Sunday, September 02, 2012

Die geestelike krag van die Bybel.








Origines was een van die beroemdste kerkvaders. Sommige kundiges dink hy is naas Augustinus die belangrikste van hulle almal. Moderne eksegete lees hom met voorbehoude omdat hy bekend is as iemand wat sterk van allegorie in sy Bybel-uitleg gebruik gemaak het.

Maar vir hierdie kerkvader was die Bybel veral ‘n boek wat lewe gebring het en hy het boeiende insigte oor die krag van die Woord gehad. 

Hy lees die Bybel as ‘n teks waarin ‘n mens die woord van God sal vind. Die woord is egter op ‘n verborge manier in die Bybel teenwoordig. ‘n Mens kan op die menslike kant van die Bybel fokus, maar kerkvaders soos Origines wou eerder verby die bloot menslike kant deurdring tot die woord van God waaroor die mense-woorde gegaan het.

Hoe moet ‘n mens nou hierdie verhouding tussen mense- en goddelike woord verstaan?

Wanneer ‘n mens Jesus ontmoet, is dit, skryf Origines, duidelik dat die mens Jesus vir ons sy goddelike karakter openbaar. Net soos Jesus vir ons na God wys, net so het die Bybel met God se woord te doen.

Die mense-woorde van die Bybel vertel van God se woord. Maar God se woord kan nooit ten volle deur mense verstaan word nie. Daarom is ons gedurig weer besig om God se woord beter te begryp en te peil.

Origines voeg egter iets by:  ‘n mens kan nie bloot net die Bybel wil “ontsyfer” nie – asof ons maar die inhoud en idee’s daarvan moet begryp nie. ‘n Mens lees eerder die Bybel met die oog op geloofsvorming. Die Bybel as Woord van God wil die bestaan van die mens transformeer. Dit raak jou geestelike welsyn en nie net jou brein nie.

Wanneer ‘n mens die Bybel op die manier lees, het dit ‘n impak op jou lewe. Dan is die Bybel kragtig aan die werk en bring dit ‘n mens tot ‘n dieper en meer toegewyde verhouding met God. Dit beteken dat die Bybel ‘n mens se bestaan omkeer en vernuwe. Dit is lank nie net bloot ‘n kwessie om sekere dinge van God en oor God beter te verstaan nie.

Paul Decock skryf hieroor ‘n interessante opmerking: in die Bybelwetenskappe is daar ‘n nuwe rigting: eksegete lees die Bybel as ‘n teks wat steun op tekste en nuwe tekste skep. Openbaring, in die Nuwe Testament, kan ‘n mens nie verstaan as ‘n mens nie sien hoe dit die profete soos Esegiël, Jesaja, Sagaria en Daniël gebruik het nie. Die boek Openbaring het weer vele ander later tekste tot gevolg gehad, soos uit die apokriewe tekste blyk.

‘n Mens kan hierdie nuwe studie-rigting nuttig gebruik om meer van die Bybel te “verstaan”. Dit is een ding om te sien hoedat daar in die Bybel vele ou tradisies is of dat die Bybel gebruik is om nuwe boeke te skryf. Om dit te verstaan, is om die omstandighede van die Bybel in Bybelse tye beter te beskryf. Maar op die manier kom ‘n mens nog nie uit by die verborge dieptes van die Bybel nie. Al die insigte word waardevoller as dit ons help om te sien dat God op een of ander manier aan die werk is deur die Bybel en in die Bybel – nie net met mense in ou tye nie. Ook die moderne leser kan die krag van die Bybel ervaar wanneer hy of sy deur die lees van die Bybel bewus raak hoedat hul geloof gevorm en vernuwe word.

Hieroor nog iets meer.

Blog Archive