Wednesday, September 12, 2012

Met die Bybel deur die woestenye: in gesprek met die Woord.


Dit maak ‘n verskil hoe ‘n mens die Bybel lees as ‘n mens in ‘n verhouding met God leef.

Anders as in die kille wetenskap, lees ‘n mens nie die Bybel bloot om dit te interpreteer nie. ‘n Mens, sê die woestynvaders al eeue terug, lees die Bybel om die verhouding met God te verdiep. Die Bybel is die ewige voedsel wat die honger om God versadig.

‘n Mens tel nie die Bybel op en bestudeer dit nie.

Die Bybel is ‘n gespreksvennoot. Gedurig praat die Skrif met mens en gedurig vra die mens weer aan die Woord sy of haar lewensvrae.

Deur die gesprek met die Bybel soek ‘n mens dat alles wat ‘n mens daarin lees, in jou lewe beliggaam moet word. Die heiligheid van die Skrif word ‘n realiteit in ‘n mens se lewe.

Daarom het die woestynvaders die Bybel gememoriseer. Waaijman praat van die ruminasie van die Bybel. Soos ‘n mens die woorde van die Bybel in jou mond, in jou geheue herhaal en proe en praat, so word dit deel van jou lewe. Die woorde word herkou.

Om naby aan God te wees, om heiligmaking te jaag, beteken ‘n mens wil gedurigdeur hierdie woorde van Bybelse tekste opsê, prewel.

‘n Mens soek nie slim na allerhande nuwe betekenisse in die Bybel nie – so vertel Green – maar soek om die woorde deel te maak van jou lewe. Die woestynvaders leef in uiters barre, gevaarlike en harde omstandighede. In hierdie harde lewe moet hulle gedissiplineerd leef, hul emosies beteuel, oefen om vir ander om te gee en konsentreer om die regte besluite te neem. In hierdie moeilike omstandighede moes die antwoorde, in Bybelse taal, uit hulle binneste opkom as ‘n fontein van die lewe. Dit het daar in die binneste gekom alleen maar deur gedurig in die Bybelse taal te leef. Wie versigtig luister, sal verander word. Die heiligheid van God se dinge word die heiligheid van die leser se lewe.

Die Bybel word gelees met hierdie doel voor oë – om in ‘n verhouding met God versterk te word, want wie daarin sterk is, kan woestenye deurkruis.

Blog Archive