Sunday, September 16, 2012

Soms is dit nodig om kwaai te wees. Soms moet 'n mens uitstyg bo die kleinlike. Oor die gawe van onderskeiding


Paulus staan dikwels bekend as die kwaai apostel wat sy opponente lelik kan bykom. Soms lyk dit asof hy selfs oorboord gaan in sy heftige teenkanting teen mense wat van hom verskil.

Neem byvoorbeeld sy brief aan die Galasiërs. Daarin verwerp hy die boodskap van ander gelowiges wat die Evangelie verkondig het. Hulle “Evangelie” is nie ‘n Evangelie nie (Gal.1:6-7). Die mense wat daardie boodskap verkondig is, skryf hy, vervloek en dwaas (Gal.1:8-9; 5:10). Sterk en kwaai is Paulus se kritiek teen hierdie mense.

As ‘n mens aan die ander kant Paulus se brief aan die Filippense lees, is Paulus heel anders teenoor mense wat van hom verskil. Volgens Filippense 1:15-18 is daar mense wat Christus uit afguns en naywer verkondig. Hulle motiewe verskil van ander predikers wat deur die liefde gedryf is. Maar, skryf Paulus, ten spyte van al die verskille en van die bedenklike motiewe van sommige, is die belangrikste dat Christus verkondig word.

Filippense is die brief van liefde en vriendskap geskryf deur Paulus in moeilike omstandighede op ‘n laat stadium van sy lewe. Al is mense nie altyd suiwer in hul motiewe nie, is die belangrikste dat die egte Evangelie gehoor word. In Galasiërs is dinge anders: Paulus is die jong prediker wat die boodskap van bevryding in Jesus moet beklemtoon. Niks moet gebeur wat mense van die Evangelie afsny nie.

In albei gevalle, sien ‘n mens tog, is die belangrikste dat die lig van Christus se lewe en boodskap onaangetas bly.

En tog: selfs al verstaan ‘n mens dat Paulus kon sien en kon onderskei wanneer om mense aan te vat, bly die verskil opvallend. Paulus is die mistagoog, die een wat mense op hul geestelike weg begelei en wat daarop ingestel is om hulle tot geestelike volwassenheid te bring. In die proses kan hy self buigbaar wees, verdraagsaam, akkommoderend. Ander kere weer vreesloos. Maar steeds weer gaan dit om die geestelike welsyn van mense wat saam met hom die geestelike weg loop.

Blog Archive