Tuesday, September 18, 2012

Vreugde - oor die wet!


Vreugde, vreemd genoeg vir huidige lesers van die Bybel, word in die Ou Testament sterk met die wet verbind.

Vir mense wat nie hou van ‘n “wettiese” lewenstyl en van moraliste wat vashou aan allerhande reels en regulasies nie, is dit byna ondenkbaar dat ‘n mens in die wet vreugde kan vind.

En mense wat Galasiërs lees, het nog teologiese rede’s ook om die wet op 'n afstand hou: Paulus waarsku, dink hulle, dat ‘n mens die vryheid wat in Christus aan mense geskenk is, kan prysgee vir ‘n hernude lewe onder die wet.

Maar in die Ou Testament het gelowiges ‘n groot vreugde in die onderhouding van die wet gehad. Kyk maar, skryf Barton, na Psalm 119:14-16 se uitbundige vreugde:

“Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld. U bevele bly my altyd by. Ek gee ag op die pad wat U aanwys. Ek verlustig my in u voorskrifte. U woord vergeet ek nie.”

Hier moet 'n mens goed lees: die vreugde is nie bloot maar net in die voorskrifte van die wet nie, Direk praat die Psalmdigter met God in die tweede persoon: 

Eintlik gaan dit om vreugde in God, die gewer van die wet.

‘n Mens word getref deur die fokus op die “U” in hierdie gedeelte. Die een wat die wet onderhou, wil alles wat God begeer, nastreef. Die hart en sy blydskap is verbind aan “U verordeninge”, “U bevele”, “die pad wat U aanwys”, “u voorskrifte”, “u woord.” “U” staan in die sentrum en word die hart van die saak.

Hier is die vreugde groot omdat die mens se lewe ingestel is en in lyn is met die wil en die weg van God. Dit is nie bloot die wet nie, maar die wet wat van God kom, wat saak maak. Die wet vertel van God se begeertes, waarna God verlang.

Die een wat die wet onderhou, doen dit om deel te kry aan wat God vir die skepping en vir die mens wil. Deur God se wil te doen, kom die beeld van God al hoe sterker in die mens na vore. Op die manier deel ‘n mens in die lewe wat God begeer.Die wet bring 'n mens nader aan God.

Deur hierdie ingesteldheid word die mens se lewe gevorm deur die verhouding met God. Deur aan God verbind te wees, word alle kante van ‘n mens se lewe gereinig, gesuiwer en geheilig.

Om die wet te gehoorsaam, bring ‘n diepe sin van vervulling. Dit is rede tot blydskap.

Blog Archive