Wednesday, February 10, 2010

Wanneer 'n mens sonde begin goed praat. Oor vervreemding van God.

Die Renaissance van die veertiende tot die sestiende eeu, is altyd ‘n opwindende tyd. In die gedagtes van die meeste mense word dit gewoonlik geassosieer met sulke beroemde figure soos Da Vinci en Michelangelo.

Dit het begin in die ryk, bekende Italiaanse stad Florence. Dit is ‘n tyd dat die individu en die menslike al hoe meer aandag begin kry het. Klem is gelê op opvoeding as ‘n belangrike ideaal. Die opvoeding moes in lyn wees met die groot tradisies van die verlede. Daarom was een van die groot uitsprake “ad fontes!”, terug na die bronne en na die tye van die groot beskawings van Griekeland en Rome. Al die klassieke tekste is weer versamel in kloosters waar dit onder stof gelê en vergaan het en weer uitgegee sodat mense dit kan lees en leer. Stadigaan het die kragtige vernuwende beweging oor die hele Europa versprei na onder andere Duitsland, Engeland en Nederland (Erasmus!).

As die mens as individu al hoe meer aandag begin kry, begin mense kritiese vrae vra oor al die dinge wat menslike vryheid bedreig. Die Renaissance is die tyd waarin eksterne en afdwingende gesag al hoe meer in die slag gebly het. Die Bybel, is geredeneer, kry nie sy gesag van die kerk nie, maar het gesag vanweë sy inhoud. Die historiese bewussen word al hoe groter: mense voel nog meer as ooit die groot gaping met die verlede aan, maar daar is ook nog ‘n sterker intellektuele ontwikkeling. Al hoe meer begin die vraag na die betroubaarheid van die Bybel na vore kom, hoewel eers baie sagkens. Met al die manuskripte van die Bybel wat ontdek is, het mense begin vrae vra oor die verskille tussen hulle. En die verskille moes verklaar word. Een manuskrip lees ‘n Bybelvers op ‘n seker manier, terwyl die ander een dit weer anders weergee. Sulke verskille is onder andere verklaar as die gevolg van menslike oorskryffoute – waarmee die menslike karakter van die Bybel naas sy goddelike gesag al hoe sterker na vore gekom het.

Green se artikel oor die geestelike lees van die Ou Testament het vir my ‘n pragtige analise van Jona wat deur die Renaissance geleerde, John Fisher (1469-1535) uitgewerk is. Hy was ‘n slim man wat veral oor sosiale vrae nagedink het, maar nie ten koste van individuele kwessies nie. Hy het van die klassieke gehou en het die skolastieke teologie van die Middeleeue verafsku. Hy het goeie kennis van tale, tekskritiek, geskiedenis en letterkunde gehad wat hom veral by die uitleg van die Bybel gebaat het.

Ek hou van Green se tipering van Fisher. Tipies die Renaissance mens, wil hy meer fokus op etiek as op teologie, terwyl hy graag na sake vanuit die menslike hoek eerder as uit die goddelike hoek kyk. Wat saak maak is wat ‘n mens doen eerder as allerhande spekulasies oor God. Hoewel hy aandag gee aan die geskiedenis van en in die Bybel, weier hy om die Bybel bloot letterlik uit te lê – hy stel ook belang in die geestelike kant daarvan. En hy weier ook om die Bybel te wild allegories te lees.

Dit alles kom na vore in sy uitleg van Jona. Hy verbind die pragtige Psalm 130 met Jona soos ander dit ook gedoen het (sien vorige blog). Hy verbind die twee omdat hy deur hierdie intertekstuele band die proses van die mens se vervreemding van God wil illustreer. ‘n Mens kan, skryf hy, verskeie stappe uitlig om te illustreer hoe Jona in sonde verval het. Uit die gebeure in die Jona-boek lees ‘n mens sy reis weg van God:

· Hy vlug van God

· Huur ‘n skip

· Gaan aan boord

· Gaan in die binnekant slaap

· Beland in die see

· en in die walvis se maag

· Jona het berou en roep tot God

Dieselfde proses merk ‘n mens in Psalm 130. Maar hierdie keer word die konkrete stappe vir Fisher in geestelike taal weergegee:

· ‘n Mens stem in om te sondig

· ‘n Mens soek ‘n kans om te sondig

· Die sonde word bewustelik en berekend gedoen

· ‘n Mens maak ‘n gewoonte om te sondig

· Die sonde word goedgepraat

· Die sonde haal iemand in en die sondaar roep na God

Vir Fisher is hierdie geroep na God en God wat gereed is om op die mens se geroep te reageer, die sleutelmoment in die geestelike reis.

Ek het hierdie uitleg nou al ‘n paar keer gelees. Waarom is dit vir my so ‘n gepaste uitleg? Is hierdie Renaissance-interpretasie van Jona “te” allegories? Waarom klink dit vir my nogal in die kol?

Ek is verwonderd oor hierdie proses van vervreemding wat dikwels in die lewe van goeie, godsdienstige mense voorkom.

Hoekom klink hierdie proses so bekend en “voel” dit vir my nogal raak?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive