Saturday, September 22, 2012

Om sommer net bly te wees. Oor die spiritualiteit van vreugde (5)


Vreugde, dink ons soms, is dalk meer die uitsondering as die reël in die Bybel. Godsdiens word mos geasssosieer met ernstigheid, sedigheid, selfs swaarmoedigheid soos in saamgeperste lippe.

Daarom is dit ‘n hele ervaring om die spiritualiteit van vreugde na te gaan en om te sien hoe belangrik blydskap vir ons geestelike voorouers was.

Dit is daarom vir sommige mense goed om te sien dat die Ou Testament vol is van mense se blye getuienis oor alles wat God vir hulle gegee het, oor die voorreg wat hulle gehad het om die Wet te ken en uit te leef en oor die besoeke wat hulle aan die tempel gebring het, of oor die vreugde wat hulle gehad het oor God se teenwoordigheid by hulle tot in die allerlaaste van dae.

Maar nou sal mens kon dink dat vreugde bietjie “ver-godsdienstig” word. In al die dinge wat hierbo genoem is, word blydskap veral met God en die dinge van die Here verbind.

Dit is goed om dit te weet en dit is belangrik om te onthou dat godsdiens in vele opsigte ‘n blye saak was.

Maar daar is meer aan blydskap. Vreugde is lank nie net ‘n godsdienstige saak in die Bybel nie Want die Bybel kan op ‘n heel waarderende manier praat oor nie-godsdienstige blydskap. 

Die Bybel praat, lyk dit my, dikwels en graag oor die vreugde om sommer net bly te kan wees. 

Suurheid is nie 'n kenmerk van spiritualiteit nie. Lang gesigte en godsdiens hoort nie noodwendig bymekaar nie. 

Mense wat bly is in God, in die Wet, in die erediens en oor die vreugdevolle einde van ‘n mens se lewe, is doodgewoon ook in vele ander normale dinge bly.

Die Ou Testament praat van gewone, selfs aardse vreugde. Dit kan soms verrassende wendingen neem: Neem maar as die bekendste hiervan, en ook die spesiale, die boek oor liggaamlike liefde. Hooglied is ‘n boek wat uitbundig praat oor intieme, konkrete liefde tussen mense wat naby aan mekaar leef en diep bly is daaroor (3:11). Die intiemheid van liggaamlike liefde kan vir ‘n mens vervullende blydskap gee.

Ook die geboorte van kinders is iets wat mense bly maak (Ps. 113:9). Die gelowiges van die ou bedeling het verder veel vreugde gehad oor sulke dinge soos die oestyd, wanneer die vrug van die land ingebring word en die skure vol geraak het (Jes.9:2). Hulle is bly oor aardse dinge wat vir hul lekker is en vir hulle voorspoed beteken. In Psalm 104:15 is daar hierdie aardse woord:

Die Here gee “dat wyn die mens se hart kan bly maak,” dat ‘n mens se “aangesig blink van die olie,” dat brood die mens se hart versterk.”  Die gewone aardse dinge soos wyn, olyfolie en brood bring genot in ‘n mens se lewe.

In die Bybel vier gelowiges baie dinge van die lewe. Hulle is bly oor aardse dinge. Wie God ken, waardeer die gewone lewe met vrolikheid en opgewektheid.

Hulle weet: Die Here gee die lewe en voorsien in dinge wat die lewe moontlik en bly maak. Hieruit volg die blye hart.

Blydskap hoef nie net “godsdienstig” te wees nie. Wie die Here ken, weet baie ander dinge word goed en mooi en inspirerend. Die aarde en alles wat daaruit voortkom, kan ‘n mens bly maak.

En tog, die gewone vreugdes van die lewe, wat ons nie altyd bewustelik geniet nie, is vreugdes wat soveel sterker ervaar word wanneer ‘n mens se hart in God geanker is.


Blog Archive