Friday, April 02, 2010

Hoe goed kan Goeie Vrydag wees?


Dit is moeilik om op Goeie Vrydag die kruisboodskap tot sy reg te laat kom. Ons neig om verby die dag te wil kyk na Paassondag. Die opstanding word dan vir ons die eintlike dag van die Paastyd.

Maar die kruisdood van Jesus is nie ondergeskik aan die opstandingsdag nie. Dit is ook nie bloot ‘n dag waarop Jesus se lyding uiteindelik verby is nie. Daar sit in die kruis self ‘n magdom van betekenisse. Maar een hiervan is sekerlik dat die kruis die oomblik is waarop ons Christus in al sy heerlikheid herken.

Dit blyk die beste uit Johannes Evangelie. Vir Johannes, die evangelie van liefde, is die kruis die plek waar die Seun verheerlik word. Hy word opgehef – aan die kruis opgetel, maar, terselfdertyd verheerlik. Christus se “oplig” aan die kruis is reeds die oomblik wanneer hy verheerlik word. Johannes 3:13-14 vertel dit in ryk simboliese taal:

Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die Mens. Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die Mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

Ons verstaan die kruis korrek as Jesus se dood sodat ons die ewige lewe kan hê. Of, soos ons dit meer dikwels stel: Hy het vir ons sonde aan die kruis gesterf. Die kruisdood is óns bevryding, neem óns sondelas weg.

Dit is ‘n belangrike en wonderlike ervaring om te weet dat ons nie meer die slaaf van donkerte is nie.

Dis net so min om hier op te hou. Want dit gaan om meer.

Johannes 12:32 gee vir ons die dieper insig.

“En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek. Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe.”

Die kruisdood is in hierdie gedeelte nie bloot net die rede vir ons vergifnis van sonde nie. Wie sy of haar oog op die kruis hou, deel aan Christus se oorwinning oor die kwaad.

Maar kyk wat staan hier regtig: Deur die kruisgebeure word almal “na My” toe gebring.

Wat ‘n verborge werklikheid: Die geestelike reis eindig wanneer ons by Christus is. Hy en sy Vader. Dieselfde intieme verhouding tussen God en Seun is nou vir ons beskore. Die wegneem van die sonde is maar net die eerste, voorlopige stap na hierdie intieme verhouding met God.

Die kruis is so spesiaal omdat dit Jesus se hereniging met God verteenwoordig. Hy is by God, sy gees is in sy Vader se hande oorgegee, alles is volbring, sy taak is uitgevoer. En wie Hom volg, deel saam met Hom nou die teenwoordigheid van God. En Hy het hierdie taak volvoer sonder om ooit ‘n hand op te lig, kwaad te spreek of gewelddadig te word.

Dit is daarom dat Johannes die dood van Jesus so sag kan maak (sien ‘n vorige blog). Die kruis is maar die deurgang tot die Vader. Uiteindelik is Vader en Seun verenig.

Wat tel is nie hoe sondeloos ons nou is nie. Maar dat ons by Christus kan wees. In God se teenwoordigheid.

Dikwels het ek gewonder hoe kan 'n mens van "Goeie" Vrydag praat. En tog, vanuit Johannes Evangelie is dit moontlik. Die oomblik van verheerliking. En dan is Gauguin se "geel Christus" ook glad nie so vergesog nie (sien die skildery hierbo).

Goeie Vrydag – hoe goed is dit om by God te kan wees!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive