Friday, April 09, 2010

Wanneer ons die Bybel nie regtig hoor nie...

Ons is dikwels verbaas om in die Bybel iets te lees wat ons nooit tevore raakgelees het nie. Of dit gebeur dat ons op ‘n dag agterkom dat wat ons gedink het in die Bybel staan eintlik nie daar staan nie. Ons kom dan agter dat ons ‘n fout gemaak het en dat ons ‘n teks of woord heeltemal verkeerde gelees het.

Dit is net soos die pragtige verhale wat ons het van kinders wat godsdienstige liedjies verkeerd hoor: Seuntjie, hoor ons verlede week, het ‘n nuwe CD met die Liedboek se liedjies daarop gekry en nou sing hy hartlik saam aan die liedjie “Ek is bly, ek is bly” maar die gedeelte “Hy het my verlos” sing hy as: “Hy het my gelos.” Dit is eintlik presies die teenoorgestelde van wat die liedjie wil sê. God los ons nie. God verlos ons en neem ons op in die goddelike liefde.

Dis nogal ‘n groot verskil.

Só moet ons nogal dikwels ons foute regmaak. Maar – as ons daaroor dink word dit nogal interessant om na te dink oor waar hierdie foute vandaan kom. Wat gaan in ons onderbewussyn aan dat ons sekere gedeeltes verkeerd hoor of lees?

Hieruit leer ons dat ons selfs so ‘n eenvoudige handeling soos Bybellees nie maar net onskuldig doen nie. Ons hoor wat ons wil hoor, of wat ons hoor pas in by wie ons is en by wat ons dink.

Daar is dikwels so baie geraas in ons lewens dat ons ons geraas hoor en nie na die teks luister nie.

Dit interessante is dat ons minder foute maak wanneer ons stadig en versigtig lees.

Eintlik is dit dan hoe ons die Bybel moet lees, skryf Reedijk. Stadig, versigtig met al ons aandag.

Wanneer ons dit doen, sal ons minder menslike foute in die teks inlees. Dan sal ons ook duideliker hoor wat die teks vir ons werklik wil sê.

Die punt is net dat as ons hoor wat die teks sê en nie wat ons dink dit sê nie, word ons sterker deur die teks getransformeer.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive