Saturday, March 14, 2009

Mistiek (8) Aanskouing ander kant alle kennis

Hoe bedink ‘n mens die mistieke proses as ‘n mens verby alle kennis heen jouself verloor het in God en deel gekry het aan die Onkenbare werking van God? Waaijman (65) praat van die grondelose afgrond van nie-weet waarin die mistieke ervaring ‘n mens intrek. ‘n Mens word uiteindelik verenig met God wat ook die Onkenbare is. Paulus raak, nadat hy skryf oor een van die moeilikste tema’s in die geloofslewe (die getrouheid van God aan die volk Israel in Rom.9-11), in vervoering: Hy besing die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis, maar voeg dan by: “Hoe ondeurgrondelik is God se oordele, hoe onnaspeurlik God se weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?” (Rom11:33-35). Ondeurgrondelikheid en onnaspeurlikheid van God is uiteindelik maar al wat ons kan besing as ons ons eie diep gedagtes op die tafel gelê het.

Die vereniging met God bring mee dat die mistikus dus in ‘n grondelose afgrond van nie-weet ingetrek is. ‘n Mens word by God opgeneem en in ‘n verhouding met God verenig wat nie in terme van kennis beskryf kan word nie. Maar ‘n mens kan verder sê wat hierdie ondeurgrondelikheid nie beteken nie. Die mistikus verloor nie sy of haar besef en bewussyn van dinge nie asof hy ‘n zombie word of in ‘n bewustelose trance verval nie. Trouens, wanneer ‘n mens verby alle wete beweeg, bereik ‘n mens ‘n punt van heldere klaarheid. Alles word nou vir jou duidelik en helder: Terwyl ‘n mens wat kennis inwin na dinge op ‘n afstand bly kyk, het die mistikus verby daardie afstandelikheid beweeg. Kennis slaan om in aanskouing. ‘n Mens beleef nou helder en klaar wat liefde is en wat dit beteken om by God te wees.

Ons oë bly dus in die donker van hierdie grondelose afgrond oop. Ons val nie aan die slaap nie of verloor nie ons wete nie. Daar is niks wat ons kan bekyk, ontleed, verstaan, bedink as ons so in die donker is nie. Maar ons het weggesink in God se liefde. Ons is bewus van liefde wat ons omstraal terwyl ons in God se liefde geborg word. Ons kan nie feit opnoem nie, inhoude van teologieë bespreek nie. Ons beleef hoe God ons herskep en ons het nou deel aan die goddelike liefde. Ons aanskou die liefde. Ons bedink nie, ons beleef. Ons oë is oop in die donkerte waar daar geen kennis is om ons te verlig nie. Tog is daar om geen rede hoegenaamd in ons ‘n helderheid. Ons aanskou God. Ons is opgeneem in ‘n liefdesverhouding.

God is ondeurgrondelik, skryf Paulus. Ons kan nie redes verskaf vir die liefde nie of kenmerke daarvan uitstal nie. Ons vereniging met God is bloot daar om te aanskou. In Romeine 8:35 het Paulus reeds verwonderd geskryf dat niks ons van God se liefde kan skei nie. Die diepe geheim oor God se verborge gehegtheid aan Israel (in Rom.9-11) word deur hierdie verwysing dus omraam deur God se liefde en deur God se ondeurgrondelikheid en onnaspeurlikheid.

Dit is werklik ‘n verborgenheid: dat ons lank nadat ons alles met ons verstand uitgepluis het, ook ons godsdiens, aanbeweeg na die dieper, groter, maar ondeurgrondelike aanskouing en belewing van God se ontfermende, vernuwende liefdes-omhelsing.

Paulus praat al in Romeine 8:20 van die skeppping se kreunende verlange om verby al die tydelike dinge heen aan te beweeg om deel te kry aan God se heerlikheid wat ten volle in die toekoms ons deel sal word (Rom.8:21). God se heerlikheid is wat saak maak en wat al die verganklike dinge oorleef. En onder hierdie verganklike dinge tel ook kennis. Paulus skryf in sy beroemde lied op die liefde dat “al die kennis” sonder liefde niks is nie. Kennis sal uitgedien raak, voeg hy by (1 Kor.13:2, 8). Dit is deel van die verganklike. Liefde bly en dit vir ewig. Wie met God verenig raak, ervaar op ‘n mistieke wyse hierdie onverganklike, onnaspeurlike misterie van eenheid met die liefde buite alle kennis om en verby alle insigte.

N.a.v. Waaijman: die mistieke weg.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive