Sunday, November 13, 2011

Gebed, die Woord en transformasie

Augustinus vertel in sy Belydenisse die volgende verhaal van die groot omkering wat in sy lewe plaasgevind het:

Ek het onder ‘n vyeboom neergeval met ‘n hartseer gemoed. Uit my oë het trane gestroom – ‘n offerande aan U. En ek het met U gepraat met hierdie een doel voor oë: Hoe lank nog, o Here, hoe lank, sal U vir altyd toornig wees? Dink tog nie aan ons vroeëre onreinhede nie, want ek het gevoel asof hulle my vasketting.

Ek het hierdie treurige woorde bly sê: Hoe lank, hoe lank, môre, môre? Waarom nie nou nie? Waarom kom my onreinheid nie op hierdie oomblik tot ‘n einde nie?

Op die manier het ek bly praat en huil met ‘n bittere hartsberou.

Toe, sowaar, hoor ek uit die huis langsaan ‘n kinderstem wat singend herhaal: “Neem en lees; neem en lees.”

Dadelik het ek begin wonder of kinders ooit sulke dinge sou sê. Ek kon nie onthou dat ek ooit so iets gehoor het nie. Ek het ophou huil en opgestaan, want ek het besef dit is niks anders as ‘n opdrag van God om die boek oop te maak en die eerste gedeelte te lees waar ek oopgemaak het.

Ek het van Antonius gehoor hoe hy op ‘n keer by sy lees van die Evangelie ‘n boodskap gekry het: “Gaan verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan en volg my.” En dit is deur so ‘n spreuk dat hy tot bekering gekom het. Ek is gretig terug na die plek waar Alupius gesit het; want daar het ek die tekste van die Apostel daar gelos toe ek opgestaan het.

Ek het dit gegryp, oopgemaak en die deel waarop my oog geval het, in stilte gelees: Daar moet geen dronkenskap en uitspattigheid, geen rusie en jaloesie wees nie. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.  

Ek het nie verder gelees nie; ek hoef ook nie verder te gelees het nie. Onmiddellik na ek gelees het, het, deur ‘n lig van ootmoed wat in my hart uitgestort is, al die donker twyfels in my verdwyn.
 

Saturday, November 12, 2011

Gebed en mantra’s (2)



Verrinneweerd, maar wagtend en gereed vir die Gas....


Gister het ek bietjie besin oor mantra’s wat ‘n mens op die eerste oogopslag kan herinner aan so iets soos die Jesus-gebed. Die Jesus-gebed is ‘n ou Christelike tradisie wat daarop neerkom dat ‘n mens ‘n frase soos Kyrie Eleison (Here, ontferm U oor my) aanmekaar herhaal sodat ‘n mens vanuit ‘n gebedshouding leef.

Mantra’s is vandag besonder gewild by baie Westerlinge as ‘n poging om innerlike vrede te midde van hul stormagtige en gejaagde bestaan te vind. ‘n Mantra is ‘n frase of woord wat met intense konsentrasie herhaal word en wat ‘n mens se innerlike op verskeie maniere staal en stut.

Wanneer ‘n mens na die Bybel kyk, kry ‘n mens soms gedeeltes wat aan mantra’s herinner. Daar is byvoorbeeld byna mantra-agtige Psalms. Dink maar aan Psalm 136 met sy herhaling (26 keer) van die frase: “aan sy liefde is daar geen einde nie” aan die einde van elke sin.

Die herhaling van die frase bewerk ‘n wonderlike en intense fokus op die Goddelike uitreiking in liefde na die mens. Wie aanmekaar op hierdie manier oor die liefde sing, kan ingetrek word in ‘n atmosfeer van geborgenheid. Dit is asof ‘n mens daarmee wil uitdruk dat jy nie genoeg daarvan kry dat God liefde is en dat ‘n mens gedurig in die bewussyn van hierdie liefde wil bly leef. ‘n Mens word deel van ‘n liefdesruimte wat soveel groter as ‘n mens is en wat ‘n mens se lewe vul met ‘n eindelose rykdom.

Hierdie Psalm wys egter op fundamentele verskille tussen Christelike gebed en Boeddhistiese mantra’s. Dit is, trouens, ‘n wesenlike verskil tussen mantra’s en Christelike gebed.

In die fokus van hierdie Psalm en in Christelike gebede lê die genade en die liefde wat van buite na die mens kom. God skenk die liefde. Anders as in ‘n mantra, reik die mens nie uit na God om hierdie liefde te bewerk nie en om daarby uit te kom nie. Deur die herhaling van die liefdesuiting in Psalm 136 besing die Psalmis juis hierdie liefde wat God sonder enige inisiatief van die mens se kant af uitgedeel en geskenk het.

Hiermee saam hang ‘n verdere insig: Die Christelike gebed is ‘n reaksie van die mens op die intimiteit wat gevind word in God se teenwoordigheid in mense se lewens. God self, bely die Christendom, is as “Persoon” by mense en kom ongevraagd om die mens in liefde aan te raak. God bly die een wat uitreik en handel. In Psalm 136 word byvoorbeeld ‘n klomp dinge opgenoem wat God gedoen het. Liefde het dus allereers te doen met ‘n verhouding tussen die persoon van God en die mens as persoon. Wat die mens ervaar is hoe Iemand hom of haar in ‘n intieme eenheid opsoek en Sy eie maak. God is nie een of ander onpersoonlike mag wat ‘n mens deurtrek en besiel nie. Steeds weer bly die bidder bewus van alles wat God altyd doen om vir mense die heil te skenk. Juis daarom kan die mens met God praat, by God in stilte wees en reken op God se intieme nabyheid. En juis daarom is dit ‘n liefdesverhouding.

‘n Verdere moment help ook om die verskil van gebed en mantra’s te verduidelik. Telkens weer word gebed binne ‘n Christelike konteks gedra deur die bewussyn van hoe afhanklik ‘n mens in sy of haar swakheid van die Goddelike bemoeienis is omdat ‘n mens self nie altyd orent kan bly nie. Die ondertoon is dat ‘n mens feilbaar voel en slegs in die teenwoordigheid van die Ewige Liefde krag ontvang en uitleef. Die belangrike is nou dat die menslike moment, die menslike swakheid nie in gebed ontsnap of agtergelaat word nie, maar die mens word in sy of haar swakheid word getransformeer en geheilig. In hierdie proses ontdek die mens ook al hoe sterker dat eenheid met God vra afstand van die kwaad. ‘n Mens word in swakheid gesteun om met nuwe momentum ‘n lewe vol sin en betekenis, sonder die kwaad, te voer. Dit sluit ook die liggaam in – met al die emosies, gevoelens, passies en innerlikhede wat deur of in die liggaam beleef word.

In die Christelike gebed verdwyn die bidder nie van die toneel af om opgeneem te word in die Oneindige nie en in totale niksheid weg te sink nie. Dit is wel waar dat die bidder “minder” word en God meer. Of dat die bidder nie meer leef nie, maar Christus in hom of haar. Dit beteken egter nie ‘n wegraak of verdwyn van die mens nie.

Uiteindelik is ‘n mens deur gebed aktief in die wêreld betrokke. Trouens, die bidder soek om vanuit sy of haar swakheid getransformeer te word tot aktiewe meelewing met ander en tot transformasie van die skepping van God. Deur een te word met die liefde van God, word die bidder ‘n agent vir verandering. Dit beteken ‘n stryd teen kwaad en ongeregtigheid, insette tot ‘n gemeenskap van liefde en bewaring van God se skepping.

Tog kan ‘n mens van die Boeddhisme bewonder dat dit die aandag vestig op verinnerliking en konsentrasie. Gebed is nie maar net ‘n gepraat met God nie. Dit is ‘n intieme beskikbaarstelling met alles wat in die mens is vir God om in die mens te werk. Daarmee word die hart van die mens met mag en mening, met ‘n innerlike verlange en konsentrasie oopgestel as woonplek vir God van waaruit alles wat ‘n mens dink en doen in die teken van die liefde te staan kom. 

Verder is die een wat bid nie bloot die passiewe ontvanger nie. Hy of sy soek aktief om vir die onverwagte koms van God gereed te wees. En van die mantra’s kan ‘n mens ook leer dat ons verlangende taal in ons ‘n verlangende, afwagtende lewenshouding skep wat ‘n oop ruimte word vir die koms van God. Wat tel is nie die oor en oor herhaling van woorde nie, maar wat tel is hoe die herhaling van woorde ons hart fokus op God, die bron van die liefde.  

Friday, November 11, 2011

Gebed en mantra’s (1)


Weg van die gedruis in die oop ruimte.....

Ons dolle gejaag laat die behoefte aan ‘n stressvrye bestaan net sterker word. Vandaar die ontvlugting oor ‘n naweek na ‘n stil plekkie waar ‘n mens “kan wegkom van alles,” die vakansie aan die einde van die jaar, die verlekkering in die tuiskoms na die lang werksdag.

Dit gebeur ook in godsdiens en in die kerk. In die kerk afsonderingsgeleenthede ook baie gewild. Maar meditasie kom ook, insiggewend genoeg, sterk na vore: die Boeddhisme bied aan vele belaste en gejaagde mense die oplossing vir hulle oorlaaide en frenetiese lewensstyl.

Die boodskap waaraan hulle vashou, is eenvoudig: ‘n Mens kan in die Boeddhistiese tradisie volmaakte vrede bereik en aan al die ellende in die wêreld ontvlug deur allerhande meditasie tegnieke. Een hiervan is om ‘n mantra te herhaal, maar met diepe konsentrasie en fokus.

In ‘n Christelike konteks word hierdie Boeddhistiese tradisie dikwels oorgeneem. Mense sou dus byvoorbeeld die Jesus-gebed (Kyrie Eleison) as ‘n soort mantra beskou.

Hoewel dit alles eenvoudig klink, is die tradisie waaruit mantra’s kom, baie kompleks. In die massiewe materiaal oor die Boeddhisme is die materiaal byna onoorsigtelik. Die Boeddhisme het immers in groot lande soos China en Indië, asook in ou tradisies soos Japan en Tibet baie vorme aangeneem en in vele tale voorgekom. Trouens, daar is groot dispute oor wat dan nou “eg” Boeddhisties is. Saam daarmee is daar dus vele mantra’s, terwyl daar allerhande dispute is oor of en hoe van hulle gebruik moet word. Daar is byvoorbeeld ‘n magdom van mantra’s wat volgens sommige kenners boonop op ‘n sekere toonhoogte voorgedra moet word en waarvan die woorde op ‘n spesifieke manier uitgespreek word.

In die handel merk ‘n mens spoedig op dat daar baie CD’s is waarop Boeddhistiese dreunsange opgeneem is.

‘n Mantra is ‘n kort formule wat ‘n mens oor en oor herhaal – dit kan in verskeie van die tale waarin hulle ontstaan het, gedoen word. Die opsê van mantra’s word deur baie mense in Westerse lande in ‘n vertaling gedoen, omdat hulle aanvaar dat die oorspronklike taal nie noodwendig magiese krag het nie. Maar hieroor bestaan daar verskil van menings omdat dit lyk of daar wel ‘n paar mense is wat dink daar is iets magies in die opsê van die oorspronklike woorde. Ander weer, reken dat die krag van ‘n mantra is te vind in die toewyding waarmee dit uitgespreek word: dit is so effektief soos die konsentrasie wat ‘n mens daarin sit. Die implikasie is duidelik: sommige mense wil mantra’s op  ‘n verligte manier as ‘n middel sien om innerlike gemoedsrus en vrede te vind. Ander, weer, sien in mantra’s ‘n eksotiese, spesiale manier om met ‘n goddelike gees verenig te word en so aan die uiterlike, materiële dinge te ontvlug.

Daar is baie mantras in Boeddhisme: van die bekendste “Om Ah Hum, Jetsun Guru Padma Siddhi Hum” wat sommige mense 21 keer sê met die doel om ‘n mens te reinig van negatiewe gedagtes. Ook gewild is “Om mani Padme Hum” wat ‘n mens onder andere bevry van lyding onder arrogante emosies, van jaloesie, van begeertes, van gierigheid en van aggressie. Die mantra vir vrede is “Om Santih, Santih, Santih.” Die mantra, “Om Tare, Tuttare, Ture Svaha” word gebruik om ‘n mens tot ontferming en meegevoel te inspireer, terwyl die mantra “Vajrapani Hum” moed gee. Daar is selfs ‘n sogenaamde “groen” mantra wat ‘n mens vir diere gebruik. Dit behels dat ‘n mens dit opsê by dierevleis wat in besighede verkoop word en wat deur slagting doodgemaak is. Die mantra beteken ongeveer iets soos: “Mag hulle wat siek is, gou van hul siekte bevry word. En mag die siekte nooit weer toeslaan nie.”

Sommige mense vertel dat hulle lewens fundamenteel verander word wanneer hulle mantra’s opsê. Hulle ontvang genesing, hulle finansiële probleme word opgelos of kry uitkoms uit ‘n krisis. Ander weer beweer dat sulke sieninge van mantra’s niks anders as bygelowigheid is nie.

Die bestudering van die Boeddhisme en dus ook van mantra’s is deesdae ‘n hoogs gesofistikeerde dissipline. Belangrike denkers uit die Weste is op die snykant van hierdie navorsing. In hierdie dissipline word daar ook diep nagedink oor mantra’s. Een van die maniere waarop hieroor nagedink word is om oor die aard van taal te dink: deur met ‘n mantra klank voor te bring en daardeur verskillende sillabusse te herhaal is in sommige kulture besonder spesiaal en bring vir mense van daardie kultuur vreugde en innerlike vervulling. Dit lyk asof moderne taalnavorsing besig is om te bevind dat sekere klanke inderdaad ‘n mens se geestelike ingesteldheid kan stabiliseer en bevorder.  Sekere klanke het ‘n bepaalde effek op mense. Wanneer ‘n mens dus ‘n mantra met spesifieke klanke en op ‘n sekere toonhoogte voordra, kan dit ‘n mens se liggaamlike kondisie beïnvloed.

Mantra’s kan dus ‘n sielkundige invloed op mense hê en ‘n verskil in hulle lewens maak.

Maar wat het dit nou alles met gebed te doen? En watter plek het ‘n mantra binne die Christendom.

Môre hopelik meer.

Thursday, November 10, 2011

Groter as al ons woorde. Oor die Verborgenheid van God.


Dit gebeur met ons, stilweg, ongemerk, dat ons ons menslike vermoëns vergoddelik.

Maklik hok ons God byvoorbeeld in in die gedagtes wat ons oor God koester en in die woorde wat ons oor God sê.

Wanneer ons dit doen, veronderstel ons dat ons woorde oor God helder en duidelik vertel wie God is, wat God doen en wat die groot waarhede is waarin God vasgevang word.  Ons, mensekinders, kan God bekend maak…

Daar is nie fout met woorde oor God nie. Ons kan tog immers wel oor God praat. En dit is deur die woorde van die evangelie dat God mense aanraak en transformeer. Woorde oor God is goed.

Die verkondiging van die evangelie kan ‘n lewensbelangrike verskil in mense se lewens maak.

Tot op ‘n punt: Daar is grense. Altyd weer het mense gelowig geweet dat God steeds groter as ons woorde en ons taal is.

Deur die eeue het hulle gesien wat gebeur wanneer mense God in woorde wil vasvang: Trouens, steeds weer het woorde oor God die evangelie verdraai en God ‘n onreg aangedoen – soos Petrus se woorde van verraad, Thomas se woorde van ongeloof, Nikodemus se woorde van twyfel en Paulus se woorde van haat en vervolging. Om nie te vergeet van die Galasiërs se wettisisme en die Korintiërs se vrome geesdrywery nie – alles in die naam van die Evangelie.

Die ondenkbare vind soms plaas: Ons verklaar ons taal heilig: op die troon van aanbidding is daar ons netjies uitgewerkte teologieë, ons heiligverklaarde belydenisskrifte, ons suiwer kerkleer. Wie ons woorde het, dink ons, is by God. Die woorde wat ons so suiwer verkondig, is die weg en die waarheid….

Ons het God die gevangene van ons menslike spreke gemaak.

Hier word woorde lasterlik: Niemand moet ooit dink dat ons woorde God vasvang nie.

Deur die eeue heen het God telkens weer menslike spreke oor God tot niet gemaak. Die tempel is weg, die besnydenis het tot ‘n einde gekom. Die feeste van die ou bedeling vier ons lankal nie meer nie. Wat mense in lewensbelangrike rituele en strukture uitgewerk het, kon God in een kort oomblik in die geskiedenis tot niet maak. Al die groot woorde oor hierdie godsdienstige dinge het verstom.

God is groter. 

Hoe kon dit gebeur dat ons begin vergeet het dat God radikaal anders is as alles wat ons kan begryp en dink en sê? Hoe verskuild is dit dan – hierdie arrogansie van ons – dat ons die kreatuurlikheid van ons taal vergeet? Ook ons taal is deur God aan ons geskenk. Dit is deel van die skepping. En hoe kan die skepping ooit vir God vasvang? Oneindig groter, verby al die grepe van ons taal en denke, troon God uit, skuil God, leef God verborge.

Het ons die slothoofstukke uit die boek Job dan so gou vergeet – die hoofstukke waarin die Verborgenheid van God as die groot tema van die boek bely word? Job, immers, roep uit: “Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie…” (Job 42:3).

Die beste wat ons ooit van taal gemaak het is om dit te gebruik om oor God te praat. Maar ons taal is alleen mooi wanneer dit geknoop is met nederigheid, met insig in ons eie kreatuurlikheid. Altyd weer moet ons weet dat ons probeer om in ons woorde iets te sê oor die Verborgenheid wat anderkant ons woorde lê en groter is as die beste van ons taal.

Nederig moet ons aanvaar dat God van ons woorde kan wegstap of hulle tot die ashoop kan verdoem.

Dink maar aan die vrou in die amp, apartheid, hoede in die kerk, manelpakke waaroor daar destyds met soveel woedende woorde baklei is…

Wanneer Paulus diep nagedink het oor uitverkiesing van Israel in die diepsinnige Romeine 9-11, sluit hy af:

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen? Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid.

Hoe lasterlik is, in die lig van hierdie Skrif-woord, die arrogante aanspraak op die onfeilbaarheid van ons God-taal. Elke geslag wat probeer het om ‘n greep op God te kry, moes met verslaentheid ontdek dat God, die Verborgene, nie opgesluit kan word in die stamelende klanke van ons wankelrige woorde nie.

Wanneer ‘n mens nie nederig oor taal is nie, is daar ander gevolge: In vergaderings, sinode’s, byeenkomste, in ons boeke, artikels en ook in alles wat ons oor God kwytraak, praat ons maklik oor God. Ons taal het God gedomestiseer, van God ‘n huishoudelike voorwerp gemaak waaroor ons beskik en wat ons kan hanteer. Ons woorde het God onskadelik gemaak. As ons oor God praat, wil ons God mooi en lieflik en gewild aanbied.

Ons het, ondenkbaar, van God ‘n aangename, lieflike troeteldier gemaak – met respek gesê. Slim, mooi woorde het ons genoeg om alles wat mooi is oor God kwyt te raak.

Eintlik is daar niks ondeurgrondeliks meer aan God nie. Niks gaan ons verstand meer te bowe nie. God is nie meer die radikale Ander Een, wat selfs ons taal tot niet kan maak nie. Die evangelie het ons onskadelik gemaak, ons woorde het die krag daarvan uitgehol.

Min het oorgebly van die onbegryplike verskriklikheid van die oneindige God wat alles uitdaag waarmee ons so verwoed besig is en van alles wat ons met soveel passie jaag.

God is nie meer ‘n bedreiging vir die kwaad in ons nie. As ons die dag kop neerlê, laat ons ‘n lewe van verskrikking agter ons: ons hatigheid, jaloesie, ydelheid, verwaandheid, onbarmhartigheid, oneerlikheid, manipulasie staan as monumente op ons lewenspad.

En met so ‘n geskiedenis agter ons, begin ons dan ook die ewigheid by God.

Daarom spog ons ook met ons wysheid: hierdie lewe is die einde van alles. Ons is tevrede as ons aan die einde van alles in vergetelheid verdwyn. Die dood, vertel ons, is daardie groot, oop leegte, die monsteragtige leegheid waarin ons aan die einde van ons lewe sal verdwyn.

Niks, dink ons eintlik, kan tog groter wees as ons taal, ons skepping, ons realiteit.

In werklikheid is dinge heel, heel anders: Deur die eeue heen het die wyses bely dat in die Verborgene word alle dinge geskape, opgeneem en gedurig gedra. Dit is die hart van geloof - hierdie Onpeilbare alternatief, die Ondeurgrondelike toekoms. Ons het geloof in God, die Een wat ons binne-neem in die ruimte, die plek, die veilige stad waar God Self die Lig is en sal wees – bely ons ook stamelend, soekend (Op.21). Dit is God, groter as ons taal, ons werklikheid, ons denke, wat ons tot die dood toe liefhet, van Wie ons alle dinge ontvang en aan Wie alle dinge sal toekom. Alles, alles en almal is in God en leef uit God.

Dit is die Verborge inhoud van ons taal wat terselfdertyd groter as ons taal is.

Arm is die een wat sy taal leer aanbid het.

Kan ‘n mens dit helderder bedink – hierdie groter, verborge Werklikheid?

Ja, ‘n mens kan tog miskien wel. Toe Jesus die storm op die see stil gemaak het, het die bang dissipels na die tyd gevra: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”

Hier het hulle ‘n ander kyk op Jesus gekry wat hulle nie in woorde kon uitdruk nie. Verwilderd bly hulle alleen met vrae oor. En in die tyd wat vir hulle oor was, sou hulle telkens weer verwilderd word deur wat God oor hulle pad sou bring.

Maar tog: Hulle “woorde-loosheid” oor Jesus word voorafgegaan deur Markus se beskrywing: “Hulle was met groot ontsag vervul” (Mk.4:41).  In hulle verwildering het hulle hul oopgestel vir die Verborgene.

In Hom, Jesus, merk ons dit: Hy is groter as alles wat na ons gedagtes moontlik is. Laat ons met eerbied oor hierdie werklikheid praat. Ons is in die teenwoordigheid van die Verborgene wat al ons denke en taal eksplodeer.

Dan eers besef die een wat die Evangelie van die Verborgene hoor met ‘n onpeilbare vreugde: Laat ons nie bang wees nie.

Aan Karl

Wednesday, November 09, 2011

Wanneer hoogmoed oorgeneem het...


Ek herkou nou al ‘n tydjie aan hierdie woord van Bonhoeffer:

Die prediking van God se Woord is die enigste ernstige bedreiging vir ‘n mensdom wat hoogmoedig geraak het.

Tuesday, November 08, 2011

Sagmoedige geweld - oor opwindende nuwe Afrikaanse gedigte

Ek lees met genot Jacobus van der Riet se gedigte op sy webwerf (www.tabor.co.za). Tot my spyt vind ek nou eers van die bestaan daarvan uit. 


'n Mens lees daar sy religieuse gedigte wat te doen het met heiliges uit die Ortodokse tradisie. Dit is gedigte wat terselfdertyd 'n besondere spiritualiteitskarakter het.


Daar is nog niks in Afrikaans wat met hierdie gedigte vergelyk nie.


Hy skryf net sonnette en dit word aangebied in pragtige Afrikaans.


Die gedigte bied nuttige materiaal waarmee 'n mens kan begin om die Ortodokse tradisie te verstaan. Maar dit vertel ook die merkwaardige verhale van mense wat oor die eeue heen hartgrondiglik deur God se aanraking verander is en wat 'n hoë prys vir hul geloof betaal. Dit is egte spiritualiteitsgedigte.


Van der Riet se gedigte is op die geskiedenis van heiliges in die Ortodokse tradisie gegrond. 'n Mens ontdek egter nie net meer van die geskiedenis nie, maar lees ook in die gedigte 'n spiritualiteitsperspektief op die betekenis van die mense se lewens. Van der Riet is duidelik iemand wat diep nadink oor geloof. 


Ewe aangrypend is die manier waarop van der Riet sy gedigte met die allermooiste moderne ikone verbind. Meer oor die ikone later.


Ek verneem dat sy eerste digbundel volgende jaar gaan verskyn. 


Lees die gedigte by www.tabor.co.za


Hier is een voorbeeld - maar daar is op sy webwerf heelwat ander net sulke pragtige voorbeelde:
           
Die Heilige Moses van Ethiopië (330 - 405 n.C.)
- Feesdag: 28 Augustus


Ontdaan van mededoë soos 'n maanhaarleeu
oorval hy gehuggies of 'n kraal of 'n karavaan
doof nog vir sy hart wat soos 'n kiewiet skreeu
wanneer haar kroos soek is in die donkermaan.



Maar oor die kloostermuur op jag na kos of geld
word hy gegaffel, sodat sy hart nes 'n knie wil swik,
meteens deurpriem deur die sagmoedige geweld
van die ab se ootmoed, deur sy nederige blik.



Nou neem Moses op sy nek die Heer se sagte juk,
Nou bou hy 'n hut waarin hy snags sy hande lig,
en soos in 'n hinderlaag op loer lê, geduldig wag
op die Een wat kom soos 'n dief, teen middernag.
Nou verlang hy na Hom voor Wie elk hartstog swig,
elke drang na bloed of wyn of wywe en elke nuk.





www.tabor.co.za

Monday, November 07, 2011

Spiritualiteit van gebed: om weer lus te raak om te bid.


By ons Spirasa-byeenkoms op 4 November 2011 by Unisa in Pretoria praat ons oor gebed as ‘n spirituele praktyk.

Daar is onder die deelnemers aan die byeenkoms mense vanuit die hele Christelike spektrum van geloofsgroepe.

Trouens, sit en dink ek, ons vergadering is waarskynlik een van die rare plekke in ons land waar mense uit soveel uiteenlopende tradisies bymekaar kom, met mekaar gesprekke voer en almal alleen maar fokus op gebed as tema.

Dit is ‘n sprekende voorbeeld van spiritualiteit: die dogmatiese kwessies, die verdelende strydgesprekke van die verlede ontbreek heeltemal. Hier kom mense bymekaar omdat hulle oor gebed wil nadink. Daar is ‘n spontane fokus op die dieper dinge in ‘n ontspanne atmosfeer van wedersydse ervaring en erkenning.

Ons ander forte is dat ons een van die bekendste skrywers oor gebed vanuit akademiese kringe as spreker het. Sy boek, Wat doen ons wanneer ons bid?, raak aan die moeilikste kwessies oor gebed. En hy skryf daaroor op ‘n helder, fyn manier. Ek het Brummer se boek waardevol gevind en sien met groot verwagting uit na die dag se besprekings. Ek word nie teleurgestel nie. Weer eens beïndruk hy my met die wysheid van sy insigte.

Maar: terwyl ons die eerste deel van die dag fokus op die groot teoretiese aspekte van gebed, gaan ons in die tweede deel van die dag oor na praktiese aspekte. So is dit beplan en so verloop dit presies: Ses mense praat oor die waarde wat gebed vir hulle in hul lewens het. Dit is mense wat al ‘n lang pad met gebed geloop het. In kort mededelings van 15 minute elk, vloei ‘n ryke verskeidenheid van insigte uit hul aanbiedings. Dit is egte spiritualiteit: vertellings oor hoe mense hul geloof in die praktyk, in die lewe, beleef. Hulle vertel van hul reis in en met gebed.

‘n Paar dinge bly aan die einde van die dag by my: Een van die sprekers vertel hoedat sy begin belangstel het in gebed en naderhand begin het om kursusse aan te bied waardeur mense ingelei word in die ryke gebedstradisies wat deur die eeue na vore gekom het. Toe hulle die kursus begin aanbied het, het hulle gehoop hulle sal darem ‘n goeie reaksie kry. Tot hul groot verbasing kon hulle skaars bybly met die groot toeloop van mense wat meer oor gebed wou weet.

Mense het, sê sy, die behoefte om met God te praat, maar weet nie altyd hoe om dit te doen nie. Hulle kursusse word goed bygewoon. En telkens staan mense verstom oor hoeveel gebede daar is en hoe ryk die gebedstradisie is.

Tydens die bespreking worstel ons met die vraag: wat het gebeur dat die lewe in gebed so verarm geraak het? 

En dan dink ons mense is nie eintlik meer godsdienstig nie. Hierdie vrou, uit die hart van die praktyk, weet van anders. Jaar in, jaar uit, bied sy oor die hele land vir mense die kans om dieper ingelei te word in die spirituele praktyk van gebed. En die reaksie is verstommend.

Tog is dit net die een kant: Tydens die geleentheid kom een van die meer “nugtere” kollega’s na my. Sy is iemand wat teologies baie sterk is. Soos vele van ons, weet sy baie van gebed. Baie. En ook van die teologie. Ure lank kan sy oor die Bybel en oor God en oor allerhande teologiese dinge praat.

Maar sê sy, deur die gesprekke van die dag het sy begin besef dat sy eintlik lus raak om weer te begin bid.

Die opmerking laat my vir ‘n oomblik terugstaan. Let op: die “begin.”

Ek herken daarin die ander kant van ons godsdienstige konteks: naas die baie mense wat verlang om met God te praat in gebed, is daar ook onder ons vele mense wat die waarde van gebed toegee en sekerlik van tyd tot tyd hul gebedjies doen, maar wat eintlik nie meer gebed as ‘n spirituele praktyk koester nie.

Ons het biddeloos geword. Gebed is nie meer ‘n spirituele praktyk nie. Ons houding teenoor gebed is argeologies: ons spit dit van tyd tot tyd uit en bekyk dit analities. Of ons het arm in gebed geword: ons veg groot bakleiery oor die vraag of gebed "help" wanneer ons dink gebed is om antwoord op versoeke aan God te kry. 

Ek hoor wat my kollega in haar stil opmerking vir my sê: Al ons teoretiese kennis, al ons goeie gedagtes, alles wat ons so mildelik aan verstandelike insigte besit en deel, beteken nog glad nie dat gebed deel is van ons lewe nie.

Nodig is spiritualiteit, wat ‘n mens bewus maak van geloofsverarming: die toeëiening van geloof, die belewing van alles wat ons oor God dink en praat – dit is waarom die geestelike reis gaan. En nodig is byeenkomste soos hierdie waar teorie met praktyk verbind word.

Dit kan selfs tot beskaming van die teorie gebeur dat die praktyk mense nader aan God bring.

Ek besef ook, uiteindelik, hoe belangrik ‘n geloofsgemeenskap is. Dit is wanneer mense gelowig bymekaar is dat ‘n mens oor mekaar se ervarings nadink op so ‘n manier dat dit jou lewe skuif en transformeer. Veral wanneer mense niks het om te bewys nie, maar bloot net wil vertel hoe ryk hul is aan die tradisionele spirituele praktyke, kan dit gebeur dat hulle ander aanraak en dat die ander verdiep word in hul geestelike reis. Dit is ‘n tragedie dat seksionele denke ons van mekaar verwyder het en ons geestelike reis arm gemaak het.

Daar by Unisa, op ‘n Vrydagoggend, terwyl die jaar einde se kant toe begin koers inslaan, het die Spiritualiteit van gebed ‘n paar mense se lewens nuwe koers laat kry. Uit verskillende kerklike tradisies, sommige waarvan vir eeue in hatige vyandskap met mekaar gestaan het, het mense se gepraat oor hoe belangrik gebed vir hulle is, op een of ander manier tog dinge verander. 

Sunday, November 06, 2011

Vir die adventstyd


'n Gedig, gepas, vir die adventstyd. En mistiek....

Van N.P. van Wyk Louw 

Die boodskap aan Maria

Sy 't deur die skaduwee gegaan
in die soet lentenag,
skraal-wit en skemerig en nog sku
van naamlose verwag;
soos 'n groot nagblom oop
waaroor die motte bewend hang,
so was sy onder die sterre, in haar
onwetende verlang.
Maar toe Hy kom, het sy geweet.
Geen stem was daar,
net enkele sterre donkerder
en blydskap soos 'n tent óm haar;
en alle verlange buitekant
het trug- en tuisgekeer
tot innigheid, en rus gekry
soos waters in 'n donker meer,
en huiswaarts oor die paaie het sy
gepeins dat vreugde só kon wees:
vervuld en woordeloos, en stil
geglimlag oor haar verre vrees.

Friday, November 04, 2011

U Self

N.a.v. 'n Gebed van Rahner:


Ek ervaar, U, Uself, o Oneindige, Ontfermende God – U Self. 

Dit gebeur nie deur of in oomblikke waarin ek oor U praat met mooi gedagtes en pragtige Godswoorde nie. Maar U kom na my, kom woon by my van aangesig tot aangesig. Ek kom voor U te staan, die Een wat my lewe binnetree.

U, die Gewer van die lewe, kom Self na my en maak my lewend.

In die tye van vreugde kom U voor my staan. In my lydens-oomblikke voel ek U is naby. U word vir my die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde van alles. 

My hart word U woonplek. In die buiten-gewone is U daar, maar, onpeilbaar, ook in my hartstwyfel-tye, die vallei-tye, kom wys U my die wonde om te voel.

Dit is Uself wat na my kom. Nie in die woorde oor U nie. En U is ook nie net in die name wat ek uitroep nie. U kom by my binne, U, Gees, kom by my staan.

En dan verstom my slim praatjies. My mooi gedagtes kom tot ‘n einde.
Sonder om my te vra, word U self my arm hart se bestemming.

Wednesday, November 02, 2011

Silwer vreugdesduiwe of bitter tranevloed: wanneer gebed 'n verskil maak

Ek lees die volgende gebed van Karl Rahner:



In the final analysis,
talking about prayer doesn’t matter;
rather, only the words that we ourselves say to God.

And one must say these words oneself.
Oh, they can be quiet, poor, and diffident.
They can rise up to God’s heaven
like silver doves from a happy heart, or
they can be the inaudible flowing of bitter tears.
They can be great and sublime
like thunder that crashes in the high mountains,
or diffident like the shy confession of a first love.

If they only come from the heart.
If they only might come from the heart.
And if only the Spirit of God prays them together also.
Then God hears them.
Then God will forget none of these words.
Then God will keep the words in his heart
because one cannot forget the words of love.

And then God will listen to us patiently, even blissfully,
an entire life long until we are through talking,
until we have spoken out our entire life.
And then God will say one single word of love,
but God is this word itself.
And then our heart will stop beating at this word.

For eternity.

Tuesday, November 01, 2011

Dankbaarheid


Meister Eckhart het op sy manier besef hoe sentraal dankbaarheid in die geestelike lewe van ‘n pelgrim is. Hy skryf:

“As “dankie” die enigste gebed is wat jy ooit in jou lewe gebid het, sal dit genoeg wees.”
Maar in die sleur van ons daaglikse bestaan kry dankbaarheid nie ‘n prominente plek nie. Trouens, ons leef in ‘n omgewing van onvergenoegdheid.

In die lig van ons lewens vol surigheid en onbehae, staan ‘n mens verbaas oor Meister Eckhart se opmerking. Dit ken aan dankbaarheid ‘n baie spesiale plek in die geestelike reis toe. 

Sy opmerking bring ‘n mens tot stilstand en laat ‘n mens na binne kyk oor iets belangriks wat in ‘n mens se lewe ontbreek.

Dit is tog iets as een van die grootste mistici van alle tye soveel klem op dankbaarheid plaas.  En, intuitief, weet ‘n mens hy is reg: om dankbaar te wees is ‘n teken van innerlike vervulling. ‘n Dankbare mens is ‘n gelukkige mens.

Dankbaarheid is ‘n deug wat ‘n mens kan soek. Dit is iets waarvoor ‘n mens in jou innerlike 'n ruimte kan soek en inruim.

Hoe kweek ‘n mens ‘n gesindheid van dankbaarheid?

Ek lees iewers vandag ‘n blog van iemand wat skryf dat hy ‘n sekere tyd van die jaar daarvan ‘n punt maak om ‘n lys op te stel van alles wat hy ontvang het en wat hom dankbaar maak.

Dit het nou al by hom ‘n ritueel geword, skryf hy. En dit is vir hom opvallend hoe dit sy lewe beïnvloed. Dit is asof hy met meer fokus op God leef, want hy begryp al hoe meer hoe sy dankbaarheid bepaal word deur die goeie dinge wat aan hom geskenk word sonder dat hy regtig daarop aanspraak kan maak.

Tog wonder ek: is dankbaarheid iets wat ons ervaar bloot net as ons goeie dinge ontvang? ‘n Mens kan, soos iemand skryf, soms dankbaar wees selfs oor gebede wat God nie verhoor het nie. Of jy kan dankbaar wees vir dinge wat jou nie beskore was nie. Dikwels hoor ‘n mens van persone wat dankbaar is oor teenspoed van hulle beter mense gemaak het. Wat tel dus is ook dat ons dankbaarheid ervaar oor alle dinge wat ons kan beleef en ons lewens vol maak – goed en sleg.

Juis daarom dat ‘n mens ‘n ritueel kan soek om die gevoel van dankbaarheid in ‘n mens se lewe wakker te hou.

Eintlik dus: dankbaarheid soek ‘n mens ter wille van dankbaarheid. Daarom kom daar tye in ‘n mens se lewe dat ‘n mens doodeenvoudig daarop fokus om dankie te sê. Asof dit ‘n Jesus-gebed is – ‘n gebed waarin ‘n mens oor en oor die woord “dankie” herhaal.

Deur so ‘n ritueel van dankbetuiging kan ‘n mens se lewe getransformeer word. ‘n Mens se lewe lyk immers op jou gebede. 

Blog Archive