Nog meer bly is ek omdat dit nie net ‘n toevalligheid is nie. ‘n Mens sien die optrede van die polisie al ‘n geruime tyd en ‘n mens kan sien dinge is aan die gebeur. Reeds net deur hulle netjiese, nuwe voertuie merk jy dit op. Hulle ry op bromponies en fietse in ons dorp rond . Maar ook sien ‘n mens hulle op die strate, dikwels op laat ure en in ondankbare tye. Met die studente jool het die patrollie-motors in klompe deur die strate gery in ‘n poging om die ontstellende stroom van dronk skoolkinders en studente te beheer. Daar is dinge aan die gebeur, dink ek bly.
Ek voel dus amper lus om na hulle te stap en vir hulle dankie te sê dat hulle daar is en ‘n ogie hou.
Terwyl ek agter hulle aanstap, gaan vier van die polisie skielik staan. Een van die vier roep na ‘n jong seun van 16 jaar wat stilweg op sy eie verby hulle stap. Hy het so pas teen die rivier se wal opgestap en al met die voetpaadjie langs die rivier na die atletiek-stadion geloop waar daar vandag ‘n groot byeenkoms is.
Die polisieman roep kru na die seun wat verslae voor hom staan. Hy snou hom toe: “Waar kom jy vandaan? Ek het jou gesien opklim teen die wal van die rivier? Wat het jy daar gaan doen? Het jy daar loop pis?”
Die seun staan verbouereerd voor die snouende polisieman en sy drie vriende. “Moenie vir my lieg nie,” verskree hy die skoolseun verder. “Ek kan mos die pis teen jou broek sien.”
Die straat is besig. Daar is heelwat motors wat op en af in die Laan beweeg. Mense loop en hardloop verby ons. Dit is ‘n besige weeksdag. Te midde van al hierdie gevoel speel die drama hom in die klein af. Die kind is bleek geskrik en staan beskroomd voor die skellende polisieman. En die polisieman, nog self in sy twintigs, is in sy element. Hy het ‘n prooi gevind en slaan nou met mag en mening toe.
Ek gaan doelbewus staan, naby, sodat die polisieman my kan sien. In hierdie dae waarin lyfwagte mense in die tronk gooi omdat hulle gebare vir ‘n motor-optog van politici maak, is mense nog maar steeds weerloos teen magsmisbruikers. En wie kan nou vir die stomme kind instaan?
Vir ‘n paar minute gaan die geskel aan. Maar omdat ek omgedraai het en die hele petalje van nader gaan beskou het, doelbewus, kom ek agter dat die stoom so bietjie uit die geboelie is.
Toe die polisieman die seun laat gaan, stap ek na hom toe en stel myself voor. Die polisieman is vol bravado. “Konstabel,” sê ek vir hom, “jy het nou net ‘n kind vir die res van sy lewe ‘n teensin in die polisie gegee. ‘n Polisieman moet respek inboesem, nie angs nie.”
En so ontwikkel ons gesprek hier in ons dorpie se strate. Ek prys hom vir die polisie se teenwoordigheid. Ek stem met hom saam dat die rivier in ‘n vieslike toestand is en dat die polisie nie genoeg kan doen om leeglêers vas te vat nie. Ek probeer hom wys dat daar in my reaksie ‘n poging tot welwillendheid is.
Die polisieman is bot. Hy is nie lus vir my gepraat nie: “Ek kan hom nou polisiekantoor toe gevat het en laat aanhou het en dan moes sy ouers hom daar kom haal,” vertel hy my dreigend, vol van sy eie gesag. “As mense na my kyk, moet hulle weet hulle moet luister.”
‘n Sestienjarige seun wat onnadenkend ‘n dom ding gedoen het, op die manier verskel en verskree asof hy deel is van die smoordronk kriminele wat winkelwaentjies in die rivier slinger, drankbottels stukkend slaan en ure lank lawaai? Sonder dat hy ‘n skewe woord teenoor die polisieman uiter? Terwyl hy met verskrikte blik die geraas aanhoor en duidelik geïntimideer is?
Ek voel die magteloosheid in my opstoot. Hoe meer bisar kan dinge nog word? Dat ‘n mens die moontlikheid moet bedink dat ‘n dom skoolseun soos ‘n geharde misdadiger na ‘n polisiekantoor toe geneem moet word om eers in sy ouers se sorg afgegee te word omdat hy sy nood by ‘n rivier verlig het – hoe verkeerd dit dan ook al mag wees?
Ek praat met vriende daaroor. Ek het gemengde gevoelens. ‘n Mens wil nie op ‘n enkele manier goeie werk teen misdaad bevraagteken nie, maar hier is duidelik iets verkeerds. “Omgekeerde rassisme,” sê ‘n goeie, bedagsame kollega van my . Ek wonder. Dalk het dit inderdaad nie vir daardie polisieman om die vermeende oortreding gegaan nie, maar om die outjie sommer net plat te loop. In ons land met sy slegte verlede is daar wel nog steeds, selfs onder die jongeres, gevegte wat sommige harde mense dink oor en oor baklei moet word. Maar kan dit werklik wees dat rassisme hier ‘n rol gespeel het? Is daar nie iets diepers aan die gang nie – ‘n donkerder mag wat ook die hatigheid van rassisme dryf en die diepste oorsaak is van een mens se afknouerigheid teenoor die ander?
Of is dit plein magsbeheptheid?
Wat is dit wat maak dat iemand wat mag het, wat weet hoe sy of haar optrede iemand anders se lewe kan beïnvloed, dit misbruik om die ander by te kom, te verneder en skade aan te doen?
Wat is dit wat hierdie polisieman in die uniform van beskerming, ‘n boelie maak? Waarom het die polisieman se opleiding hom nie teen sulke soort van gedrag gewaarsku nie? Want dit is nie net daardie seun wat die hele petalje moes beleef nie, maar ook ek wat in my vertroue geskok is en, bowe al, hy wat in sy menslikheid misluk het.
Watter kultuur dryf hom daartoe dat hy in sy werk sy menslikheid verloor? Hoe vermy ons dit dat ‘n polisiemag deur ‘n skop-en-dreig kultuur gedryf word? Hoe keer ons dat ons polisie boelies in plaas van beskermers van die wet en van mense word? Op watter maniere kan die polisie in ons land uit hulle pad gaan om vertroue in te boesem by alle burgers?
As predikant het ek ‘n groot kontinent polisie bedien en self beleef onder watter geweldig druk hulle werk. Ek het altyd ‘n besondere affiniteit gehad vir die polisiemag as een van die belangrikste burgerlike instellings van die samelewing. Onder die polisie-lede het ek mense van besondere kwaliteit en met besondere gawes leer ken. Dit het my veral geïmponeer hoe dit juis die goeie, karaktervaste polisielede was wat leiersfunksies gekry het. Ek het sout van die aarde in die polisiemag leer ken. Taai, moeilike, kwaai mense – maar dikwels mense van integriteit. Daarom ook my blydskap vir enige teken dat die polisie se status herstel word.
En vir ons wat wil sien dat die polisie herstel word tot ‘n bekwame samelewingsdiens met integriteit, is sulke ervarings soos wat ons in onlangse tye beleef, ‘n teleurstelling.
In Engeland is een deel van die vereistes vir ‘n polisielid dat hy of sy ‘n gevoel van vertroue by die publiek moet kan opwek. Mense moet die vrymoedigheid hê om ‘n polisielid te vra vir hulp en bystand. Die polisie moet verdraagsaam wees, sonder om papsakke te wees. Hulle moet vriendelik wees, maar steeds weer beslis kan optree. Hulle moet met insig kan handel en kan agterkom wanneer hulle gesag negatief uitgedaag word – sodat hulle dan met die nodige strengheid kan optree (http://www.policecouldyou.co.uk/officers/overview.html).
Maar, besef ek, dit is sekerlik nie net waar van die polisie nie. Enige magsposisie moet streef daarna om vertroue te wek. En dit word net bereik wanneer iemand van mag ingestel is om die ander te dien.
Ek onthou dat Henri Nouwen ook só oor die kerk gepraat het. Hy het dit gedoen binne die konteks van die nogal gewilde idee dat 'n geestelike "heers" oor 'n kerk of gemeente. Die predikant is die boonste punt van 'n driehoek - die een op die top. Nouwen verskil hiervan. ‘n Predikant, ook iemand in ‘n magsposisie, het alleen werklik mag as hy dien. Ons moet, skryf Nouwen, aan mag in terme van ‘n omgekeerde driehoek dink. Die gemeente of gemeenskap as die breë lyn is bo, aan die top. Die predikant as die dienaar wat hom- of haarself gee tot diens, is die onderste hoek.
Egte mag het iemand net as dit tot voordeel van die ander gebruik word.
'n Mens kry maghebbers, maar dan kry jy die magslustiges.
Ek is nog steeds verwonderd hoedat my gevoelens van blydskap en dankbaarheid so onverwags en so skielik radikaal omgekeer kon word toe die polisieman daardie seun so kru bygekom het.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.