Monday, September 03, 2012

Wanneer kennis opgeblase is en in die weg van geloof staan.


Die kerkvaders soos Origines het die Bybel in die eerste plek as ‘n teks vir geloofsgroei gelees. God spreek deur die Woord tot lesers om hulle op hul geloofsweg te begelei. Vir hulle was die Bybel ‘n kragbron wat gesoek het om mense te transformeer tot die dieper verborge lewe by God.

Dit beteken nie dat die kerkvaders die letterlike betekenis van die Bybel geïgnoreer of geminag het nie. Hulle het wel deeglik beklemtoon dat dit een van ten minste twee belangrike aspekte van die Bybelse teks is. Maar, het hulle bygevoeg, ‘n mens kan nie daar ophou nie.

Origines verduidelik dit, volgens Paul Decock, wanneer hy die episode van die voetewassing in Johannes 13 bespreek. Die dissipels het alles wat Jesus tydens die voetewassing waargeneem. Hulle kon sien wat Jesus doen. Maar wat hulle nie kon sien nie, was waarom Jesus dit gedoen het. Hulle het die geestelike betekenis daarvan nie begryp nie.

Dus behoort ‘n mens sensitief te wees vir die dieper, geestelike betekenis van die voetewassing. Vir Origines was die voetewassing ‘n beeld van hoe die Woord van die Here die dissipels se voete gewas het. Die verhaal se krag lê in sy geestelike eerder as sy letterlike betekenis.

Net so het die kerkvaders oor die besnydenis gedink: die besnydenis het vir hulle ‘n dieper betekenis gehad vir hulle nuwe tyd. Die kerk het bestaan uit heidense Christene op wie die besnydenis nie meer toegepas kon word nie. Daarom het die kerk die Ou-Testamentiese voorskrifte oor die besnydenis op ‘n nuwe, kreatiewe manier uitgelê. Paulus praat byvoorbeeld van die besnydenis van die hart (Rom.2:29). Op ‘n ingrypende manier het die kerk verder die doop as nuwe sakrament naas die nagmaal ingestel en as teken van die mens se lidmaatskap van God se nuwe volk.

Vir die kerkvaders was dit belangrik dat die Bybel nuttig moet wees, sodat dit ‘n krag tot verandering en transformasie sal word. Kennis, het Augustinus byvoorbeeld geskryf, is maar net ‘n aspek hiervan. Sekere vorme van kennis kan ‘n mens selfs opgeblase maak (1 Kor.8:1). Die skrif wil eerder liefde aanwakker (1 Kor.8:1) deurdat dit ‘n mens nuut maak en bring tot geloof hoop en liefde (1 Kor.13). Wat saak maak is wat die Skrif nou vir mense in die hede beteken. Die Bybel is nie 'n boek waaroor 'n mens nuttelose spekulasies kan uitwerk nie. Dit is 'n boek wat nut vir die geloof het.

Daarom het die kerkvaders ook beklemtoon dat die Skrif vir die gehoorsame mens moreel sterker maak. Die Skrif bou ‘n mens se karakter, vorm jou en maak ‘n verskil aan jou lewe. ‘n Mens lees dus die Bybel met die openheid om gevorm te word na God se wil, om in die krag van God te leef en om in gehoorsaamheid die beeld van God uit te dra.

Dit is eers in die moderne tyd dat mense die Bybel begin lees het om “feite” te formuleer en om “sekerheid” vir hul geloof uit te spel. “Kennis” is wat tel en die “regte” uitleg van eie Bybel het belangrik geword.

Nooit kan ‘n mens die rol van kennis in geloof onderskat nie. Die Bybel is dikwels betrokke by die ontmaskering van valse leringe. Maar net so moet ‘n mens kennis nie oorskat nie. ‘n Mens kan alles weet: jy kan mooi netjies sien wat Jesus alles doen wanneer hy die voete was. Geleerd kan jy dan vir Jesus selfs voorsê wat Hy verkeerd doen. En dan self heeltemal buite God se wil wees.

Dit is nie maklik om die Bybel uit te lê nie. Gedurig moet ‘n mens jou afvra oor die verborge, dieper betekenis daarvan.

Een ding weet ‘n mens: as jou uitleg van die Bybel jou geloof versterk, jou hoop gee en jou in die liefde anker, is jy op die regte pad. Dan is ‘n mens op weg in die teenwoordigheid van God.


Blog Archive