Sunday, September 23, 2012

Vreugde steek alle grense oor. Oor 'n spiritualiteit van vreugde (6).

-->


Lukas is veral bekend as die evangelie van vreugde. ‘n Kwart van alle verwysings na vreugde kom in hierdie boek voor.

Reeds heel van die begin van die boek is die prominente plek van blydskap daarin opmerklik.

Lukas vertel hoedat Jesus se geboorte uitdruklik met besondere blydskap verbind word. Die engel sê byvoorbeeld vir die skaapwagters oor Jesus se geboorte: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is” (Lk.2:10).  

Nie net Jesus se geboorte staan in die teken van blydskap nie. Selfs sy voorloper, Johannes is iemand wat, soos die Grieks wys, met driedubbele blydskap verbind word. Die engel sê aan Johannes die Doper se pa: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou 'n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. 14 Hy sal 'n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte.”

Maria se groet aan Johannes se ma, laat haar kindjie “in vreugde” beweeg (Lk.1:46). En, volgens Lukas 1:58 was die bure en familie saam met haar “bly” oor die Here se groot ontferming oor Elisabeth.

Jesus se geboorte is die groot oomblik van blydskap: dit is die tyd van die Messias wat aan die volk verlossing bring. Wanneer mense bly is oor hierdie nuwe tyd wat God laat aanbreek, wys dit dat hulle reageer op God se dade en dat hulle harte ingestel is op wat God doen. Die blydskap sal die “hele volk” raak (Lk.2:10). Hulle vreugde wys hoedat hulle lewens geraak word deur wat God doen. Hulle stel hulle self oop vir die nuwe dade van goedheid wat God vir mense doen.

Maar daar is meer. Vreugde is vir Lukas radikaal, juis omdat alle mense, wie hulle ook al is, daarin kan deel. 

Barton skryf dat dit opvallend is hoedat Lukas veral die armes en nederiges beskryf as mense wat vol blydskap oor die koms van Jesus is. Dit is mense soos die skaapwagters en vroue. Die blye boodskap kom ook nie net na die belangrike stad Jerusalem en die tempel nie, maar ook na Nasareth en Bethlehem in Galilea, ‘n klein dorpie in die platteland. Vreugde is nie beperk tot sekere mense nie. Dit spoel oor en raak alle mense, selfs die nederigstes onder hulle.

God se vreugde word nie ingeperk nie. Hoe gering ook al, word mense geraak deur die innerlike opwinding oor die goeie wat oor hul lewenspad kom. 

Lukas wil duidelik maak dat God oor alle grense heen vir mense wil bly maak. Meer nog: die groot tye, die belangrikste van alle oomblikke, is die ligte tye, die sagte oomblikke van innerlike blydskap en vreugde. As 'n mens die nuwe tyd binne gaan, so onbekend in baie opsigte, hoef daar nie kommer te wees nie. Dit is immers 'n blye tyd, 'n tyd van groot vreugde. 



Blog Archive