Thursday, February 11, 2010

Luther, Jona en genade

Luther as teoloog wat een van die bekendste Hervormers was, was ‘n Augustiniaanse monnik wat ‘n intense sielestryd gevoer het en toe op ‘n dramatiese oomblik die oorweldigend plek van genade teenoor werke ervaar het. Sy wroegende vraag was waar om ‘n genadige God te vind, totdat hy ontdek het, geïnspireer deur Romeine 1, dat God se genade nie deur die mens gesoek en verdien moet word nie. God se genade word vrylik uitgedeel. Die evangelie is ‘n verhaal van bevryding en verlossing van die innerlike dwang en gedrewenheid om by God te presteer, maar Luther se verhaal is ook die storie van iemand wat tot rus kom in die liefde van God wat vrylik weggegee word.

Luther het onderstreep dat elke mens in die Bybel self hierdie boodskap van genade kan ontdek. Genade word nie deur die kerk bemiddel nie. Die kerk kan ook nie oor die Bybel heers en die uitleg daarvan bepaal nie. Ook die patristiese skrywers se invloed was vir hom te sterk – hy was wantrouing teenoor hulle allegoriese uitleg en hulle mistieke greep op die Bybelse tekste.

Green bespreek in haar artikel oor die geestelike lees van die Ou Testament Luther se eksegese van Jona teen hierdie agtergrond. Dit is duidelik dat Luther ‘n kind van sy tyd was. Hy stel belang, soos ander in die tyd van die Reformasie en in die Hervorming, in die historiese konteks waarin Jona ontstaan het. Hy vra byvoorbeeld wie Jona was en wanneer Jona geleef het (in die 8e eeu). Maar hy stel ook in verskillende onderwerpe in die boek Jona belang: hy ondersoek veral waarom Jona gevlug het: onwilligheid om familie en land te verlaat, vrees vir die koning van Nineve, vrees dat sy woorde sal waar word of dat dit nie sal waar word nie, die opvatting dat God net oor die Jode besorg was. Dan besin Luther oor die vraag of Jona se vlug sonde was. En hy besluit dat Jona inderdaad niks gehad het om oor trots te wees nie. Hy het teen God oortree. Maar tog het God vir Jona omgegee.

En dan kry ons by Luther iets van die gevolge van die historiese benadering wanneer hy skryf dat Jona in die walvis maar ‘n vreemde storie is. As ‘n mens mooi oor die boek dink en jou inleef in die storie, lyk dit vir Luther darem te wonderbaarlik. Luther kon hom byvoorbeeld heel intens inleef in die omstandighede van Jona toe hy in die maag van die walvis was. So, het hy gevra, sou ‘n mens kon wonder of Jona ooit gedink het hy gaan in die walvis se ingewande verteer word. En hy het maar sy twyfel oor die verhaal gehad: Was dit nie dat dit in die Bybel gestaan het nie, skryf hy, sou baie mense kon dink dit is ‘n liegstorie of ‘n feëverhaal.

‘n Mens sien gedurig hoe Luther se sensitiwiteit vir God se genade wat die sondaar red, sy eksegese van die boek Jona bepaal. Uiteindelik is Jona vir Luther veral die beste voorbeeld van ‘n sondaar. Hy vrees God en is vasbeslote om te vlug. Maar hy is ook reg om terug te gaan en om sy eie onwaardigheid in te sien. Jona het beslis nie verdien om gered te word nie, maar tog het God vir hom omgegee.

En, soos ons Luther maar te goed ken, skryf hy dat Jona ‘n magtige prediker was. Hy verkondig hoe God aktief en baie graag die verlossing van alle mense begeer. Trouens, skryf Luther heel gewaagd, Jona se boodskap was selfs meer effektief as Jesus s’n! Sy blye boodskap aan die Nineviete is die beste voorbeeld van hoe God se genade mense red en nie hulle goeie werke nie.

Vir Luther bly Jona ‘n profeet wat God se genade verkondig. Teenoor God staan die mens as sondaar wat ongehoorsaam is. Maar as God genadiglik met die mens ‘n verhouding aanknoop, bring dit die groot transformasie. Dit is vir my ook interessant hoedat Luther die historiese gegewens oor Jona se vlug verduidelik as ‘n verval in sonde. Dit lyk vir my of Luther se uitleg nogal verwant is met Fisher se siening van Jona se vlug as ‘n verval in vervreemding van God.

Ek lees weer Jona 1:3 in die lig van Luther se siening: “Maar Jona het hom klaargemaak om na Tarsis te vlug, van die aangesig van die Here af weg.” Dit is so ‘n helder keuse téén God, teen God se genade, teen wat God van 'n mens vra - en dit terwyl jy nogal 'n man van God is. Dit is ook nie maar 'n glipsie nie. Die teks onderstreep Jona se bewuste handeling van verset. Twee keer herhaal die vers dat Jona “van die aangesig van die Here af weggevlug het.” Die aksent is duidelik – Jona, die profeet, keer sy rug op die Here.

Maar dan volg inderdaad die groot ommekeer. Die vlugtende word die smekende. Ek lees weer Jona se aangrypende gebed in Jona 2:1-9 waarin hy vertel hoe hy, “as sy siel in hom versmag” aan die Here gedink het. Dit is sy “gebed” wat tot by die Here gekom het in die heilige tempel (2:7). En, daar in die ingewande van die vis, terwyl sy siel smag na God, wil hy die Here loof (2:9). Hy reik uit om weer in God se teenwoordigheid te wees.

Nouja, as ‘n mens so ‘n diep geestelike ervaring gehad het, is jou lewe getransformeer en lewe jy naby aan God. Daarom het Jona vir die tweede keer summier geluister toe God hom weer na Nineve laat gaan het (3:1). Hy is op pad daarheen met die boodskap dat Nineve verwoes sal word (3:4). Sy geestelike reis het hom deur transformasie na praksis geneem – sy groot omwenteling en ervaring van God se genadige verlossing van ‘n gewisse dood in die walvis word opgevolg deur sy vertrek na die Nineviete.

Maar kennelik het hy nie verwag dat die genade wat hy van God ontvang het, ook na die Nineviete se kant uitgedeel sou word nie. Sy geestelike reis vat nogal (vir hom) 'n wilde draai.


Watter merkwaardige ervaring wag nie op hom nie – ‘n groot heidense stad wat tot inkeer kom. En, tot ons verbasing, is hy nie jubelend van vreugde nie - sy reaksie is eerder erge ontstemming en woede (4:1).

Hierdie Ou-Testamentiese boek is tog duidelik ‘n boek oor God se genade wat so groot is dat dit mense se verstand te bowe gaan. In die Ou Testament! Genade waar ons gewoonlik dink die Wet gedomineer het. Luther was reg - dit is 'n boek oor genade. Wat ‘n mens laat besef hoe konsekwent die Bybelse verhaal van Genesis tot Openbaring is – ‘n verhaal oor God se onvoorwaardelike, transformerende liefdesverhouding met die mens. As ek Jona lees, doem die lewe van Jesus voor my op, hoor ek die Gelykenis van die Verlore Seun en dink ek aan Petrus wat soveel genade ontvang en tog nog weier om die heiden Kornelius op te soek.

Sekerlik is daar sekere mistieke grepe op die Bybel wat gedwonge en geforseerd lyk. En Luther het goed raakgesien dat sommige mistieke tekste belangrike Bybelse insigte prysgee.

Maar wat is 'n dieper, mistieke verborgenheid as hierdie boodskap wat Luther in Jona vind: dat 'n mens jou hard verset teen die goddelike liefdesboodskap van genade, dat jy telkens weer tog vreugde vind in die goddelike liefde wat so vrylik na jou kom om dan tog weer, horribile dictu, hierdie liefde vir jouself alleen op te eis en te verorber. Maar telkens weer bring God 'n mens in jou geestelike reis voor hierdie ondeurgrondbare verborgenheid dat 'n mens nie hierdie liefde selfsugtig mag "besit" nie. Om dit te ervaar as 'n transformatiewe krag, moet dit gedeel word - veral met hulle wat daarna smag en veral met hulle wat uit 'n diepe sondaarskap daarna verlang en daarom vra.

Wat is meer mistiek as hierdie liefdevolle genade?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive