Wednesday, April 07, 2010

Skugterheid of skaam-wees

Ek onthou hoe lekker dit vir my was om hierdie gedeelte uit Henri Nouwen se Dagboek in Afrikaans te vertaal (sien hieronder).

Trouens, die hele vertaling van die Dagboek was 'n spesiale ervaring. Die titel van die vertaling was: Drie Minute Stilte op die Lewenspad. 'n Jaar se gedagtes oor wysheid en geloof.

Die boek se vertaling, wat ek tydens 'n heel moeilike tyd in 2000 gedoen het, het vir my op 'n spesiale manier geestelik verryk en my gedra.

Die wonderlike boek, vir my selfs meer waardevol as sy bekende werk oor die Gelykenis van die Verlore Seun, is tans uit druk en moeilik verkrygbaar. Ek self het nog net enkele kopie ë oor en ek staan hulle net af vir mense wat aktief in spiritualiteit belangstel. Die uitgewer het my al verskeie kere beloof om vir my nog kopie ë te laat kry, maar verbreek telkens hulle belofte.

[Later sou ek sy Terugkeer van die Verlore Seun vertaal het (sien die link hieronder), wat wel nog beskikbaar is.] Ek kry nog heel dikwels terugvoering van mense wat vertel hoedat hierdie boek 'n impak op hulle lewens het.

Die vertaling van die Dagboek was vir my 'n heel spesiale ervaring - amper nog meer as die een oor die Verlore Seun. Die ironie vir my was nog altyd dat ek twee keer Besoekende Navorser aan Yale Universiteit was toe Nouwen daar klas gegee het. Ek het gehoor van hom en van sy volgepakte lesings. Maar ek het hom nooit gaan luister of ontmoet nie. Later, na sy dood, sou ek twee van sy boeke in Afrikaans vertaal.

Sy dagboek is eintlik 'n jaar se dagstukkies oor die Apostoliese Geloofsbelydenis. As 'n mens dit weet, kry die boek selfs meer waarde. Dit word in 'n sekere sin 'n spiritualiteitsboek wat in die teologie geanker was. Maar die boek is allesbehalwe geleerde vroomheid.

Nouwen was 'n komplekse mens, maar hy het 'n skerp insig en 'n sensitiewe lewensgevoel gehad. Dit blyk uit die onderstaande dagstukkie waarin hy die gevoel van skaamte wat baie mense ervaar en wat hulle self dikwels verwens, omdraai en daarvan 'n deug maak. Daar is iets van Levinas se oneindige verborgenheid in die Ander wat in die stukkie na vore kom. Dikwels ontdek ons in skaam mense die mooiste van mooi lewens. Hulle is net nie mense wat hulle mooihede onbeskroomd aan ander kan uitstal en opveil nie.

Ek onthou dat ek gehou het van die woord "skugterheid." Dit is 'n pragtige woord vir iemand wat nie afwyserig, selfs spontaan is nie. Dit is mense wat 'n eie ruimte het wat hulle nie sommer vir ander kan oopstel nie. Dit is asof hulle nodig het om op hul eie stil te wees, sonder geraas van indringers en nuuskieriges.

1 April

Die skoonheid van skugterheid

Daar is iets moois omtrent skugterheid, hoewel men¬s¬e ge¬woonlik negatief daaroor voel. Om die waarheid te sê, ons samelewing spoor mense aan om eerder reg¬uit te wees, me¬ns¬e vas in die oë te kyk, openlik ons gedagtes uit te spreek, en oor onsself te praat sonder om te bloos.

Maar hierdie ontbloting van jouself sonder om 'n spiertjie te rek, die houding van om sommer vir enigeen jou hele storie te vertel, word gou vervelig. Dit word soos 'n boom son¬der ’n skaduwee.

Skugter mense, daarenteen, het lang skaduwees, waar hulle baie van hulle mooiheid wegsteek van die indringer se blik. Skaam mense herinner ons aan die geheim van die lewe wat nie sommerso, op ’n simplistiese manier, verduidelik of verwoord kan word nie.

Skugter mense nooi ons uit tot vriendskappe waarvan eerbied en respek vir mekaar se privaatheid ’n belangrike komponent is. Hulle nooi ons uit tot kosbare oomblikke van woordelose samesyn in liefde.



BESTEL NOUWEN SE DIE TERUGKEER VAN DIE VERLORE SEUN DEUR HIER TE KLIEK




Die terugkeer van die verlore seun: 'n Ware verhaal oor tuiskoms


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive