Tuesday, March 03, 2009

Spiritualiteit en teologie




In die teologiese wêreld is die gesprek met die ouer geslag altyd belangrik. Vandaar die respek en selfs eerbied teenoor die tradisies van die kerk. En immer weer die vernuwing wat volg op die gesprek met die tradisies: ons praat met mekaar, maar uiteindelik se ons vir 'n nuwe tyd op 'n nuwe manier.

Tog gaan teologie nie oor wat ‘n paar mense oor God gedink het nie. Teologie is gewortel in mense se geestelike lewe. Dit reflekteer ervaringswerelde. Meer nog, dit delf dieper oor die sin van die ervaring en wat, uiteindelik Wie, daar agter is. In teologie gaan dit oor die Gees van God wat jou suiwer, omvorm en uitdaag. Teologie beteken om te leef uit die ervaring van God se heilige en heiligende teenwoordigheid. Dit behels die mistieke wete dat ‘n mens voor die Onpeilbare Misterie staan. Dikwels beteken dit dat ‘n mens juis die beperkinge van die intellek verstaan. Lank nadat ons woorde oor God gepraat en selfs opgeraak het, bestaan teologie nog voort. Ten minste, die egte teologie. Daarom is ‘n teologie wat abstrakte waarhede konteksloos bespreek en universele aansprake maak gedoem tot ‘n vaal bestaan en, uiteindelik, ‘n roemlose ondergang.

Teologie is geanker in die geestelike lewe van ‘n gelowige. Teologie is eintlik geleefde geloof in die aangesig van God. Juis daarom gaan dit nie om die mens, menslike ervaringe of menslike groei nie. Egte teologie is daarom spiritualiteit – om deur God se Gees geheilig te word tot ‘n lewe in diens van God. Dit is nie ‘n soort goedkoop self-help poging tot verbetering of volwasse-wording nie. Dit gaan om ‘n proses waardeur ek deurdringend uitgedaag en getransformeer word om soos God te word. Daarom is die uiteindelike doel van God die eenwording met God.

Johnson skryf in sy eerste hoofstuk van “The Living Gospel”: “Unless in some fashion I am in touch with God’s intrusion into my life... there is nothing for me to think of at all that I can call theology. If the shaping and sanctifying work of the Holy Spirit is not the essential starting point and final goal of the theological process, then I cannot but regard the ‘spiritual life’ as an effete form of super-erogation” (p. 5).

Juis daarom is teologie nie ‘n onbetrokke, vryblywende gesprek oor feite of geskiedenis nie. Teologie moet Spiritualiteit wees. Dit moet as dissipline oor die geestelike lewe (faith experienced) begin en fokus op die verborge, oorweldigende en geheimenisvolle werking van God in mense se geestelike lewens. Maar dit gaan nie net oor hoe God getransformeer het nie, dit moet my self transformeer. Teologie is self-impliserend. Die teoloog word opgeneem in sy of haar studieveld en word daardeur juis getransformeer.

Daar is baie droërige, oppervlakkige, skewe en selfs onheilige vorme van spiritualiteit. ‘n Mens kan so maklik die aandag begin vestig op my bewuswording, my gebed, my toewyding in plaas van om verby al die wonderlike hulpmiddels tot bewuswording, gefokusde gebed en kontemplatiewe toewyding te bly sug na die hoogste van alle ervaringe: om aanbiddend by God te wees. Verby my eie asemhaling, my eie mantra’s, my ywerige askese is daar die verlange na God as die Heilige wat liefdevol in jou lewe aan die werk is en by wie ‘n mens totale skuiling vind. Aanbiddend is ‘n mens in verwondering en dankbaarheid voor God, bereid om verander te word en gereed om in gehoorsaamheid te gaan waar jy nie eintlik wou wees nie. Maar selfs bo dit alles is die ervaring om by God te wees: Here, my rots, by U skuil ek. Ek sal U loof al die dae van my lewe.

Selfs by die skryf hiervan en by die lees van hierdie woorde, is die dieper begeerte: Gees van God gee vir my die Gees in volheid om aanbiddend in U lig te bly.

Die roos op die foto, geneem in Bloemfontein in April 2008, by 'n gastehuis waar ek tydens Pinkster gebly het, wys helder Lig.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive