Saturday, April 24, 2010

Wat is spiritualiteit? Oor vier kernwoorde in Bybelse Spiritualiteit.



Hierdie skildery van Caravaggio (1605) met die titel: "Die dood van Maria" het groot opspraak verwek omdat dit so anders was as die tradisionele skilderye van Maria se dood. Gewoonlik het skilderye Maria baie "vroom" uitgebeeld as 'n besonder heilige wat met vet engele na haar dood hemel toe gekarwei word.

Caravaggio se skildery toon niks van hierdie uiterlike vroomheid nie. Sy werk is baie meer realisties en sober. Maria is dood. En tog - hier is geen huilende, histeriese mens nie. Die skildery teken eerder ingehoude rou en smart, met die gesigte van die omstanders wat eintlik weggesteek word, maar wat veral innerlike smart wys.

En tog - Maria word met 'n baie dun en fyn stralekrans uitgebeeld. Hier werk Caravaggio met 'n ander idee van "heiligheid" as sy voorgangers.

Dit is boeiend dat die monnikke van die klooster waarvoor die skildery bestem was, geweier het om dit in hul kerk op te hang! Dit word dikwels as een van Caraveggio se belangrikste skilderye beskou.



Spiritualiteit, volgens ‘n gewilde siening deesdae, is die verhouding tussen God en mens wat steeds weer verdiep.


In hierdie beskrywing gaan dit om veral drie dinge: ‘n God-mens verhouding, ‘n transformasie en ‘n proses. Dit is besondere woorde wat elkeen diepe betekenis dra.

Nietemin is hierdie ‘n baie algemene beskrywing wat eintlik van alle vorme van spiritualiteit geld. Christelike spiritualiteit sal ook hierdie eienskappe hê, maar ‘n mens sal nog meer spesifieke dimensies kan insluit by ‘n beskrywing van wat Christelike spiritualiteit is – soos byvoorbeeld dat dit die verhouding van die drie-enige God tot die mens is wat in ‘n noue verband met die Bybel as Heilige Geskrif staan.

Maar Bybelse Spiritualiteit sal nog meer dimensies toon as Christelike spiritualiteit of as spiritualiteit in die algemeen.

Ons kan Bybelse spiritualiteit, skryf Waaijman, veral verbind met vier grondwoorde wat in die Bybel voorkom. Hierdie vier staan in die hart van spiritualiteit.

As ‘n mens praat oor God se ontmoeting met die mens in al sy volheid soos wat ‘n mens dit in die Bybel leer ken, sluit dit die volgende vier kerngedagtes in:

1. Vroomheid (of godsvrug)
Hierdie sentrale woord kom dikwels in baie van die spiritualiteite in die geskiedenis voor vir God se eerste ontsagwekkende aanraking van die mens tot en met die eerbiedige voltooiing van die verhouding tussen God en mens in liefde.

2. Heiligheid
Wanneer God met die mens in ‘n verhouding tree, neem die mens vanaf die heel eerste oomblik al afskeid van sy of haar besoedelde lewe en die verhouding ontwikkel tot en met die mens uiteindelik heeltemal deurdring word deur God se suiwerheid.

3. Barmhartigheid
Wanneer God met die mens in ‘n verhouding tree, word die mens vanaf die eerste oomblik bewus van God se genade en hierdie bewuswording groei tot en met die mens totaal deurdrenk word van God se genadige oorvloed.

4. Volmaaktheid
Wanneer God met die mens in ‘n verhouding tree, ontvang die mens van God die goedheid waarvoor die mens van die begin af bestem was en die verhouding met God ontwikkel tot en met die mens volkome uitgroei in onselfsugtige liefde.

Elkeen van hierdie woorde belig die ryke verhouding wat daar tussen God en mens bestaan.

As ‘n mens dus wil weet hoe praat die Bybel oor spiritualiteit, moet ‘n mens aan hierdie vier kernwoorde vashou. Spiritualiteit gaan oor vroomheid, oor heiligheid, oor ontferming en oor volmaaktheid.

Dit is vier merkwaardige tema’s. Hulle is nie mooi, teologiese tema’s wat allerhande spitsvondige onderwerpe aanraak nie. As ‘n mens van hierdie vier sake hoor, dink jy onmiddellik aan iets prakties wat in die lewe geanker is en wat ervaar word – iets wat jy kan sien en hoor en voel en beleef.

Elkeen van hierdie woorde gee vir ‘n mens praktiese ‘n perspektief op spiritualiteit as beleefde geloof.

Dit is die moeite werd om hierdie tema’s van nader te bekyk – soos ek in die volgende paar dae wil doen. Hierdie vier tema’s help ‘n mens om baie konkreet oor spiritualiteit te dink. En om verby die oppervlakkige idee te beweeg dat spiritualiteit met stilte te doen het of ‘n algemene gevoel van vrede en geluk beteken. Spiritualiteit gaan oor baie meer - dus oor ‘n vroom mens, ‘n heilige mens, ‘n barmhartige mens en ‘n volmaakte mens.

Groot woorde vir ‘n lewensbelangrike saak.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive