Friday, February 19, 2010

Wanneer Jesus opstaan

Johannes Evangelie gebruik in sy evangelie ‘n woord vir die kruisiging wat twee dinge kan beteken:

  • Eerstens kan dit “oplig” beteken en wys op Jesus wat gekruisig word.
  • Tweedens kan die “verhoging” beteken. Dan wys dit op die kruisiging as Jesus se verheerliking (sien vorige blog).

Wanneer Johannes-Evangelie só oor die kruisiging praat, wil dit eintlik sê dat ons aan die kruis uiteindelik en finaal ontdek wie Jesus is. Aan die kruis, skryf Schneiders, sien ons in Jesus wat God eintlik vir die wêreld wil hê en hoe Jesus in sy sending hierdie wil van God volledig uitvoer en beliggaam. Daarom ook Jesus se merkwaardige laaste gebed in die Evangelie: “Dit is volbring.” Maar daar is meer as net 'n beeld van God in Jesus. Wanneer Jesus aan die kruis vasgenael word, is dit eintlik sy “troonsbestyging” - daar is 'n "heerlike" bevestiging van Jesus se uitsonderlikheid, sy goddelikheid.

Johannes Evangelie is ‘n mistieke Evangelie. Die Evangelie wil die lesers bewus maak van die werklike betekenis van Jesus se kruis. Dit onthul die verborgenheid in die kruisgebeure. In die eerste deel van die evangelie sien die leser hoe Jesus die Een is wat God gestuur het om vir mense te vertel wie God is. Daar is ‘n intieme verhouding tussen God en Jesus, soos ons in die vorige blog gesien het. Die kruis wys vir ons die afloop van die sending: Jesus keer uiteindelik na God terug.

Johannes Evangelie skryf dus: Wanneer mense na die kruis kyk, herken hulle in Jesus se kruis die hoogtepunt van hoe God op ‘n besondere manier aan die werk is. Hier praat God soos nêrens anders nie en God praat deur die dood van die unieke, spesiale seun van God. Die Seun van die mens sy lewe af vir sy vriende, wys vir hulle wat dit beteken om ander tot die uiterste te dien. Hier word voltooi wat hy op ‘n ander manier vir hulle laat beleef het toe hy hulle voete gewas het. Daar is niks goddelikers, niks aangrypenders as wanneer iemand sy lewe vir sy vriende aflê nie. Dít kan net van God af kom.

Dit alles is boeiend en spesiaal - dit laat die kruis uitstaan as 'n uitsonderlike betekenis , as iets heerliks. Maar wat nou van die opstanding? As die kruis dan só belangrik is vir Johannes en as ons in die kruis die Verborgenheid in sy absolute sin ontdek, waarom is daar dan ‘n opstanding?

Johannes het wel opstandingsverhale in sy evangelie. Anders as wat sommige mense dink is daardie verhale nie maar net ‘n los, aangelaste slot van sy boek nie.

Volgens Schneiders is Jesus se opstanding vir Johannes ‘n vertelling oor wat met die dissipels gebeur het. Hy wil vertel hoe Jesus na sy dood na hulle terugkeer, net soos hy tydens die Laaste Maal belowe het in Johannes 14:19-20: “Ek sal julle nie alleen as wese agterlaat nie. Ek kom na julle toe. Binnekort sal die wêreld my nie meer sien nie, maar julle sal my sien. Omdat ek lewe, sal julle ook lewe. Daardie dag sal julle weet dat ek in my Vader is en julle in my en ek in julle.”

Hieroor gaan die vier verhale in Johannes 20 met 'n sekere klimaktiese gang.

· Eers sien en glo, soos Schneiders skryf, die geliefde dissipel by die graf – al verstaan hy en die ander dissipels nie mooi wat aangaan nie (Joh.20:9!). Hulle weet Jesus leef – maar hulle besef nog nie dat Hy na hulle gaan terugkeer nie.

· In die volgende verhaal ontmoet Jesus vir Maria. Sy “sien” Jesus self en word oor die opstanding ingelig. Sy word nou ook 'n sendeling; sy gaan deel haar ervaring met die ander dissipels (Joh.20:18!).

· In die volgende verhaal ontmoet Jesus sy dissipels self. Hier beleef die dissipels die opgestane liggaam van Jesus. Jesus wys sy hande en voete vir hulle (Joh.20:20)! Hulle ontvang die Heilige Gees en word uitgestuur om sondevergifnis te gaan verkondig.

· In die laaste verhaal wil Thomas nie Jesus se wil vir die nuwe tyd na die opstanding aanvaar nie – hy wil die ou bedeling terughê waarin Jesus fisiek gesien word voordat hy glo. Thomas besef en aanvaar dat dit nou die tyd is om te glo sonder om te sien.

Dit alles kom tot 'n hoogtepunt in Johannes 20:30-31. Hier word vertel dat die Evangelie geskryf is vir hierdie nuwe bedeling van Jesus se heerlike teenwoordigheid in die gelowige gemeenskap. Mense wat die Evangelie hoor en tot geloof kom, word deel van Jesus se nuwe gemeenskap. Hulle kom tot die lewe, ontvang 'n nuwe bestaanswyse wanneer hulle hierdie verhaal oor Jesus hul eie maak. Hulle word word getransformeer tot ‘n nuwe lewe, tot geloof, tot ‘n nuwe verhouding met Christus.

Die opstanding is tradisioneel vir baie gelowiges in die eerste plek ‘n verhaal oor wat met Jesus gebeur het. Dit is Jesus se groot oomblik – die einde van sy lydingsweg.

Vir Johannes is dit maar net 'n deeltjie van 'n groter verhaal. Vir hom is dit belangriker dat ‘n mens nie aan die opstanding van Jesus dink sonder om aan Jesus se dissipels te dink nie. Jesus se lewe word getransformeer. Maar Jesus se volgelinge se lewe word ook radikaal omgekeer.

Hier gaan dit nie om eers Jesus en dan die dissipels nie. Jesus se opstanding is Jesus se reis na hulle wat naby aan Hom was. Jesus se opstanding gaan veral om Jesus se terugkeer na hulle. Jesus se dissipels word nou deel gemaak van die intieme band met God en heerlikheid.

Wat ‘n verweefdheid tussen die goddelike en die menslike! Jesus se opstanding is Jesus se reis na almal wat Hy lief het en wat vir Hom lief is.

Dit is om gedurig oor na te dink:

Johannes 14:19-20: “Ek sal julle nie alleen as wese agterlaat nie. Ek kom na julle toe. Binnekort sal die wêreld my nie meer sien nie, maar julle sal my sien. Omdat ek lewe, sal julle ook lewe. Daardie dag sal julle weet dat ek in my Vader is en julle in my en ek in julle.”

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive