Saturday, March 14, 2009

Efesiërs 3:18-21: die liefde wat alle kennis te bowe gaan. Oor die aanskouing van die liefde.

Pas nadat ek die vorige stuk oor die nie-wete skryf, lees ek Efesiërs – een van my gunstelingtekste. Die gedeelte in 3:18-21 onderstreep hoe God uitstyg bo ons inperkende en beperkte vermoëns. God kan oneindig meer doen as wat ons bid of dink. En dan die belangrike opmerking: God se liefde gaan ons verstand te bowe! God moet ons help om te ervaar hoe wyd, ver, hoog en diep die liefde van Chrsitus sterk. Paulus se gebed in die vorige deel (Efes.3:14-17) besing God se skeppingsmag, die Gees se transformatiewe werking en Christus se inwonende liefde. Paulus bid dat hulle die gawe van hierdie goddelike werking sal ervaar.

Niks van kennis as die hoogste goed nie, niks van slimmighede wat ons laat uitstyg nie. Alleen maar in die eerste plek hierdie belewing van God se mistieke werking in die Gees en Christus. Waar dit in plek is, volg 'n aangrypende, maar ook baie gewone nuwe lewe. Daarvoor moet 'n mens maar net die res van die boek lees met sy oproep tot 'n lewe wat skoon is, gestroop van die onheerlike en die afbrekende.

Efesiërs is ‘n boeiende brief. Wie daardeur aangeraak word, en deur die skrywer se mistiek, laat toe dat ‘n krag in sy of haar lewe loskom.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive