Thursday, February 04, 2010

Die dieper besef. Oor bewuswording van wat regtig saak maak.

Ek onthou hoe Nouwen se boek oor die Terugkeer van die Verlore Seun my ingetrek het in ‘n reis wat ek nooit beplan of voorsien het nie, maar miskien onbewus begeer het. Dit was hierdie boek wat my vir die eerste keer “bewustelik” laat ervaar het dat daar "nuwe" dinge aan die gebeur is in die Christendom en in die teologie. Ek het ontdek dat oor die aardbol heen mense ou skatte herontdek en dat dit hulle op nuwe avonture stuur.

En daarmee het ek betrokke geraak by Spiritualiteit as 'n wye verskynsel wat mense se lewens omvorm het en as 'n gevestigde area van ondersoek. Dit het tot my deurgedring dat iets wat ek oor jare heen iewers aangevoel het, 'n behoefte was aan dinge wat eintlik al voorheen oor eeue heen in Spiritualiteit bedink en beskryf is en wat ons langs die pad verloor hetg. En daarmee het ek my reis met Spiritualiteit bewustelik begin.


Daar was ‘n paar dinge aan Nouwen se boek wat my geraak het, meer as wat 'n mens hier sou kon beskryf. Aan die een kant was daar ‘n merkwaardige oomblik van intertekstualiteit wat ek nog nie op die kansel of in bybelstudies of in die akademie gehoor het nie. Nouwen vertel in sy boek dat toe die seun deur sy pa omhels is, het die pa in sy oor gefluister: “Jy is my geliefde Seun, in jou het ek ‘n welbehae.” Ek onthou hoe duidelik hoe hierdie opmerking my geraak het. Daarmee kombineer Nouwen die Gelykenis van die Verlore Seun met die doopverhaal van Jesus. Min eksegete sal waag om so kreatief te wees – om twee tekste wat skynbaar min met mekaar te doen het, só met mekaar te verbind.

Dit was vir my dié definiërende oomblik in my lewe toe ek ervaar het hoe hierdie teks, die teks van God, my vir ‘n oomblik, maar dan sekerlik ook vir ‘n leeftyd aanraak.

Eintlik, as 'n mens daaroor begin dink, is Nouwen se kreatiewe verbintenis van die doop en gelykenis sinvol. Die doopverhaal vertel van die intieme eenheid van Vader en Seun wat veral in die goddelike seënwens na vore kom wanneer God liefde teenoor die Seun verklaar. Dit is ‘n beskrywing van “bo” van wat liefde is. Dit is dieselfde intieme liefdeseenheid tussen Vader en seun wat by die seun se terugkeer in die gelykenis uitgebeeld word. In albei verhale word liefde oorvloediglik en onvoorwaardelik uitgestort. Eintlik maak dit sin. Maar - niemand het dit nog ooit gedoen nie. En waar dit toe wel gebeur, maak dit mense bewus van wat saak maak.

Ek onthou goed hoe ek eensklaps deur hierdie kreatiewe kombinasie van Nouwen “bewus” geraak het van wat liefde is – daardie hartstogtelike verlange en vreugde wat enige verhouding so besonders maak. Ek het besef: Ja, dit is so. Die vader wat daardie ellendeling van ‘n seun wat sy goed op lekker dinge van die wêreld gaan uitmors het, terugverwelkom en hom boonop omhels, is iemand wat spontaan en totaal uit die liefde leef. Hoe ongelooflik is die liefde nie, dat dit so totaal oorvloediglik kan wees.

Hierdie verhaal, het ek begin voel, is nie 'n verhaal van bekering nie, soos so baie eksegete en predikers dink nie (en dan grusaam oor die verlore seun se slegtheid tekere gaan - soos sy ouer broer). Dit is die verhaal van Oneindige Liefde. En so ‘n liefde kan net van God kom. Daar is iets bonatuurliks, ongewoon, mistiek, verborge aan die liefde: liefde, besef jy verwonderd, is vir God eenvoudigweg net op die mens gerig en het niks te doen met liefde wat "verdien" moet word nie.

Dit is min dat dit tot jou “deurdring,” dat jy bewustelik “voel” en “weet” en “ervaar” dat God se liefde onvoorstelbaar groot en goed is. ‘n Mens leef so in die liefde dat jy dit sommer net aanvaar en dan voortkarring met jou lewe. Maar op ‘n dag tref dit jou en jy staan eintlik verras ‘n ent terug: hierdie liefde wat so normaalweg deel is van my geestelike reis is eintlik iets oorrompelends.

Op die manier vind daar ‘n verdieping van jou belewing plaas. Wat deel is van jou ervaring, word skielik intenser. “Hoekom,” sê jy vir jouself, “sien ek dit dan nou eers so raak?” “Hoekom het ek dit nog nooit so ervaar nie?” Jy word omvorm, getransformeer. Jy is nie meer dieselfde mens voordat jy Nouwen se boek gelees het nie. Jou geestelike reis het ‘n beslissende nuwe fase bereik.

Dit is spiritualiteit: dit wil jou die dieper dinge in die lewe laat bedink. Dit wil jou die verborge dinge bekend maak. Dit wil jou ervaring verdiep. Wat nogal iets anders is as om van jou ‘n slim mens te wil maak wat dinge “beter verstaan.” En spiritualiteit wil daarom 'n mens se bewuswording prikkel. In spiritualiteit gaan dit om my totale betrokkenheid by die dinge van God.

Die boek van Nouwen het my teruggestuur na die gelykenis van die verlore seun en vir my dit nuut laat verstaan. Maar uiteindelik het dit veral iets aan my gedoen. Uiteindelik het sy boek my laat besef – en dit was ‘n ander spesiale oomblik – dat hierdie ryke liefde van God vir die Seun en van die Pa vir die Verlore Seun, die liefde is wat God vra ons vir mekaar moet gee. Op ‘n verrassende manier onderstreep Nouwen dit wanneer hy die Bergrede aanhaal: ons moet barmhartig wees soos God barmhartig is. Dit is ‘n transformasie van die mens in die gelykenis van God. En, besef ek nou, daarmee het ek 'n geestelike reis begin waarin ek gedurig meer en meer wil groei in die ervaring en bewussyn van God se dinge, die dinge wat saak maak.

Nouwen beklemtoon telkens in sy boek dat die liefde geen grense het nie. Deur wat hy skryf en deur die gelykenis het ek besef dat ek aangegryp het omdat ek getoets is op die hart van my geloof: sal ek dit kan waag om te waag met die liefde? Sal ek kan gee verby die grense wat ek aan mense stel, sal ek die ou argument kan opgee: "As julle my goed behandel, sal ek julle liefhê. As julle my nie in die rug steek nie, sal ek ook vir julle omgee." So kan dit nie werk nie. In my het hierdie boek seker grense afgebreek deur vir my te leer wat regtig saak maak - en dit is dat 'n mens so liefdevol soos God word, al vra dit wat ookal van jou.

Die boek het my gehelp om te besef wat werklik saak maak – al was dit nogal ‘n waaghalsige kwessie wat hier saak gemaak het. Ek kon deurdring verby oppervlakkige dinge heen, na die verborgene, die diepere, die standhoudende. En dit is mistiek. Om die verborge raak te sien en te ervaar. En wat saak maak, skryf Beckett (in Green se artikel) is om aan God te behoort. Spiritualiteit en mistiek gaan om die eenwording met God. Meer nog: spiritualiteit gaan om ‘n besef wat by jou deurbreek hoe belangrik hierdie eenwording is. Ons harte verlang na en smeek om liefde. Ons mis dit. Ons sien dit nie. Dit is afwesig in ons lewens. Maar, Goddank, op ‘n dag, in ‘n oomblik, onverwags, skielik, deur ‘n vreemde, kreatiewe woord, of deur ‘n skildery, of ‘n preek, dring dit sterker as ooit tevore tot ons deur. Dit is sulke tye dat ons meer as ooit ervaar ons is by God.

Ek sit eenkant, alleen, stil nadat ek slegte nuus gehoor het. Dit is nuus wat ek na God bring in gebed, terwyl ek vra dat God ook in hierdie gebeure by my moet bly. En dan dring dit tot my deur: maar ek kan daaraan vashou. Ek kan leef in God se nimmereindigende liefde. En daarmee verdiep my besef van God se liefde. Wat tel, besef ek, voel ek, ervaar ek, is nie meer die slegte nuus nie. Wat saak maak is nie wat sal gebeur in ons menslike bestaan nie, al die slegte nuus wat ons beleef nie. Alles, dring dit tot my deur, is klein, verganklik, niks en nietig in die lig van die Goddelike liefde. Wat saak maak is dat ek nou, hier terwyl dit in my raas van seerkry, die vrede moet kan beleef wat alle verstand te bowe gaan.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive