Johannes 21:12 is ‘n boeiende vers. Die vers is deel van die laaste hoofstuk van die Evangelie waarin Jesus vir oulaas aan sy dissipels verskyn. Petrus sê vir sy vriende hy wil gaan visvang. Hulle gaan terstond saam, maar vang die hele nag niks. Volgens vers 4 staan Jesus op die strand, “maar die dissipels het nie geweet dat dit Jesus was nie.” Jesus laat hulle hul nette aan die ander kant sak en dadelik vang hulle ‘n horde visse.
Dit vat 'n tyd vir hulle om die Here te herken. In vers 7 sê die geliefde dissipel vir Petrus eers: “Dit is die Here!”
Hulle het geweet Jesus het opgestaan. En tog, hulle ken Jesus nie! Dit sukkel.
Om te dink: volgens die vorige hoofstuk het Jesus drie keer aan Maria en sy dissipels verskyn, met twee keer aan die dissipels self. Johannes onderstreep dit versigtig in vers 14: “En dit was die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy opgestaan het uit die dode.”
En tog, hierdie derde keer herken hulle Hom nog steeds nie!
Daar is iets vreemds hier. Hoe gebeur dit dat hulle so naby Jesus is en tog weer so ver van hom kan wees - so ver weg dat hulle Hom nie herken nie.
En ook die hele verhaal het hierdie spanning tussen gewoonheid en ongewoonheid. Op die strand het Jesus al ‘n vuurtjie aangesteek, met vis en brood wat Hy aan die regmaak was. Jesus nooi hulle dan uit: “Kom eet!” Dan volg: “Jesus het gekom en die brood geneem en dit aan hulle gegee, en so ook die vis.”
Alles lyk so normaal: Jesus is maar net nog een van hulle. Hy steek vuurtjies aan, maak vis gaar en hou brood reg. Dit is brekfis-tyd saam met sy intieme vriende (vers 15: “toe hulle dan klaar was met die môre-ete”!). Jesus “kom” na sy dissipels.
En tog is alles nie so normaal nie. Hoewel Jesus nie hier vissies vermeerder nie, is Hy tog die een wat die dissipels lei om ‘n massa-vangs in te katrol. Waar Jesus is, is dinge nie meer dieselfde nie.
Dit is veral vers 12 wat die vreemdheid van hierdie oomblikke en die episode uitlig. Daar staan: “En niemand van die dissipels het gewaag om Hom te vra: ‘Wie is U nie?’, want hulle wis dat dit die Here is.”
Hierdie vers het dwarsdeur die eeue vir lesers van die evangelie besig gehou. Het die dissipels dan nie klaar vir Jesus herken nie? Waarom is dit nou nodig om te sê dat hulle nie wou waag om Hom te vra wie Hy is nie?
Maar eintlik is die vreemde vers nie só vreemd nie. Het die Emmaus-gangers dan nie ook min of meer dieselfde tipe vreemde gevoel gehad nie? Hulle het immers brandende harte by Jesus gehad en Hom eers herken nadat Hy vir hulle die brood gebreek het nie.
Een van die bekende kenners van die Johannes Evangelie dink die dissipels, wat Jesus al herken het, is nog nie regtig “by” nie. Hulle staan verwonderd. Hulle bly aan die nadink oor wat hier met hulle aan die gebeur is. Daarom kan ‘n mens die vers eintlik só formuleer:
“Is dit regtig U wat hier by ons?”
Maar ‘n mens moet ‘n bietjie dieper kyk: Die dissipels bly nie net wonder oor wat met hulle aan die gebeur is nie. Johannes skryf dat hulle Jesus “gevra” het. Hy gebruik ‘n baie skaars Griekse woord wat beteken ondersoek, fyn bekyk, bevra. Hulle dink baie diep.
Maar terselfdertyd vertel Johannes ook vir ons die dissipels het “dit nie gewaag nie.” Hulle wil vra, maar dan bedink hulle hulleself. Hulle brand om te vra, maar dan hou hulle terug. Hulle harte brand in hulle. Daar is dus by hulle ontsag, terughoudendheid, bewussyn dat hulle in die teenwoordigheid is van iets wat hulle normale waarneming te bowe gaan. Die Jesus wat hulle ken, is ‘n Jesus wat hulle ook nie eintlik ken nie.
Daar is afstand tussen hulle en Jesus.
Maar dan weer, as hulle verwonderd is, nie eers wil waag om met Jesus te praat oor sy nuwe bestaan nie, is daar ook weer ander kant nabyheid. Hulle ontvang die brood en vis uit Jesus se hand. Hulle word deur Hom gevoed.
Wat alles beteken dat ons hier met iets verborge te doen het. Menslike woorde kan hier nie bykom nie. ‘n Mens kom soms op ‘n punt dat jy nie eers meer met woorde dinge wil uitpluis nie. Dan moet ‘n mens net wees waar jy jou bevind.
Om by God te wees....
Saturday, February 20, 2010
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2010
(356)
-
▼
February
(27)
- Jesus het opgestaan. Kom ons gaan aan met ons lewe...
- Om in stilte gereed vir God se stille teenwoordigh...
- “U voetspore drup van die vettigheid.” Of: “Waar ...
- Wanneer die toekoms ons lewe stuur. Oor die ewige ...
- Neem jy ‘n vette hap as jy in ‘n vreetbui is? Oor...
- Oor maglustiges en maghebbers
- Maria en die opstanding in Johannes Evangelie - 'n...
- Wanneer ons nie wil waag om te praat nie....
- Wanneer Jesus opstaan
- Wanneer daar net 'n sluier tussen jou en God is. O...
- Kan 'n mens God sonder die kruis verstaan? Oor die...
- Fliekpiek: Sherlock Holmes, die man met die helder...
- Die opstanding vanuit spiritualiteitsperspektief.
- Om beter as God te wil weet. Oor die geestelike le...
- Om wonderlike dinge te onthul....
- Was Martha dan nou regtig so 'n flou Christen? Oor...
- Luther, Jona en genade
- Wanneer 'n mens sonde begin goed praat. Oor vervre...
- Die Bybel as God en as mense-woorde. Oor die geest...
- Jona uit 'n Dominikaanse perspektief....
- Die oor van God is in die hart van die een wat bid...
- Was arme Origines werklik so ‘n ou gevaarlike alle...
- Die Bybel het meer skatte as wat ons graag dink......
- Die dieper besef. Oor bewuswording van wat regtig ...
- Mense-slagting. Oor ongevoeligheid.
- Bloeisels en God se toekoms as die ewige lente
- Teleurstelling.
-
▼
February
(27)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.