Thursday, April 01, 2010

God se droom vir die wereld. Oor die einde van geweld.






Hierdie skildery van Picasso is een van die beroemdste Spaanse kunswerke en een van die beroemdste kunswerke van ons tyd. Daar is min mense wat nie daarvan weet nie en 'n mens besoek nie Madrid sonder om daarna te gaan kyk nie.

Picasso het dit geskilder na die bombardering van die Baskiese stad, Guernica. Die skildery, Guernica, is vernoem na die stad en hang vandag in Madrid.

Wikipedia het ‘n interessante artikel oor die skildery – en die meegaande foto is in hulle artikel opgeneem (http://en.wikipedia.org/wiki/Guernica_%28painting%29).

Daar is in ons wêreld ‘n groot beweging teen geweld aan die gang. Hierdie skildery is ‘n belangrike simbool van daardie stryd. ‘n Mens kan ons tyd nie verstaan as jy nie oor hierdie skildery nadink nie.

Vir my is die skildery aangrypend mooi omdat dit so grafies lyding uitbeeld. Terselfdertyd is dit ‘n sterk protes teen geweld en die oneindige lyding wat dit oor mense bring.

Die stad is deur Duitsers gebombardeer. Hulle het massiewe bomme daarop gegooi. Hulle het dit terselfdertyd gesien as 'n eksperiment om hul wapens te toets. Die paniekbevange inwoners het na die markplein gevlug want die uitgangspaaie was versper gewees. Hulle kon nie uit die stad wegkom nie. Genadeloos is met die bombardering van hierdie onskuldige burgers volhard.

Net twee dinge uit die skildery ter nadenke or die paastyd: aan die linkerkant is daar ‘n figuur van ‘n vrou (die treurende vrou word in Picasso se werk ‘n herhalende motief) wat rou oor haar kind. Dan is daar aan die onderkant van die skildery ‘n figuur van ‘n gevalle soldaat. Op sy oopgestrekte hand is daar die simbool van die stigmata van Christus (die lydensmerke) wat hom as ‘n martelaar uitbeeld. In sy ander hand is ‘n gebreekte swaard waaruit, aangrypend, ‘n blom opkom.

Die skildery wat mense se angs uitbeeld en vertel van die verskriklike gevolge van geweld, het ook sy elemente van hoop. Maar dit is ‘n skildery wat vir my in die lydenstyd bybly: Die kruisverhaal is die verhaal van die geweld van goeie mense teen die Goeie Mens. Goeie Vrydag wil ons herinner hoe maklik ons, veral as ons godsdienstige is, ander vernietig. En tog, dit is die dag wat ‘n mens herinner dat die Lam wat geslag was, selfs in die dood die oorwinning behaal het – deur bloot net reeds nie geweld met geweld te beantwoord nie. En wat vir sy vervolgers gebid het.

Geweld is so totaal sinloos. Want nie net word die ander een vernietig nie, maar die geweldenaar vernietig homself of haarself.


Op Goeie Vrydag word ek herinner aan God se droom vir ons woonplek - dat dit 'n huis sonder geweld vir almal sal wees.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive