Saturday, September 15, 2012

Teenwoordig in afwesigheid. Oor die mistieke antifrase


In spiritualiteit word soms gepraat van die "mistieke antifrase" om na te dink oor die geestelike weg. Dit is 'n onbekende begrip, maar dit is 'n uitdrukking wat groot waarde inhou vir 'n baie algemene aspek van mense se geestelike lewe: Dikwels praat mense oor die donker, minder opwindende tye in hul lewens as 'n groot kwelpunt. Hoewel hulle ‘n verlange het na ‘n vervullende geestelike lewe, ervaar hulle eerder ‘n geestelike droogte.

Hieroor voel hulle skuldig. Asof geloof net altyd goeie tye moet inhou.Vir sommige bring dit wanhoop en intense gevoelens van mislukking.

In vele gevalle het hierdie negatiewe ervarings egter 'n spesiale dimensie. ‘n Mens kan dit heel eenvoudig verduidelik aan die hand van die geskiedenis van die Emmausgangers.

Die twee dissipels van Jesus is droefgeestig. Na die goeie tye saam met Jesus, was daar sy kruisiging en dood. Dinge, het hulle gevoel, het heeltemal skeef geloop. Met ontstelde harte gaan hulle daarom terug na hul ou bestaan, na Emmaus. Dit is waar hulle vandaan gekom het voordat hulle Jesus gevolg het. Hulle, voel dit vir hulle self, is terug by die ou paaie.

Tog kan hulle Jesus nie vergeet nie. Hulle bly praat oor Hom, al is dit in ‘n donker, negatiewe sin van die woord.

In die geval van die twee Emmausgangers is dinge nogal anders: Jesus sluit by hulle aan terwyl hulle op reis is. Hulle is in die teenwoordigheid van Jesus. Maar hulle herken hom nie.

Later sou hulle verduidelik dat hulle tydens hulle gesprek met Jesus gevoel het hoe hulle harte brandende in hulle was terwyl Hy met hulle gepraat het. Hoe meer hulle na Hom geluister het, hoe sterker was hulle verlange na Hom.

Dit is asof Lukas deur die vertelling sy lesers se aandag wil vestig op die nodigheid om nie in hul trane vas te val nie. Die geestelike reis kom soms tot 'n einde deurdat die reisiger in die donker vaskyk en vasval. 

Lukas se verhaal is dus ironies: Hy vertel dat Jesus op ‘n Verborge manier teenwoordig is in die lewens van die Emmausgangers. Terwyl hulle alleen maar praat oor Jesus se afwesigheid, is Hy wel deeglik by hulle teenwoordig.  En mense kan in die Emmausverhaal hulle eie verhaal herken - en daaruit leer.

Op een of ander verborge manier, in hul harte, word die goddelike teenwoordigheid ook bevestig. Hierdie teenwoordigheid van Jesus en die Emmausgangers se verbondenheid met Hom is die mistieke kant van die verhaal. Maar die brandende gevoel van die Verborgene se teenwoordigheid is terselfdertyd die teenoorgestelde van die afwesigheid van Jesus wat hulle sê hulle ervaar (antifrase).

Lukas vertel hierdie verhaal oor die Teenwoordigheid van die Afwesige Jesus om sy lesers op hul moeilike, wisselvallige geestelike reis te begelei: Daar sal tye kom dat hulle, soos die Emmausgangers, net afwesigheid ervaar. Wie verby die afwesigheid kyk, sal iets anders ontdek, naamlik die stil stem van 'n mens se verlangende hart. Die verlange na God bly by ‘n mens, ook wanneer ‘n mens deur die donker dele van jou geestelike reis moet gaan. 

Hierdie verlange is ‘n teken dat God daar is en in 'n mens se lewe aan die werk is.

Daarom gee ‘n mens die geestelike reis nie op nie. Dit sou "onverstandig" wees. 

Lukas se boodskap aan sy lesers deur sy vertelling van die Emmausgangers is om terug te keer na Jerusalem, om te bly woon in die woorde en wêreld van Jesus. Die geestelike reis moet ‘n mens, al is dit in donker tye, steeds in herinnering aan Jesus bly voortsit. Daarom sal ‘n mens Lukas se Evangelie lees, want hy vertel die verhaal van Jesus. 

Vir Lukas beteken dit ook dat ‘n mens steeds weer aan die tafel van die laaste maal sal gaan aansit. In Lukas se verhaal oor Jesus sal hulle die geestelike weg van nader leer ken. Dit is die verhaal wat hulle sal help om die Teenwoordigheid van die Verborgene te leer ken. 

Dit alles beteken dat ‘n mens ook en veral in die donker, droë tye, ingestel is op die Verborge Teenwoordigheid van God deur verbondenheid aan die Here.

Lukas is die mistagoog wat sy lesers bystaan om God se weg vir hulle lewe te herken. Dit is nie maklik nie, soos die Emmausverhaal wys. Dit vra dat 'n mens diep na binne kyk, maar ook naby aan Christus bly.
   
Dit is ook die rede vir Lukas se slot en vir sy beginverhaal in Handelinge: Jesus is aan God se regterhand. 'n Mens moet in Hom die goddelike werking en teenwoordigheid herken wat verby alle menslike gedagtes en voorstellinge strek. Daarom moet ons luister na ons harte, wat soms vinniger en deegliker is in die herkenning van God se teenwoordigheid. En daarom moet die lesers ingestel wees daarop dat dit God is wat die verlange in ons harte aansteek en laat brand. 

Die een wat ingestel is op die onsigbare Jesus, is die een wat uiteindelik sal groei in die geestelike reis.  

Blog Archive