Johannes 19 eindig met die mineur-noot van Jesus se weglê in die graf in die tuin (19:41). Daarmee word Jesus se laaste oomblikke afgesluit – hy was immers in die tuin in hegtenis geneem (Joh.18:1). Ons kry closure: die plek waar alles begin het, word die plek waar afronding nou moet intree. Hoewel dit 'n mineur-noot is, word die begrafnis van Jesus ook so vertel dat dit iets van Jesus se heerlikheid reflekteer.
Ek is al hoe meer geboeid hoe Johannes in die opstanding van Jesus die krag van Jesus se dood verder neem. Hy wys hoedat Jesus se heerlikheid in die kruis ook langsamerhand tot die dissipels deurdring.
Johannes ken die dood nie as 'n verskrikking nie. Die kruis wys Jesus se heerlikheid, die opstanding laat dit tot die dissipels deurdring.
Dit is vir Johannes ‘n spesiale oomblik wanneer Jesus begrawe word. Jesus word in die stilte van die tuin in rus weggelê. En, ook spesiaal, is die gevoel wat by die leser opkom wanneer die leser hoor dat dit ‘n “nuwe graf” was. Hierdie “nuutheid” van ‘n graf waarin niemand nog ooit was nie, pas by die status en heiligheid van Jesus, skryf Schnackenburg.
Dit is mooi – dink ek elke keer as ek hierdie verhaal lees: dat Jesus in die “tuin”begrawe is.
En vir Johannes is dit belangrik dat die kruisiging en opstanding reeds geografies ten nouste met mekaar verbind is. Die “tuin” waar Jesus sou wandel as die Opgestane Een, was op dieselfde plek as die kruisiging. Wat met Jesus in die kruis gebeur, sy openbaring in heerlikheid (sien vorige blogs), word nou ook aan sy dissipels bekend.
Die gelowiges wat hierdie opmerking oor Jesus se begrafnis en verskyninge in die tuin lees, sou onwillekeurig, soos vele kommentators skryf, dink aan Jesaja 11:10 se voorspelling oor die wortel van Isai – die Messias: “Sy rusplek sal heerlik wees.” En in hierdie tuin rus Hy nadat hy gebalsem is. Sy liggaam word op 'n besondere manier versorg. Nikodemus, “wat die eerste maal in die nag na Jesus gegaan het” lees ons in Johannes 19:39, was daar met “’n dertig kilogram mengsel van mirre en alwyn.”
Johannes Evangelie skep by sy lesers deur hierdie beskrywing ‘n gevoel van verwonderende aanbidding. Want, weet ons uit ander Joodse verhale oor begrafnisse, toe ‘n leerling van Rabbi Gamaliël ook so ‘n massiewe klomp speserye met sy begrafnis gebring het en gevra is waarom hy dit doen, het die leerling gesê dat as konings só begrawe is, is Rabbi Gamaliël tog, as man wat veel meer werd is as baie konings, nog meer speserye werd. Bewondering, eerbied en ook verering het Jesus nie in sy dood ontbreek nie. Die speserye en die balseming druk die diepe eerbied vir en intiemheid tussen dissipels en hul leermeester uit. Hulle laat hom nie alleen sterwe nie... En hulle laat hom veral nie oneerbiedig begrawe word nie.
Jesus is uiteindelik getransformeer. Hy het sy taak volbring. Hy rus in heerlikheid noudat hy God se wil volledig bekend gemaak het.
Aan die einde van Johannes 19 het die leser geen twyfel nie. Jesus is deur sy volgelinge begrawe. Hulle neem afskeid van iemand wat, hoe lief hulle hom tog kon gehad het, tog nog maar soos enige iemand anders gesterf het. Met toewyding en selfs buitengewone verering het mense naby aan Hom sy “liggaam” gaan haal by Pilatus en hom daarin “neergelê,” maar vir hulle was dit per slot van sake die einde. Hulle weet van die transformasie van Jesus niks nie.
Vir die dissipels was dit die einde van Jesus se lewe. Die man wat hulle so diep bewonder het, is dood.
2. Meditasie: ‘n Tastende geloof
Maar dan kom, soos ons gesien het, in Johannes 20 die ommekeer. Maria, naby aan Jesus, gaan die volgende oggend toe dit nog donker was, graf toe. En dan ontvou die drama vinnig: Maria sou kort daarna die eerste een word wat Jesus “sien” na sy opstanding – die eerste een om te ervaar dat Hy “uit die dood moes opstaan” (vers 9). Die mans-dissipels sou eers ná Maria (in Joh.20:19-31) vir die opgestane Jesus ontmoet.
Ons ken die verhaal. Maar daar bly iets verfrissends tydloos aan die manier waarop Johannes Evangelie die verhaal vertel. Eenvoudiger kan dit nie vertel word nie – die verhaal van ‘n vrou wat ‘n geliefde leraar gaan soek na sy dood, enkele ure nadat sy liggaam eerbiediglik weggelê is. En tot haar ontsteltenis agterkom dat sy lyk nie in die graf is nie. Iemand het hom weggeneem, dink sy, en sy wil hom met alle geweld terug hê. Sy was al vroeg, voor die son opgekom het, by die graf – die eerste een om te ontdek dat die graf leeg was (Joh.20:1). Sy het Petrus en “die ander dissipel” gaan vertel, wat terstond afgesit het na die graf toe. Daar gekom, het Petrus nie verstaan wat aangaan nie. Die “ander” dissipel wel. Hy het geglo, maar dit was ook al – hy het nie verstaan wat daar gebeur het nie (vers 9).
En toe is die twee dissipels huis toe.
Maar Maria wil nie weer koers kry huis toe nie. Sy is heeltemal verdrietig. Sy bly staan buite die graf en huil, maar as sy afbuk sien sy twee engele in die graf sit wat vir haar vra waarom sy dan huil. Sy antwoord dat hulle Jesus se liggaam weggeneem het – sy weet nou nie waar hulle Hom neergelê het nie. Sy word deur haar trane verblind. Haar uitsig op God is afgesny.
Die dissipels wie se verhaal neergeskryf is, is eerlik:
En dan volg vers 14: sy draai om en “sien” vir Jesus staan.
Geloof is nie so maklik nie. Johannes Evangelie beklemtoon hoe ‘n waagstuk geloof is. ‘n Mens kan Jesus sien sonder om te glo. ‘n Mens kan die opgestane Jesus raakloop sonder om hom te herken. ‘n Mens kan ‘n aardse Jesus raakloop sonder om sy goddelike heerlikheid te beleef.
Die eeu-oue uitdaging van die geloof!
Maar wat ek, vanuit ‘n spirituele hermeneutiek hier raaksien, is veral Maria se wandel met God. Sy het alles gedoen wat die geloofsweg kenmerk. Haar pad is gelaai met meditasie: sy soek Jesus, met trane - iets is tog nie reg nie, want die graf is leeg. Daar is 'n verborgenheid wat sy nie kan deurgrond nie.
Sy is by die lee graf, gaan vra by die dissipels, sy keer terug na die graf, sy ondervra die engele. Hierdie is ‘n soekende vrou wat biddend verlang na verstaan en na afsluiting. Tot op die bitter einde. Selfs wanneer sy by die Here self is, is sy, ironies genoeg, nog die mediterende een: Sy kruisvra op die ou ent ook nog die “tuinier.” Vertel my, vertel my waar ek Jesus kan vind! Die gebed is daar, die smekende verlange is daar, die biddende vra ontbreek nie.
Johannes 20: 2, 13 en 15 is simbolies, só eenvoudig, van die tastende soeke na die Here. Van die donker nag van die siel. Om die Here nie te sien nie, terwyl die Here daar is....
Dit gebeur met die trouste dissipels.
3. Kontemplasie:
Dan volg daardie dramatiese oomblik waarin Maria God se ontsagwekkende aanraking aanvaar – en hierdie keer gebeur dit wanneer Jesus haar by haar naam noem.
Dit is ‘n oomblik vir lectio divina. “Maria!” Wat is eenvoudiger as hierdie enkele woord? En wat kan meer transformatief wees?
Lank kan 'n mens jou inleef in hierdie aangrypende toneel van die treurende dissipel wat haar meester se stem hoor. Sy wat hom ure tevore in die graf gelaat het, hoor nou sy stem.
Die “Maria” kan ‘n mens jou voorstel, roep ‘n wêreld van emosie op. Maria, tot dusver met rooigehuilde oë, stromende trane en skor stem, hoor die ou bekende stem wat haar eenvoudigweg by haar naam noem.
Maar sy besef ook onmiddellik dat dit die stem is van meer as net die ou Jesus. Sy besef dit is nie 'n tuinier nie. Sy herken die Leermeester, die Een wat haar oor so 'n lang tyd liefgehad het as sy dissipel.
Hierdie keer verstaan sy iets wat niemand nog ooit tevore verstaan het nie en wat Hy tog, as sy nou daaroor dink, so duidelik "geleer" het.
Haar leermeester, weet sy uit wat hy vir haar saam met die ander reeds lank tevore geleer het, is die Goeie Herder wat die kudde bymekaar maak. Hy het sy skape op die weivelde uitgebring (Joh.21:15-17!):
In Johannes 10 vertel Jesus ‘n gelykenis van die goeie herder wat die hoorders “nie verstaan het nie” (Joh.10:7). Daar is hierdie drie verse waarin Jesus van die goeie herder sê:
“Die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom omdat hulle sy stem ken. Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.”
Hierdie oomblik wanneer Maria die beelde herken as sy by haar naam geroep word, is die oomblik van kontemplasie. Die stem wat sy hoor is die stem van die Seun, die Seun van God.
Hier is sy in die teenwoordigheid van God, die goeie Herder, die Een wat liefdevol uitreik na die kudde.
Die Here raak haar uiteindelik in haar meditatiewe soeke aan. Eers as Jesus haar naam noem, met haar praat, kom geloof in haar tot wasdom, besef sy sy is coram Deo.
Ons weet dat sy onmiddellik aan Jesus se voete neergeval het – in ‘n simboliese daad van aanbidding. Maria wou dus, soos die vroue in Matteus 28:9 Jesus se voete gegryp en hom aanbid. Die aksie is dringend.
Jesus, egter, stuit haar in hierdie aanbiddingaksie. Die "groter" dinge wag. Sy het ‘n unieke taak. Sy word die eerste getuie van die opstanding. Sy het die kans om te gaan vertel wat die dissipels nog nie een werklik weet nie.Om by God te wees, is om ook by die ander te wees. Die mistieke weg het 'n heel konkrete uitkoms. Van God loop die pad na die mensdom.
Jesus stuur haar dus om die boodskap vir die dissipels te vertel. Maria, die een wat by die dissipels kort tevore met die nuus van die leë graf aangekom het, word nou die boodskapper van die opstanding.
Sy het geweet sy is in die teenwoordigheid van God. In die tuin, by die oop graf beleef sy kontemplatief die nabyheid van die Absolute Ander.
Maar ook hier is dinge nie net so maklik nie. Maria, in daardie oomblik van totale transformasie, wanneer sy die Here ontmoet, noem Hom “Rabboeni” (my rabbi). Dit lyk asof ons vir ‘n oomblik terug is by Johannes 1:38 waar die dissipels na Jesus kom. Hy vra vir hulle wie soek hulle en dan praat hulle met hom as “rabbi.” En Maria is skynbaar nog nie by die punt dat sy soos Thomas in Johannes 20:28 vir Jesus “my Here en my God” kan noem nie.
Maar dan lees ‘n mens vers 18. As Maria gehoorsaam aan die dissipels die nuus vertel, wanneer die mistieke oomblik haar lewe in die wêreld terugstuur, laat sy die dissipels weet dat sy “die Here” gesien het. Sy weet Jesus is meer as net haar leermeester.
Op pad terug na die dissipels, miskien, wie sal weet, het dit al dieper tot haar deurgedring wat met haar in die tuin gebeur het toe sy die ontsagwekkende aanraking ervaar het. Prosesmatig, hardlopende, op weg, het sy iewers net nog meer en helderder as ooit tevore ingesien dat dit God se aanraking was. Die Here het haar weg gekruis... Die eenwording met God is ‘n lewenslange proses.
Of: 'n mens sou kon dink dat die mistieke weg nie so netjies in kompartemente ingedeel kan word nie. Juis in ons oorvertel van die boodskap, ons ons meedeling van Jesus se woorde, word ons dieper ingetrek in die rykheid en verborgenheid daarvan. Die mistieke werking van die mistiek.
Kort gedagtes. Te kort om reg te laat geskied aan hierdie mistieke teks.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.