Wednesday, September 05, 2012

Elke keer weer klink die stem van die Bybel nuut en anders...

Ek verwonder my nog steeds oor die feit dat musiek-uitvoerings van een spesifieke musiekstuk so kan verskil.

Vanoggend oor die radio speel die omroeper 'n stuk van die Beatles en Joel Cockrill. Dit is dieselfde musiek, sê hy opgewonde. Die Beatles het dit beroemd gemaak.

En nou kom Joel en sing dieselfde lied totaal anders. 

Hy laat sy luisteraars inbel en stem oor wie se weergawe die mooiste is. 

Die stryd is gelykop. Maar uiteindelik wen Joel.

Hy sing die Beatles se lied beter as wat hulle dit self doen. 

Die omroeper praat met 'n vrou wat kwaai raas omdat kunstenaars ander se musiek steel en dan geld wil maak uit hul weergawe. Nee, sê hy. Hulle steel nie die musiek nie. Hulle sing dit op 'n kreatiewe wyse en laat die skoonheid van die stuk des te meer na vore kom. Hulle is egte kunstenaars. Hulle blink uit in kreatiwiteit. 

Dit, sê Bybelkenners al lankal, is presies wat in Bybel-uitleg gebeur: ons het 'n bepaalde teks, maar hoe daardie teks gaan "klink", hang af van wie dit uitlê en oorneem. Elke uitleg van die Bybel sal anders wees. 

Dit beteken nou nie dat almal reg is nie. Soms moet 'n mens tereg wal gooi teen mense wat die Bybel-teks manipuleer en misbruik.

Maar uiteindelik is die duisende preke wat elke Sondag in gevestigde kerke oor Bybeltekste gehou word 'n duidelike bewys hiervan:  dieselfde teks, maar verskillende toepassings.

Trouens, die polifoniese karakter van die Bybel en die meervoudige gebruik daarvan wys hoe ryk en oneindig aan betekenis die Bybel is. Vandaar dat mense dit as 'n geïnspireerde teks beskou.

Eintlik is dit merkwaardig: dat oor soveel eeue en in soveel lande die Bybel so anders gehoor word. En, meer nog, dat dit oor die eeue deur al hierdie lesings soveel troos, inspirasie, moed en hoop aan baie mense gebied het. 


Blog Archive