Wednesday, April 14, 2010

Spoor...









Die Vrystaat is op sy mooiste. Dit het baie gereën - milde genade op hierdie dankbare aarde, wat die genade antwoord met 'n kleed van geil groenheid.

En by Menuah, waar ons vir ons kursus se kontaksessie bymekaar is, sien ek dus vir die eerste keer ‘n reuse-dam wat na hierdie oorvloedige reën gevorm is. Die vorige kere wat ons daar was, was daar niks.

Vanoggend het ons ‘n oggend-byeenkoms in die kapel. Dit is ‘n rustige diens, aangebied deur een van die studente en begelei met allermooiste stemmingsmusiek.

Ons is stil, binne ons, omring deur die groter stilte in die plek om ons.

Die Vrystaat is stil. Snags is dit net die nagstilte wat op jou oor rus, met so af en toe ‘n dier wat proes of blaas of sis. Of, een keer, hoor ek die trein oor die vlaktes jaag. Minuut na minuut na minuut klink die voortrollende trein se geluide deur die nag.

Maar die kapel, geleë op ‘n koppie, was vanoggend die plek van totale skoonheid. Die woorde van die oordenking wat ligweg op die oor kom lê, die Taize-musiek in sy eenvoud, die wye panorama deur die glasvenster op die koppies en die dam.

En dan, skielik vang my oog die eend wat miniskuul klein oor die dam vlieg terwyl sy stert ‘n wit stroom agter hom laat opwip. Die brandertjies maak ‘n wit lyn wat blitssnel oor die water uitskiet.

Hier, met die toneel voor my, besef ek, sien ek eintlik die spoor van God. Die volheid van hierdie oggend, by my geskep deur die kapel-byeenkoms, vorm ‘n eenheid met die natuur se getuienis oor God. Die afronding is totaal - God met ons.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive