Sunday, September 30, 2012

Abe




Ek het Abe Malherbe in die tagtigerjare leer ken. 

Hy was toe professor by Yale Universiteit in New Haven. Later was hy, tot met sy aftrede, die Vise-dekaan van die Teologiese Fakulteit (oftewel, die Divinity School).

Dit was werklik 'n invloedryke posisie by een van Amerika se belangrikste universiteite.

Abe is as 'n jongman uit Suid-Afrika weg om in Amerika te gaan studeer. Hy het 'n suksesvolle loopbaan gehad wat hom een van die bekendste figure in die Nuwe-Testamentiese vakgebied gemaak het. 

Sy kommentaar op die Tessalonisense Briewe in die Anchor Bible kommentaar-reeks is 'n monumentale stuk werk. 

Maar altyd weer het sy vriendskap met Suid-Afrikaners en veral Suid-Afrikaanse teoloë op vele maniere na vore gekom. Hy het ons steeds met ope arms by Yale en aan huis verwelkom, vir ons geleenthede gegun en nooit laat wys dat hy afstand wil hou van 'n land wat vir dekades lank die muishond van die wêreld was. Hy was groter as politieke korrektheid. Hy het aan sy amp dekorum en inhoud gegee. Sy amp het hom nie gemaak nie.

Hy het twee keer dit vir my moontlik gemaak om as navorsingsgenoot by Yale te gaan werk. 

Hy het 'n groot invloed op my gehad, want hy het my oë oopgemaak vir die Grieks-Romeinse wortels van die Nuwe Testament. Maar ook sy nugterheid, sy akademiese skerpheid en sy ryke kennis het my steeds beïndruk.

Ek onthou hoe hy, kort nadat ek die geskiedenis van die NTWSA op versoek van die bestuur vir Neotestamentica geskryf het, uit die bloute 'n onverwagte briefie van hom gekry het. In die twee artikels het ek, onder ander, geskryf oor hoe moeilik Nuwe-Testamentici in ons land oor dekades heen onder die apartheidsjare gely het. Tuis was ons nie deel van die establishment nie - die NTWSA was altyd 'n oop organisasie wat nie op rasgronde opgestel is nie - en ons het 'n prys daarvoor betaal. In die buiteland is ons dikwels onwelkom laat voel, bloot net omdat ons Suid-Afrikaners was. 

Hy het vir my geskryf hoeveel waardering hy vir die inhoud van die artikels gehad het. 

Ek dink hy was tevrede dat die volle prentjie uiteindelik op skrif gestel is. 

In September, in Leuven, het ek nog kans gekry om lekker met hom te gesels toe ek die byeenkoms van die SNTS bygewoon het. Aan sy sy was Phyllis, sy vrou van baie jare. Soos van ouds was hy vol humor, wonderlike stories en die ene spontane toegeneentheid. Soos altyd wou hulle albei al die nuutste familie-nuus van ons hoor en met ons deel. 

Ek onthou hoe hy my vertel het dat dit met hom goed gaan en dat hy gesond voel.

Vanaand kry ek berig dat Phyllis, pas terug van inkopies, hom leweloos agter sy lessenaar aangetref het. 

Dit is vir my asof ek 'n mentor en pa verloor het. 

Sonder om te kon groet. 

Dit is miskien wonderlik om 'n mens se lewe so te kan afsluit, sonder lyding en swaarkry. 

Maar dit maak die skok van 'n onverwagte afskeid erg.

Ek sou graag darem net weer vir hom wou dankie sê vir al die kere wat hy vir my deure oopgemaak het, vir die baie male dat hy vir my en my familie goed was - op sy doodnugtere, stil, vriendelike manier. Ek sou graag weer vir hom wou dankie sê vir die akademiese wêreld wat hy met my en ander kollega's uit ons land gedeel het. Ek sou vir hom wou dankie sê vir sy humor. 

Ek eer die nagedagtenis van 'n besondere mens. 




Blog Archive