Sunday, April 04, 2010

Dit is nou tyd vir meer as net kalm wees. Oor Eugene Terreblanche se dood.

Die reaksie op die moord op Eugene Terreblanche is in sommige gevalle byna net so erg soos sy gewelddadige dood. Wanneer iemand sterf, vriend of vyand, pas dit ‘n mens om eers te dink aan sy of haar familiekring wat ‘n verlies van 'n dierbare ervaar. By die dood van iemand is dit ‘n teken van egte menslikheid om uit te reik na hulle.

Wanneer iemand gewelddadig sterf, pas dit selfs meer nog om só ‘n daad onomwonde te veroordeel. Daar is geen “maar’s” by betrokke nie. Niemand verdien om sy lewe op hierdie sinnelose manier te verloor nie.

Ek was daarom dankbaar dat Pres. Zuma spesiaal op televisie sy meelewing met die familie, vriende en volgelinge van Eugene Terreblanche betuig het. En dat hy geweld veroordeel het. Ek is ook dankbaar dat hy opruiende taalgebruik verwerp het – al sou hy sekerlik meer respek van baie mense ingewin het as hy die opruiende liedjie uitdruklik meer uitdruklik veroordeel het.

In kontras met die President se optrede het die jeugleier van die A.N.C. nie een woord van simpatie geuiter nie, maar op kamera vertel dat hy nie omgee vir “sulke mense” nie. Net so harteloos was ander kommentaar en die huiwering by sommige om prontuit toe te gee dat die sing van struggle liedere in ons land ‘n kultuur van geweld aanvuur. In my mond het die minister van polisie se weiering om betrokke te raak by enige diskussie oor die verband tussen hierdie moord en die sing van die struggle-lied ‘n brak smaak in die mond gelaat. Dit sou wys wees om enige vorm van taal wat opruiend sou kon inwerk, te veroordeel. Dit sou rype insig en volwassenheid reflekteer.

Min mense het simpatie vir die regse beskouinge van Eugene Terreblance gehad. Sy getal van volgelinge is maar klein. Maar ek het vandag vir sy gesin gebid en vir almal wat sy dood as ‘n egte verlies en ‘n trauma ervaar. Hulle het ‘n man, vader, broer en leier verloor op ‘n manier wat ondenkbaar sleg is.

Daar is ‘n klomp ordentlike, normale, nie-rassistiese mense uit die middel van die politieke spektrum wat diep besorgd is oor die ontvlambare situasie wat in ons land heers. En wat diep bedreigd voel. Saam met baie van hierdie mense voel ek ook dat hierdie verfoeilike daad op geen enkele manier goedgepraat of gerasionaliseer word nie. En daarby moet ‘n mens onomwonde voeg dat liedere soos wat die ANC-jeugleier sing, totaal onaanvaarbaar is in ‘n land waar ‘n mens ten alle koste die kosbaarheid van ‘n mens se lewe – wie dit ook al mag wees – wil bevorder. Of die moordenaars nou deur daardie lied geÏnspireer is of nie, is nie ter sake nie. Stommerikke wat sulke liedere sing kweek ‘n onaanvaarbare kultuur waarin moord en doodslag goedgepraat word.

Die kerk moet veral eerste wees om hier halt te roep. Ek onthou toe ons protes-dienste in Rhodes se Universiteitskapel gehou het en hierdie lied gesing is, geestelikes uit verskillende kerke gevra het dat dit nie weer moet gebeur nie. Die kerk het toe al besef dat daar grense is wat in die politieke stryd nie oorgesteek moet word nie.

Daar is ‘n diepe ongerustheid oor die wyse waarop die sosiale kohesie in ons land uitfraiing, oor die aaklige vorme van self-verryking wat eie gewin bevorder en die visie op menslikheid teenoor ander verduister, oor kriminaliteit wat lyk asof dit buite beheer is, oor die agteruitgang van dienste, die verskriklike toneel van agteruitgang in die onderwys en ander sosiale probleme wat alle dele van ons bevolking, maar veral die armstes van die armes benadeel. Wanneer ‘n 21-jarige man en ‘n 15-jarige kind ‘n ou mens met panga’s gruwelik aanval en vermink, en dit, word gesê, nogal oor ‘n loongeskil, as ‘n roekelose jeugleier met opruiende taalgebruik die leiding gee en die een is wat kroonprinse uitwys, is dit nie meer bloot ‘n kwessie van kalm bly nie. Dit vra vir baie ernstiger en meer berekende optrede en leierskap. Waar is ons tog as mense oor ‘n loongeskil iemand anders gruwelik met panga’s tot die dood toe vermink?

Ons het genoeg aan politiekery gehad. Die krisis in ons land het so ‘n omvang aangeneem dat politieke partye, burger-organisasies en kerke uit hul pad moet gaan om nou hande te vat.

Te lank het ons na mekaar as vyande gekyk. Te lank het ons gepraat oor mekaar as teenstanders. Te lank het ons met mekaar baklei.

Dit is tyd vir hande vat. Ons het nie ‘n amptelike noodtoestand nodig om te weet dat dit nou buitengewone tye is wat buitengewone eise aan leiers in ons land stel nie.

En hierin moet kerke ‘n radikale rol speel. Nou is die tyd vir praat.

Een voorbeeld van ‘n reaksie is die volgende media-verklaring van die aartsbiskop van Kaapstad. Maar waarom het ek die gevoel dat dit ook heeltemal te min is?

Sunday, April 4, 2010

Press Release on the Murder of Eugene Terre'Blanche

Issued 4 April 2010

'Let Easter break the cycle of death' said the Most Revd Dr Thabo Makgoba, Anglican Archbishop of Cape Town, responding to the murder of Eugene Terre'Blanche.

'I heard the shocking news of his killing as I was leaving Cape Town Cathedral in the early hours of Easter Sunday, having just celebrated the resurrection of Jesus Christ from the dead' said the Archbishop. 'I condemn the murder of Mr Terre'Blanche, and extend my deepest condolences to his family, whom I hold in my prayers. No child of God, no matter who they are, no matter what their views, should end their lives in this way.'

The Archbishop went on to say 'Easter gives us the ability to break the cycle of death, wherever it is found. The power of God, that raised his Son Jesus Christ from death to new life, will help us choose the path of life for our country and to reject any response that fuels racial hatred. Let all of us be Easter people, doing what we can to uphold the President's call for calm, and work for a better future for our nation.'

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive