hulle werk lang ure deur die dag in brandende, swoel hitte soos selfs werkolistiese Japannese nie gewoonlik doen nie. Gou blyk dit dat hulle nie die oes sal kan klaarmaak nie. Die boer en sy vrou, oupa en ouma noem die werkers hulle, reageer gemoedelik elke keer as die werkende jongmense bekommerd sê hulle gaan dit nie regkry nie. “We’ll manage” roep die boer gesellig uit en lag vriendelik vir hulle. “Kyk net,” reageer hy op hul sorge, “hoe oulik het julle geraak. Julle sny net beter en beter elke dag. Moenie oor ons bekommerd wees nie. Ons kan maar net weer van vooraf begin. Ons sal regkom.” Ouma is net so gelate: sy dra kos aan, gee hulle drukkies, versorg hulle en ondersteun haar man blymoedig en grappig as hy die werkers gerusstel. Nooit ‘n verwyt, ‘n skewe woord, ‘n afkeurende kyk nie. Egte, blymoedige gelatenheid. Die karakters van die boer en sy vrou is eg, met ‘n totale gebrek aan toneelspel.

Daar is allerhande dramatiese onthullinge en ontwikkelinge in die fliek, onder andere wanneer die bestuurder ‘n ongeluk maak en almal uitgaan om hom te help, al irriteer hy hulle. Maar die ontknoping in elke karakter se verhaallyn word omraam deur die groter narratief: sonder om mekaar aan te spreek, besluit hulle weens die kommer oor die oes om harder en langer ure te werk. Die laaste dag spit hulle die laaste paar suikerriet in ‘n ritueel uit. Elkeen kry een in ‘n aangrypende, stil plegtigheid van genoegdoening en vervulling.

Een van die werkers is ‘n verbysterende mooi meisie, maar sy sê die hele fliek deur niks nie. Aan die einde, as hulle die oes onder beheer het, praat sy vir die eerste keer: “‘n Mens werk en werk en werk. En dan kom die nuwe dag en dit is pragtig”, sê sy. (“O”, sê een van die ander, “jy kan sowaar praat”!). Die stil meisie is die een wat, as die krisis erg is, tot almal se ontsteltenis verdwyn. Die ander kry haar uiteindelik in die landery waar sy staan en suikerriet kap. Sy het vroegoggend, vroeër as gewoonlik, begin werk – sy wil die oes inkry. Dit is dan dat hulle almal besluit om elke dag nog vroeër te begin werk.

Dit is ‘n merkwaardige mooie fliek vol pragtige tonele. Okinawa se boeiende landskap, maar ook die doodgewone suikerplantasie het ‘n mistieke karakter. Groen golwe van suikerriet wat omraam word deur die blou van die see, gedurig op die gesigseinder. Maar die mistieke bly vir my hierdie werkers se groeiende passie om harder te sweet om die boer se oes te red. Dis ‘n kollektiewe transformasie: soos hulle werk, word hulle meer en meer ingetrek in die stryd om die oes in te bring. “Ons gaan nooit hierdie plantasie kan afsny nie” sê een van hulle aan die begin. Dit word uiteindelik ‘n “ons gaan hierdie oes inbring.” Ter wille van die boer en sy vrou, wat juis nie daarvoor vra nie. Wat net liefde uitdeel.

Daar is iets mistieks aan die liefde: Daar is die karakter van die boer en sy vrou as mense wat allerhande verpligtinge het, wat moet oorleef, maar wat deur hul leef in die liefde nooit toelaat dat hulle nood of behoefte hulle bring tot onmenslikheid, tot gierigheid nie. Dit is ‘n liefde wat so in die mens se bestaan ingegrein is, dat dit eenvoudig daar is – spontaan uitgeleef word, sonder ‘n skewe kyk, ‘n harde woord, ‘n bytende verwyt.

En dan is daar die wederliefde van die seergemaaktes wat tuiskom in die liefde – wat deur die Vader omhels word: “Hier is almal gelyk”, hier word almal aanvaar, hier is nie swart skape met ‘n verlede nie. Hier is ‘n ruimte van menslikheid. En waar ‘n mens veilig is, geborge voel, word liefde ook jou deel. Op ‘n mistieke manier kom dit ook in jou lê, groei dit in jou, word jy daardeur meegevoer en gee jy daarvoor om. Al weet jy daar kom ‘n tyd dat jy hierdie ruimte van liefde dalk weer sal moet verlaat, is dit belangriker om self ook liefdevol te wees. Die liefde wek die liefde. Die fliek eindig wanneer die kamera draal op al die foto’s van mense wat vir die boer en sy vrou gewerk het: herinneringe wat bly voortleef, van liefde wat uitgeplant is en nou in ander plekke beleef word. Die liefde vergaan nimmermeer.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive