Saturday, April 17, 2010

Om iemand tog so mooi hel toe te stuur.





‘n Dekade of twee gelede vertel ‘n goeie kennis vir my uit die bloute hoe haar buurvrou, getroud met ‘n bekende professor aan die Universiteit, naamlose oproepe maak na bekendes wat in die media hul menings lug oor sake. Sy beledig en dreig hulle dan.

Ek kon nie glo wat ek hoor nie – nie net omdat sulke optrede lafhartig en eintlik, eerlik gesproke, gemeen is nie, maar ook omdat my kennis blykbaar die storie as ‘n grappie beskou het.

Die soortgelyke, vreemde optrede van mense is in ons internet-eeu nog meer in die oog: In vandag se koerant se bylaag is daar twee lang artikels oor die skerp, rassistiese en opruiende reaksies van Afrikaanssprekendes op die dood van Eugene Terreblanche in webwerwe wat soos paddastoele opskiet. Dit is ‘n ontnugterende ervaring om te sien hoe kru en gewelddadig mense kan wees.

Die koerant vertel ook dat oud-president F.W. de Klerk nou in ‘n koeëlvaste motor moet ry.

Ek gaan die dag byna met min moed in. ‘n Sprankie lig bly gelukkig by my: In dieselfde koerant skryf Leopold Scholtz dat die Duitsers toenemend druk plaas op hulle regering om uit Afghanistan te onttrek. Die Duitsers het in resente tye, merk hy op, sterk pasifisties geraak. Die geweld van die tweede wêreld-oorlog spook nog by hulle. Ek kan met hom saamstem: Hierdie beweging teen geweld is ‘n tendens wat ‘n mens wyd in Europa aantref. Dit is een van die redes waarom Obama se verkiesing verwelkom is – en hy die Nobelprys vir Vrede ontvang het. Mense het hoop dat hy die oorlog sou beëindig. En daar is groot afwagting oor sy afskaling van kernwapens.

Dis sprankie hoop bring egter ook by my sorge: Moet ons eers deur ‘n bloedbad gaan voordat ons tot besinning kom? Het ons dan nie uit ons eie verlede geleer hoe die verwerping van mense omdat hulle ‘n ander velkleur het, eindelose geweld oproep nie? Kan ons dan nie in hierdie tyd genoeg sien hoe ons taal, hoe die sing van ‘n gewelddadige liedjie, ons gemeenskap uitmekaar kan skeur nie? Moet ons nou “terugslaan” met dieselfde manier van dink en praat?

Dit is allerverskrikliks, bly ek dink, dat iemand soos Terreblanche só vermoor kon word. Die buitensporige, wrede geweld van jong mense wat nog nie keiharde kriminele is nie, tref ‘n mens soos ‘n klip teen die voorkop.

En jy sien hierdie gewelddadige mindset wyd aan die werk: Skole se klaskamers word afgebrand. Stakings bemors ons stede. Die lysie kan lank wees.

Maar hierdie fisieke geweld is die simptome van ‘n siek gemeenskap wat sy probleme wil oplos deur mense op te hang, dood te skiet, kinders in die skole stukkend te slaan, of, soos President Zuma blykbaar onlangs gesê het, om gays wat hy teenkom met die vuis plat te slaan.

Iewers is die spiraal van geweld nie los te maak van die geweld uit ons mond en die geweld in ons koppe nie. Ons taal vertel ‘n storie wat ons nie kan ignoreer nie. Taal is magtig. Jy kan iemand woedend maak deur hom of haar met ‘n bynaam te verneder. Jy kan iemand gewelddadig maak wanneer jy sy pa of sy ma beledig. Taal is ‘n magtige wapen.

En ons kan ons mag deur taal gebruik om uiters gewelddadig te wees.

Ek sit in geselskap waar ’n paar andersins ordentlike geestelike leiers oor ‘n bekende, suksesvolle gemeente van die N.G.Kerk en oor Buchan praat. Ek skrik terug oor die geweld wat in hulle woorde skuil: dit is die geweld van veroordeling, verwerping, belediging en eliminering. Sulke bewegings kan tog nie “egte” spiritualiteit, “egte” godsdiens wees nie, sê hulle met entoesiasme – aangespoor deur hulle gemeenskaplike afkeer aan bewegings en groepe wat nie hul uitkyk op God deel nie. En die implikasie is duidelik: “ons” is die egte geestelike leiers. Ons verstaan eintlik die beste wat goeie godsdiens is.

Taal hoef nie altyd so skerp, negatief en veroordelende te wees nie om gewelddadig te wees nie. Ons taal kan nogal verhewe en pragtig wees. En tog kan ons nie minder venietigend wees nie. Ons kan op heel netjiese maniere die ander as sektaries, onredelik en obsessief afmaak met baie mooi, edele en verhewe woorde. Die gevolge kan net so sleg wees.

Iemand kom ‘n ruk terug na my. ‘n Besonder begaafde student wat buitengewone akademiese kwaliteite gehad het, maar op skool deur ‘n onderwyser deur ‘n paar eenvoudige sinne vernederend uitgebeeld is as ‘n dom kind. Vir die onderwyser was dit ‘n grappie. Vir die kind, onseker tiener, was dit ‘n hou in die hart. Vir dekades het hy, hoor ek met verbasing, met ‘n gekrenkte innerlike sy wonderlike insig en akademiese vermoë gering geag. Dit het ‘n hele terapie gekos om hom sover te kry dat hy kon vasbyt en aangaan met sy lewe. Ek hoor onlangs dat hy ‘n skitterende proefskrif geskryf het waarvoor sy eksaminatore groot lof gehad het. Grappige woorde waarin die ander “op sy plek” gehou word, kan lewens verwoes. En dit is dan net die baie sterk enkelinge wat uit sulke situasie kan uitgroei.

Vernietigende kritiek.

Tydens ons kontaksessie praat Waaijman oor ons “netjiese” kritiek op ander. Hy praat oor hoe ons met die een oog allerhande menslike oordele vel. Maar met die ander oog, die ander perspektief, sê hy, is die groot toets om jouself sover te kry dat jy vra: “Op watter manier, onbekend aan my, is God aan die werk in ander mense se geestelike reis.” Om “ordentlik” te sien, het jy albei oë nodig. As jy deur een oog kyk, mis jy die rykheid, die wonderlike verskeidenheid van God se weg met mens en die wêreld.

Ek dink diep oor sy woorde sedert hy dit gesê het: Met sy vier evangelies vier die Bybel byvoorbeeld verskeidenheid. En die Bybel is origens deurdrenk van hierdie goddelike perspektief op dinge. Paulus het my sy vroom oog en al die Christene vermoor. Petrus het met sy vroom oog en al die heidene hel toe gestuur. Totdat God hulle ‘n ander perspektief op dinge gegee het. En soms kan ons, menslik, ook deel hê aan hierdie korreksie – soos die Siro-Fenisiese vrou wat vir Jesus beweeg het tot ‘n ander perspektief op haar nood.

En terwyl ek dink aan die Lutherane, die Gereformeerdes, die N.G. kerk, die Hervormde kerk, die A.P.K., die A.G.S en die baie ander groepe wat op hul eie manier met God in ons land op pad is, meestal so anders as ons op ons eie geestelike reis, besef ek hoe min hierdie ander oog regtig sien omdat ons ons afsonder van hulle, hulle op ‘n afstand hou, hulle verdra, terwyl ons innerlik eintlik hoop hulle word soos ons. Ons het die groot, swart seerorwers-klap van vroomheid en eiegeregtigheid vierkantig op daardie “ander” oog geplak en daarom sien ons een-dimensioneel. Daarom is ons stiksienig. Daarom kan ons met sulke vernietigende, vroom kritiek, gekleed in die heerlike klere van ons eie goedheid, vorendag kom.

Levinas het in hierdie konteks vir my veel beteken met sy visie op die Ander as die een met die oneindige diepte by wie ek telkens weer nuwe, verrassende dinge ontdek.

Terwyl Waaijman hieroor praat en van die groeplede die gesprek voortsit, daari hy om en sê vir my, terwyl hy sy vinger kenmerkend in die lug optel, “geweld, né?” Wanneer ‘n mens nie meer God se werking in ander mense se lewens kan raaksien nie, het jy gewelddaig geword.

Jy kan iemand met ‘n panga en ‘n ysterstaaf doodslaan. Dikwels is die woorde wat ons uiter nie minder gewelddadig as daardie panga en ysterstaaf nie. Jy kan ‘n telefoon optel en die ander een bykom, te bang om jou eie identiteit te onthul. Geweld kan brutaal wees, maar dit kan, soos Foucault ons geleer het, hoogs gesofistikeerd wees. Dit kan so weggesteek wees dat ons dit self nie herken nie.

Daarom is die ondersoek van geweld vir my so belangrik.

Ek is dankbaar dat Buchan vir daardie skare soekende mans gevra het om nie negatief oor Suid-Afrika te praat nie.

Die tyd is ryp dat hierdie boodskap sterker uitgaan: ons moet nie net ophou om negatief oor Suid-Afrika te praat nie. Ons moet ophou om negatief te praat. Want dit is nie net ánder mense wat steier onder die geweld van ons negatiwiteit nie. Die geweldenaar, ék, óns, is self die grootste verloorder.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive