Saturday, April 03, 2010

Wanneer die kruis op ons lewens beslag lê

Ek het Goeie Vrydag nagedink oor die kruisdood van Christus en besef dat ons te maklik die dood van Christus sien as “instrument” waardeur ons sondevergifnis ontvang. Die dood van Jesus aan die kruis behels veel meer as dit.

Dit is ook die oomblik dat Christus se lyding verby is, dat Hy, in die woorde van Johannes, verheerlik word en sy intieme verhouding met God herstel word. Nou, só verborge, is Jesus weer by God – verhef in heerlikheid. Johannes kan nie genoeg vertel van Jesus wat uiteindelik deur die kruis met sy Vader verenig word nie.

Dit beteken natuurlik nie dat die band tussen die kruis en sondevergifnis minderwaardig is nie. Die kruis is inderdaad Christus se sterwe in ons plek. Ons word deur die plaasvervangende lyding van Christus bevry tot ‘ n nuwe lewe. Niks staan meer in ons pad om in vryheid te leef nie.

Maar ook dit is té min, want die kruis van Jesus integreer ons hele lewe met die lewe van Christus. Om maar net die kruis met sondevergifnis te verbind, is byvoorbeeld om die omvang van die goddelike liefde as die dieper mag in Jesus se kruisoffer mis te kyk. Ons lewens word in Christus deel van God se liefdesweg – en daarom inspireer die kruis ons om die God van liefde met ‘n lewenspassie lief te hê. Met ons hele lewe, al ons kragte en met totale toewyding moet ons die weg wat God vir ons in die kruis uitwys, loop. Goeie Vrydag wys byvoorbeeld vir ons op ‘n heel merkwaardige manier die pad van geweldloosheid. Want God se liefde was so grensloos dat dit nooit teruggeslaan het nie. Dit het ook die houe, selfs die indryf van die spykers en die wond in Jesus se sy, verduur sonder om ‘n vuis op te tel. Ons lewens word deur die kruis in hierdie geweldlose kruisweg geïntegreer. Ook ons leer die houding van om die wang te draai, om die ekstra myl te loop. Dit is hoe die kruisweg van Jesus lyk. En daar is vele ander dimensies aan God se handeling in Jesus se kruisdood.

Ons hele lewe in al sy baie fasette word deur die kruis getransformeer. En dit raak veel, veel meer as sondevergifnis.

Wat dit behels, kan nie in reseppies uitgespel word nie. Dit vra van ons om na die kruis te gaan met die een durende, aanhoudende vraag: as ek die kruishout gadeslaan, wat doen dit aan my lewe?

Hierdie self-implikasie sal baie nuwe antwoorde vir elke gelowige se individuele lewe bring. Wat dit vra is dat ons deel neem aan en oop is vir wat die kruis aan ons doen.

Hier is ‘n stuk van Alaric Lewis (uit die Seisoen van Heling) wat die versmelting van die kruis met ons lewens onderstreep.

8 April

“Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars.”

Matteus 27:53

Dit is die verhaal van een mens, maar terselfdertyd ook die verhaal van die hele mensdom. Dit is ‘n verhaal wat gaan oor wat gebeur het iewers in ‘n afgeleë deel van die wêreld, maar tog is dit ‘n verhaal wat die wêreld nie kon hanteer nie. Dit is ‘n storie, die tragedie wat die engele van God laat treur het, maar hulle tog ook jubelsange laat sing het wat deur die eeue heen om die wêreld heen gehoor is. Dit is ‘n ingewikkelde, verweefde verhaal, maar tog is dit ‘n aangrypend eenvoudige vertelling oor liefde. Dit is die verhaal van Jesus Christus, en dit is tog ook ‘n verhaal oor ons: die storie van ons verwagtinge, ons smart, ons verlangens, ons lewens. Dit is net deur hierdie storie dat die verhaal van óns lewens enige betekenis het. Dit is hierdie verhaal wat ons maak tot wat ons is. Daarom moet ons alles daarvan op ons laai – ons pyn, worstelinge, rou en hoop – en opgaan na Jerusalem met die Here sodat ons eie storie kan deelhê aan sy verhaal.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive