Saturday, September 01, 2012

In die gloed van God se lig.




Lig is ‘n belangrike simbool in Bybelse tekste.

Dit besef ek weer by die lees van Psalm 36: Iemand noem vers 10 een van die mooiste verse in die Bybel: “Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig”.

Vir vorige geslagte en vir vele spiritualiteitskrywers was die uitdrukking van groot waarde: “in u lig sien ons die lig”.

Mens-wees beteken om te lewe. Die menslike bestaan is ten nouste met lewe verbind.

Maar terselfdertyd is mense altyd weer bewus daarvan dat ‘n mens lewe ontvang. Dit is ‘n gawe wat uit God se hand kom: God is die fontein van die lewe. Dit wat ‘n mens tot mens maak, kom van God. Wie leef uit hierdie wete, ontdek sin.

As die lewe kosbaar is, des te meer omdat dit van God af kom.

Dit word op ‘n ander manier verduidelik wanneer die Psalmis byvoeg dat mense lig sien in God se lig.

Al die donkerte wat ‘n mens gevange hou, al die sinloosheid wat ‘n mens ervaar, word begrens en bevraagteken deur die lig wat ‘n mens ontvang wanneer ‘n mens in God se teenwoordigheid is en leef.

Die Bybel is uitgesproke oor die feit dat die mens nie die slaaf van donkerte is nie, maar steeds weer in volle, helder lig woon. Matteus 13:43 vertel van die lig van God wat oor mense kom: “Dan sal die regverdige skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader.” Wie in God se teenwoordigheid leef, is bevry van die duisternis en leef lig. 

Ek is, roep Jesus uit, die lig van die wêreld. 

God se lig word in Bybelse taal besonder dinamies uitgebeeld. Die Pauliniese brief, 1 Timoteus 6:16, probeer God se lig verduidelik: God, skryf die vers, besit alleen onsterflikheid en bewoon ontoeganklike lig wat geen mens gesien het of kan sien nie.

God se lig is te groot vir mense. En tog woon mense in die lig!

Hoe anders, hoe volmaak, hoe spesiaal is die moontlikhede wat vir mense oopgaan wanneer hulle ‘n verhouding met God aanknoop. Dit is, wil die Bybelse tekste uitdruk, verbysterend hoe ryk die lewe kan word. As ‘n mens dit maar as ‘n goddelike gawe sien wat alles wat die allerbeste is vir die mens wil laat toekom. Mense wat God lief het, leef in Goddelike lig.

Spiritualiteit besef te goed dat die transformasie wat die mense ervaar te danke is aan Iemand en Iets ver bo en buite die mens self. Juis omdat God Lig is, is die verhouding met God ‘n liefdesverhouding wat ‘n mens in sy of haar diepste wese belig en deurspoel.

Lig wat donkerte uitdryf, lig wat ‘n mens se pad uitwys, lig wat helder en warm skyn – dit is wat God is vir mense. Aantreklik, boeiend, maar ook verborge: dat mense, skepsels, so hoog kan word - deel van God se hoë goddelike lig.


Blog Archive