Spiritualiteit is ten nouste gekoppel met die konteks waarin mense leef. Ons weet dit al klaar uit die baie vorme van spiritualiteit wat daar is.
‘n Mens merk hierdie noue band tussen spiritualiteit en konteks duidelik in die manier waarop mense die Bybel in die eerste paar eeue na Christus gelees het. In die eerste tien/elf eeue was, soos Green dit uitwerk in haar artikel, die Bybel by uitstek vir mense ‘n goddelike woord wat hulle op hul geestelike reis begelei het. Ook Jona is as Ou-Testamentiese teks gelees as ‘n teks waardeur God praat en wat as ‘n heilige boek deurslaggewend is vir die mens se geestelike reis. Die Bybel word bestudeer om deur sy baie boodskappe wat God aan ‘n mens gee om sy geestelike volwassewording te voed en te bevorder. Met ander woorde – in hierdie eerste eeue was die Bybel veral gesien ad die Woord wat God met mense praat.
Met verloop van tyd kom daar stadig maar seker ‘n verskuiwing. Dit het saamgehang met 'n sekere soort intellektuele groei van Bybellesers. Stadig maar seker het daar vanaf die twaalfde eeu sekere belangrike veranderinge in die wêreld plaasgevind. Hoewel ons baie keer praat van die “donker” Middeleeue, was die 12e tot die 14e eeu die tyd waarin universiteite bedrywig geraak het en die lig van kennis al hoe sterker begin skyn het.
Bybellesers het ook in die konteks van hierdie universiteite die Bybel noukeurig ondersoek. Dit was nie meer net die priester of die geestelike in die klooster wat geestelike voedsel in die Bybel terugvind nie, maar die professor en die student het ook met sy of haar insig begin besin oor die Bybel. Hulle word al hoe meer bewus dat God se woord in die vorm van mensewoorde aangebied word. In hierdie tyd groei daar 'n bewussyn, soos Green skryf, van die menslike karakter van die Bybel.
Dit was die tyd dat mense al hoe meer sensitief vir geskiedenis geraak het. Hulle het gegroei in die insig dat die Bybel ‘n boek is wat lank terug ontstaan het toe sekere mense uit die verre verlede dinge oor God neergeskryf het wat nie meer altyd vir ons duidelik is nie. Sekere dele van die Bybel, het hulle besef, kan nie meer letterlik vir hulle tyd oorgeneem word nie, maar die dieper betekenis daarvan moet verstaan en aanvaar word. Deur hierdie sterker wordende historiese verstaan van die Skrif ontstaan daar ‘n gevoel van afstand tussen die Bybel en die Bybellesers: die Bybel word nou ‘n boek wat vir mense in dáárdie tyd geskryf is en gelees word deur ons in híérdie tyd.
En die “ons” het al hoe meer gesofistikeerd begin raak. Die “ons” het naderhand baie ou, bestaande kennis oorgeneem as instrumente om die Bybel te interpreteer. In hierdie middeleeuse fase kry ons byvoorbeeld by universiteite die opkoms van die skolastieke teologie. Deur filosofiese denke word die teologie nou “wetenskaplik” en “akademies” bedryf en bedink. Een van die beroemdste figure is Thomas Aquinas (1225-1274) wat veral met Aristoteles se filosofiese kategorieë oor die geestelike lewe en die teologie nagedink het. Filosofie en teologie het al hoe nader aan mekaar beweeg, maar sonder dat die teologie sy geestelike karakter verloor het en sonder dat spiritualiteit regtig losgelaat is. Thomas self het steeds weer die belangrikheid van geloof vir die verstaan van die Bybel onderstreep en benadruk dat Bybellees gedurig liefde vir God en vir die naaste moes bevorder. Maar later sou sy benadering daartoe lei dat daar al hoe meer verwydering tussen teologie en spiritualiteit ontstaan het.
In die filosofie was daar vir eeue al ‘n groot debat oor letterlike en geestelike betekenisse. Plato, die Griekse filosoof, het altyd beklemtoon dat dit die dieper, abstrakte dinge is wat regtig tel. Alles wat ons sien en beleef is maar afskynsels van ‘n dieper realiteit. Ons hoef ons nie regtig eintlik aan letterlike betekenis te steur nie. Wat belangrik was, was die geestelike boodskap van ‘n teks. Aristoteles het van hom verskil. Hy beklemtoon dat alles wat ons sien en beleef, al ons letterlike, konkrete ervaringe noodsaaklik is. Sonder hierdie letterlike ervaring en vorme kan ons die abstrakte, dieper dinge nie beleef nie. Die letterlike betekenis kan nie sommer maar net geïgnoreer word nie.
Thomas Aquinas het hierdie insigte op die Bybel toegepas: die Bybel het, net soos die mens wat ‘n liggaam en ‘n siel het, ‘n letterlike en ‘n geestelike betekenis. Nie een van die twee bestaan sonder die ander een nie. Ons kan nie die geestelike betekenis van die Bybel bepaal sonder dat ons eers die letterlike betekenis vashou en vassstel nie.
Maar wat is nou vir hom die letterlike betekenis? Vir hom het die letterlike betekenis te doen met die menslike woorde. Die geestelike betekenis kom na ons deur en nie sonder hierdie menslike woorde nie. Daarom met ons altyd eers vra wie die skrywer van ‘n Bybelboek is. Watter taal het hy gepraat, in watter tyd het hy geleef, hoe het hy sy boek saamgestel? Dit is net deur hierdie vrae te beantwoord dat ‘n mens deur die letterlike betekenis tot die geestelike betekenis kan deurdring.
Dit is sulke insigte wat al in die Middeleeue na vore gekom het. Ons kan nie sommer net die Bybel geestelik lees sonder om kennis te neem van die Bybel se letterlike, historiese en literêre karakter nie. En dit was ‘n goeie ontwikkeling, want deur hierdie benadering is sekere wilde interpretasies van die Bybel hokgeslaan. Dit help ons om nie hoogs vreemde interpretasies op die Bybel af te forseer nie.
Ons sien dus in die Middeleeue al hoedat die kritiese mens op die toneel van Bybel-interpretasie verskyn. As sulke mense die boek Jona lees, is hulle in die eerste ple bewus daarvan dat dit ‘n “vreemde” boek is. Dit is ‘n verhaal uit die verre verlede wat nie te maklik is om te verstaan nie. Hulle ervaar dus inderdaad die afstand tussen hulle tyd en die tyd van Jona. Een van die interpreteerdes is byvoorbeeld Andries die Viktoryn van Parys (1175) wat uitgebreid probeer om Jona in sy tyd te plaas.
Maar as hierdie lesers sukkel om Jona as ‘n historiese boek te lees, afkomstig uit ‘n heel ander tyd as hul eie, beteken dit nie dat hulle die teks as belaglik beskou of as ‘n teks wat liewers geïgnoreer moet word. Hulle hou aan die teks vas om die dieper boodskap daarvan te bepaal. En as hulle die “geestelike” boodskap van Jona moet vassstel, val hulle gewoonlik op die Nuwe Testament terug. Vir hulle word die Nuwe Testament dus meestal die “sleutel” waarmee die boodskap van Jona ontsluit kan word. Hulle “skep” dus nuwe betekenis deur Jona met ander Bybelse tekste en inhoude te verbind.
Tog kan ‘n mens nie die proses keer wat hier begin het nie. Die Bybel was nie langer bloot God se woord wat direk tot ons kom nie. Nou begin die mens sterker op die voorgrond tree: God se woord kom tot ons, maar deur mense-woorde uit die verre verlede.
Dit is goed. Want daardeur sien ons die noue verbintenis tussen God en mens. God se verhouding met die mens is so intiem dat God deur die mens tot ander praat. Maar dit is ook goed omdat ons nou besef dat ons nie hierdie mense-woorde eenvoudig letterlik moet verstaan nie. Hulle is mense van hul tyd wat soms gebruike (soos slawerny) goedpraat omdat dit in hulle konteks voorgekom het en nie omdat hulle wou gehad het ons moet ook slawe aanhou of in slawerny bly nie.
Maar dit is ook nie goed nie. Soos ons sal sien wanneer ons die gevolge van hierdie middeleeuse ontwikkeling bekyk. Want as ons vashak by die letterlike betekenis van die Bybel, met ure, dae, maande en jare van ons tyd wat eindeloos ingaan in gesprekke daaroor sonder dat dit ons lewens transformeer of ons by die bedoeling van die mense-woorde uitbring nie, dan misbruik ons die Bybel. Want uiteindelik gaan dit nie om die letterlike betekenis, die vleeslike vorm van die Bybel nie. Dit gaan om die letterlike betekenis wat ‘n sielvolle boodskap het. Hoe jammer dat ons so sielloos die Bybel lees – en hoe ellendig dat hierdie siellose gelees al vir eeue baie mense se lewens belas het.
Waar gelukkig en besield is die mens wat ontdek dat die Bybelteks op baie maniere nog met krag ‘n mens se lewe verryk en vervorm.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2010
(356)
-
▼
February
(27)
- Jesus het opgestaan. Kom ons gaan aan met ons lewe...
- Om in stilte gereed vir God se stille teenwoordigh...
- “U voetspore drup van die vettigheid.” Of: “Waar ...
- Wanneer die toekoms ons lewe stuur. Oor die ewige ...
- Neem jy ‘n vette hap as jy in ‘n vreetbui is? Oor...
- Oor maglustiges en maghebbers
- Maria en die opstanding in Johannes Evangelie - 'n...
- Wanneer ons nie wil waag om te praat nie....
- Wanneer Jesus opstaan
- Wanneer daar net 'n sluier tussen jou en God is. O...
- Kan 'n mens God sonder die kruis verstaan? Oor die...
- Fliekpiek: Sherlock Holmes, die man met die helder...
- Die opstanding vanuit spiritualiteitsperspektief.
- Om beter as God te wil weet. Oor die geestelike le...
- Om wonderlike dinge te onthul....
- Was Martha dan nou regtig so 'n flou Christen? Oor...
- Luther, Jona en genade
- Wanneer 'n mens sonde begin goed praat. Oor vervre...
- Die Bybel as God en as mense-woorde. Oor die geest...
- Jona uit 'n Dominikaanse perspektief....
- Die oor van God is in die hart van die een wat bid...
- Was arme Origines werklik so ‘n ou gevaarlike alle...
- Die Bybel het meer skatte as wat ons graag dink......
- Die dieper besef. Oor bewuswording van wat regtig ...
- Mense-slagting. Oor ongevoeligheid.
- Bloeisels en God se toekoms as die ewige lente
- Teleurstelling.
-
▼
February
(27)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.