Friday, April 23, 2010

Drome droom...



Hierdie skildery oor Josef wat sy droom aan sy broers vertel, is geskilder deur Rafael.

Vanoggend praat die Minister van Landbou en ‘n vooraanstaande Afrikaanse boer as landbouer en as verteenwoordiger van Afri-forum oor die Afrikaanse radio as die twee altejee-gaste oor plaaswerkers. Dit is twee indrukwekkende mense en as dit van hulle afhang het ek onuitputlike hoop vir ons land.

Daar is twee organisasies in ons land wat vir my besonder beïndruk. Die een is Afriforum met hul uitmuntende leiers. Elke keer as ek na een van hulle luister, hoor ek die beste aan mense-materiaal wat ‘n mens sou kon bedink. Dit is mense wat graag die beste vir ons land wil hê. (Die ander forum is Solidariteit met hulle besondere leiers). Ek is dikwels dankbaar vir hulle onblusbare ywer om vir boere in ons land ‘n beter bedeling te jaag.

Ek luister na die program met kommer. Dit is eintlik hartseer om te hoor watter misverstande verhoudinge in ons land beduiwel en hoe onnodiglik mense harde vooroordele teenoor mekaar koester. As ons maar net meer dikwels met mekaar kan kommunikeer en bymekaar kan wees in vertroue.

Daar is baie gedagtes wat by my bly nadat die onderhoud afgehandel is. Maar meer as alles bly by my ‘n opmerking draal wat die Minister maak. Sy vertel dat sy dikwels met plaaswerkers se gesinne kontak maak. Dan, vertel sy, vra sy vir hulle wat die droom is waarna hulle streef. En, vertel sy, dan ontdek sy met skok dat hulle vraend na haar kyk. Hulle dink nie eers aan drome nie.

Al die heel dag bly hierdie opmerking by my.

Van kleins af vra ons: “Wat wil jy eendag word?” En dan sê boetie hy wil ‘n brandweer-man word of ‘n ruimte-reisiger of ‘n swembad-opsigter” – tot ons groot pret. Jaar na jaar verander boetie se drome. Maar altyd is daar ‘n toekoms om na uit te sien en drome wat verwesenlik moet word. En ons ken almal “the Great American dream” – daardie metafoor wat wys op die wêreld wat deesdae vir almal oop is vir die hoogste drome om vervul te word.

Julle jongelinge, skryf die Ou Vertaling, sal gesigte sien. Selfs julle ou mense sal drome droom. (Hand.2:17).

Ek dink vanaand aan so baie van die mense wat ek ken as spesiale mense wat stil-weg gehelp het dat hul familie, hul werkers of dié wat dit nie kon bekostig nie, universiteit toe kon gaan en daardeur hul drome kon vervul. Ek onthou uit my eie lewe: oom Salie Louw, leier-ouderling, waardige ou gelowige, self nie hoog geleerd nie, maar deurtrek met lewenswysheid, wat my destyds toe ek universiteit is, spesiaal kom opsoek het, ‘n noot of wat in die hand kom stop het en kom moed inpraat het vir die studie wat wag. En daar was baie ander soos hy wat in die volgende jare iewers stilweg vir my op dieselfde manier sou ondersteun. En altyd was daar ook soveel ander wat wou weet hoe gaan dit met my studies en wat ek wil doen as ek klaar is. Dit was mede-reisigers wat verwonderd was oor jongmense wat drome gedroom het en wat gehelp het om hulle drome te verwesenlik. Ek was nie net ‘n dromer nie, ek was deel van ‘n gemeenskap wat gedroom het.

Hoe bevoorreg is ons nie.

Ek wens dikwels dat ek vir hulle almal weer dankie kon sê – nie soseer vir die materiële ondersteuning nie. Maar dat hulle my laat voel het ek loop die pad van my drome nie alleen nie. Hulle is lank nie meer daar nie, maar in my dra ek ryke herinneringe aan mense wat vir my omgegee het terwyl ek my drome gejaag het. In my jonkheid het ek nie besef hoe edel hulle is en hoe spesiaal hulle was in die blote feit dat hulle my laat droom het en my in my drome kom steun het nie. Vandag besef ek watter diepe waardes en watter ryke spiritualiteit lê weggesteek agter die eenvoudige gebaar van ondersteuning aan ‘n jong seun of dogter wat die lewenspad aandurf.

Hulle het geweet hoe ryk ons wêreld is as mense hul drome kan bereik.

Ek loop al die heel dag en wonder oor die donkerte rondom ‘n kind wat nie kan droom nie. En ek dink daaraan hoe ons deesdae ons kinders by voorbaat met ons negatiwiteite van hul drome beroof en laat wanhoop aan hul toekoms.

Maar, besef ek ook deur die dag, hoe geseënd ons is in hierdie land van ons wanneer ‘n minister van landbou na die armstes van armes gaan en vir hulle, wat geen toekomsverwagting het nie, vra watter drome hulle vir hulleself het. Dit sê mos iets van haar. En dalk net het sy al in die kinders iets wakker gemaak. Dalk dink hulle vir die eerste keer daaraan dat hulle ook die reg het om te droom én om daardie droom waar te maak.

Wat is daar meer edel as wanneer iemand ons kinders weer laat droom....

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive