Monday, September 10, 2012

Wanneer God grense oorsteek. Hoe Bybelse spiritualiteit die verstaan van 'n teks beslissend bepaal.



Die aankondiging van die geboorte van Jesus in Lukas 1:26-38 is een van die min plekke in die Bybel waar Maria prominent genoem word. Dit is dus vir Rooms-Katolieke eksegete ‘n gewilde hoofstuk. Een van hulle, Rene Laurentin, wat bekend is as ‘n kenner op Maria-studies, het ook die geboorte-verhaal ontleed.

Hy wys daarop dat die twee gedeeltes oor die aankondiging van Jesus en Johannes se geboortes parallelle verhale is. Maar origens, skryf hy, verskil die twee verhale hemelsbreed.

Dit is interessant hoe hy die teenstellings uitlig:

Sagarias, Johannes se pa, is ‘n bevoorregte, ryk priester wat gerekend in sy tyd was. Die engel verskyn ook daarom aan hom in die tempel as ‘n spesiale plek. Maria, daarenteen, het nie veel waarop sy haar kan roem nie. Lukas sê niks oor haar sosiale status nie. Anders as Sagarias het sy nie ‘n familie wat ‘n trotste geskiedenis het nie. Die aankondiging van die geboorte gebeur ook in ‘n onbekende plekkie en nie in die belangrike hoofstad Jerusalem nie.

Tog kies God juis vir hierdie ongerekende vrou om die Verlosser se ma te word.

Laurentin lig ander kontraste uit:

Sagarias is ‘n vroom mens wat uitblink in gehoorsaamheid. Maria kan maar net genade ontvang.

Sagarias ontvang die nuus, terwyl Maria, volgens Lukas, die nuus van die engel in haar binneste opneem en daaroor reflekteer.

Sagarias glo nie die aankondiging nie. Maria se reaksie laat die engel vir haar ‘n belofte maak.

Sagarias is aan die einde van die verhaal stom. Maria sing ‘n besondere lied waarin sy haar geloof uitdruk.

Hierdie verskille, volgens Laurentin, wys daarop dat Maria ‘n simbool is van die volk wat uit genade bevry word en God se beloftes ontvang.

In sy bespreking van Laurentin se uitleg van die Bybel het Welzen goed ingeligte kritiek. Hy wys daarop dat Maria en Josef ook deur Lukas as gehoorsame mense geteken word (Lk.2:22-24) en dus as wetsvrome mense. In die opsig is daar geen kontras tussen Sagarias en Maria nie.

Wat wel waar is, is dat daar ‘n definitiewe verskil is tussen Johannes as die profeet van die Allerhoogste en Jesus as die Seun van die Allerhoogste. Die verhaal gaan dus nie daarom dat Maria as die eenvoudige, nederige mens verhoog word in sosiale status nie.

Dit is op hierdie punt dat Bybelse Spiritualiteit beslissend inwerk: hier begin ‘n mens raaksien dat die gedeelte te doen het met die geestelike dimensie van die mens se verhouding tot God eerder as bloot net sosiale kwessies.

Daarmee word belangrike geestelike aspekte van die verhaal beklemtoon. Dwarsdeur die Maria-verhaal neem God die inisiatief. God stuur die boodskapper. God verhoog Maria. God is dus die een wat die verhouding met Maria aanknoop.

En, soos met enige verhouding, het dit sterk invloed op Maria en haar mens-wees. Sy word geestelike vernuwe en getransformeer. Sy word deel van God se metamorfose van mense op die rand van die samelewing.

Lesers van Lukas se evangelie word deur Lukas opgeneem in die groot geestelike vernuwingsproses wat in Jesus begin het. God bevry mense van hul bande. Sosiale konvensies word geïgnoreer en eenkant geskuif. Wat tel is nie wat die posisie van mense in ‘n samelewing is nie. Wat tel is of hulle hul volledige menswees in Christus ontdek en dus verander word tot vry, sterk en volwasse persone. Want vir Lukas kan ook arm mense deel wees van God se werking. Vroue, geminag deur vele, is in Lukas se verhaal steunpilare in Jesus se bediening.

Niks, nie eers die sterkste kulturele, sosiale en politieke vooroordele en konvensies kan God se werking en God se transformasie van mense stuit nie.

Bybelse spiritualiteit open ons oë vir die geestelike dimensies in ‘n teks en verhinder ons om ‘n teks bloot net in terme van sosiale prosesse te lees. Hoewel die Bybel duidelik politieke implikasies het, help Bybelse spiritualiteit ‘n mens om die belangriker dimensies raak te sien en om nie die geestelike te verpolitiseer nie.

Dit is nogal ‘n belangrike aspek wat baie meer aandag verdien as wat tans die geval is.

Blog Archive