Monday, January 09, 2012

God woon nie in uiterlikhede nie. Oor ons lewe in die liefde (3)


In Lukas 17:21 sê Jesus vir die Fariseërs op hulle vraag na voortekens vir die koms van God se koninkryk dat niemand die koms sal kan bereken nie. Die rede is dat die koninkryk van God “binne-in julle is”.

In die Nuwe Vertaling word die frase vertaal met : “Die Koninkryk van God is by julle.”

In ‘n fyn beredeneerde artikel (Journal of Syriac Studies van 2009) het die knap Italiaanse deskundige, Ilaria Ramelli, vele argumente aangevoer waarom die vertaling “by julle” onmoontlik is. Sy beklemtoon dat die frase beteken dat die Koninkryk van God "binne-in julle is." Die Ou Vertaling was dus meer korrek.

Sy toon aan dat Lukas hier, en ook elders in sy evangelie, eintlik praat van ‘n spanning tussen die Koninkryk van God en hierdie wêreld. Die Koninkryk van God is deel van die geestelike lewe van die mens. Die Koninkryk word gevind in die armes, die wat honger ly, wat vervolg word en in die geestelike kinders (Lk.4:6). Dit word nie in “hierdie wêreld” gevind nie – daarom moet dissipels ook nie die dinge van hierdie wêreld jaag of Mammon, die god van rykdom, dien nie (Lk.5:13; 6:20). In daardie dingen van die dag sal God nie teenwoordig wees nie. 

Eendag, lees ‘n mens verder in Lukas 13:28, sal die Koninkryk dan ook ten volle ‘n werklikheid word – maar weer eens nie in die huidige wêreld nie. As ‘n mens ooit die Koninkryk van God nou reeds wil vind, skryf Lukas, sal ‘n mens dit in die mens se geestelike bestaan kry.  

Vir Lukas is die ruimte van die mens se huidige bestaanswêreld eerder korrup, sonder God en ‘n verleiding. Soek ‘n mens God, moet ‘n mens eerder binne-in jouself kyk. 

God woon in die hart van die mens. Intiemer kan dit nie. 

Dit is gedagtes wat 'n mens elders in die Nuwe Testament ook kry. In Matteus 23:26 vermaan Jesus die Fariseërs daarom om eers die innerlike skoon te maak. Dit is die binnekant van die beker wat rein moet wees.

Jesus het dus enige gedagte van uiterlikheid, van afwyserigheid, van oppervlakkigheid, afgewys. Mens soek nie na God in die pleeg van formaliteite nie. Die begeerte van die siel is nie na menslike erkenning en glorie nie. God is op 'n heel ander plek te vind - in innerlikheid, geestelikheid, in armoede aan aardse dinge: 

In jou binneste, daar soek die mens om by God te wees. Dit is dus, anders as wat die hartjie hierbo uitdruk, nie net dat God die mens lief het nie, maar meer nog: dat die Liefde in die mens woon en deel van die menselike bestaanskern is. 

Maar wat beteken hierdie kernvers in Lukas se Evangelie vir spiritualiteit? Hieroor volgende keer meer.






Saturday, January 07, 2012

Wanneer God eensaam is.






Die gedagte dat God ons “eerste” lief gehad het, kan ‘n mens se lewe verander. 1 Johannes 4:19 spel dit helder en onmiskenbaar uit.

Die liefde wat God vir ons gee voor ons nog ooit kan liefhê maak dat mens met nuwe oë na jouself kyk.

Wanneer ‘n mens daaraan dink dat God ‘n mens liefgehad het sonder dat daar enige rede daarvoor is, of sonder dat ‘n mens iets gedoen het wat gemaak het dat God ons lief het, neem negatiewe gevoelens in ons weg. Godsdiens kry ‘n ander kleur. Sekerlik weet ‘n mens:

‘n Mens hoef nie te presteer om God se liefde te ontvang nie.

‘n Mens hoef nie iemand anders te word as wat jy is nie.

Want God het die mens lief vir wie hy of sy is en nie oor alles waarin ‘n mens uitblink nie. God het ‘n mens lief omdat mense leef en bestaan. God bewonder mense liefderik omdat hulle is wat hulle is, nie omdat hulle op ‘n spesiale manier uitgestyg het nie.

Waarom leef mens dan nie gelukkig en bly in hierdie liefde van God nie?

Mense leef nie in God se liefde nie omdat hulle nie ingestel is daarop nie. God is eensaam in die liefde omdat mense daarvoor afgesluit is.

God dring nie deur die onverskilligheid, die kors van self-gerigtheid nie.

In Openbaring 3 word in ‘n metaforiese, bekende uitdrukking vertel dat God staan kloppend by die deur. Alleen wie God en die goddelike liefde binnelaat, sal in die vreugde van God se liefde kan woon. Die deur wat God en die liefde uit ons bestaan uitsluit, moet eers oopgemaak word.

Liefdevol wag God op die oomblik dat mense hulself oopmaak vir die liefde.
Die mens is afgesluit van die liefde omdat mense hulself toegesluit het in hul klein, self-gerigte lewe.

Dit is die opvallende: mense leef met die verborge geheim van God se liefde in die hart van hul lewens, maar is salig onbewus daarvan. 

Friday, January 06, 2012

Dieper as lig en lug - 'n gebed om God.





"Kom nader aan my, nog nader, o Grootse Gees van die Waarheid. Kom nader en word deel van my dieper en meer as lig en lug. Ek sou ‘n hele nag sonder lig kon deurbring, maar sonder U kan ek nie eers op my bed gaan lê nie. Ek kan ente sonder lug loop, maar sonder U kan ek nie eers een tree neem nie."

Gebed van Nikolai Velimirovich (met erkenning aan Mark Sedrak). Velimorovich was een van die bekendste spiritualiteitsdenkers van die twintigste eeu. Lees sy verhaal by:


Thursday, January 05, 2012

Spiritualiteit en die lewe as gawe

In Spiritualiteit word onderstreep dat mense op twee maniere oor hulle self dink.

Aan die een kant is daar ‘n idealistiese, entoesiastiese en gedrewe lewensuitkyk. Dan dink ‘n mens die lewe is vol kanse wat aan jou gebied word om dinge ywerig te doen om daardeur ‘n beter lewe vir jouself te beding.  

Elke mens droom daarvan om ‘n “sukses” van die lewe te maak. Hoe jy lewe en wat jy uit die lewe haal, redeneer mense, hang af van wat jy daarin sit en hoeveel energie jy aan jou loopbaan en jou toekoms spandeer. Jou toekoms, sal die wyses vir jou sê, is in jou eie hande.

Met hierdie instelling heg jy veel waarde aan alles wat in die teken van ‘n goeie lewe staan. Goeie waardes soos sukses, prestasie, meriete en vordering is hoog op die agenda.

Hiermee kan ‘n mens nie stry nie. Dit is belangrik om met verantwoordelikheid vir jou eie bestaan te leef. Dit is goed om gemotiveerd te wees, om te streef na vooruitgang.

Die instelling kom met ‘n bepaalde prys: Die groot ideale wat ‘n mens vir jou lewe het, kan alles oorheers. Dit kan ‘n mens dryf om oor ander mense te loop en om niks te ontsien om die boonste sport te bereik of om besittings te vergader nie.

Daar is, aan die ander kant, tog ‘n ander manier van dink oor jouself.  Hier gebeur iets met ‘n mens op ‘n veel dieper vlak wat te doen het met jou siening van die waarde van lewe. Sommige mense besef dat die lewe nie iets is waarop jy geregtig is of waarmee jy kan maak wat jy wil om vir jouself ‘n goeie bestaan te verseker nie.  Iewers ontglip jou lewe jou eie beheer en transendeer dit jou vermoë om alles netjies te organiseer en te rangskik soos dit jou pas en soos jy dit goed dink.

Hierdie dieper denkers leef op ‘n vry manier uit die wete dat die lewe ‘n kosbare gawe is wat ‘n mens ontvang en wat jy nie noodwendig verdien nie.

Hulle weet te goed uit dure ervaring: Daar is byvoorbeeld tye wanneer ‘n mens met die beste wil van die wêreld nie die gang van sake kan beheer nie. Daar is oomblikke dat jy magteloos staan voor die dood. Dit is die tye wanneer hierdie besef van die lewe as iets wat na jou kant toe kom, onbeheerbaar, en onbestierbaar, by jou deurdring.

Dit is dan die tye dat jy weet dat dinge vir jou uitgedeel word. Maar hiermee saam kom daar ook die insig hoe alles uiteindelik ten goed meewerk.

Die kuns is om die besef van hoe kosbaar die lewe is, elke dag bewustelik te beleef. ‘n Mens wat eg, outentiek leef, is die een wat bewus bly van die lewe as ‘n gawe aan jou, onverdiend.

Wanneer ‘n mens voor die geheimenis te staan kom dat die lewe ‘n gawe is, ontstaan daar in ‘n mens ‘n ontvanklikheid dat God se genade en liefde elke dag met jou saamreis.  Hoe jy die lewe sien, maak iets in jou oop van hoe om God te sien.

Wanneer ‘n mens bewus bly dat die lewe ‘n gawe is en sonder enige meriete aan jou kant vir jou geskenk word, begin ‘n mens anders dink oor jouself. Want agter elke gawe staan ‘n gewer – ook van die lewe. En die Gewer van die lewe, begin ‘n mens al hoe meer besef, moet besonder spesiaal wees om aan ‘n mens so ‘n  onvergelyklike gawe te gee.  Wie is dit, vra jy dan, wat sommer so, sommer om geen rede, sommer vir niks, aan mense die lewe gee?

Merkwaardig. ‘n Mens dink op twee maniere oor jouself: jy kan voluit vir jouself leer en vir jouself oral ‘n plekkie in die son uitskrop. Of jy kan dieper gaan en die kosbare gawe van die lewe so leef dat jy die Gewer van die lewe leer ken. Dan bestaan jou lewe nie meer net uit ‘n soeke na self-verryking nie. Dan word jou lewe ‘n soeke na die rydom wat daar te vind is by die Gewer van alle goeie dinge.  Dan begin jy die lewe koester, soos ‘n mens met kosbare geskenke maak: jy is dankbaar vir wat na jou kant toe gegee word.

Wednesday, January 04, 2012

Wat God nie nodig het nie... Oor Milton en innerlike berusting

John Milton word, na Shakespeare, as een van die invloedrykste digters en figure in Engels beskou. Hy was 'n mistikus, wat, onder andere, die beroemde Paradise Lost geskryf het. 


Hy het, voordat hy Paradise Lost geskryf het, blind geraak. In die jare 1658-1664 skryf hy die beroemde gedig terwyl hy totaal verarmd was.


Een van sy ander gedigte is die volgende sonnet. Hy skryf daarin oor sy blindheid. Die beroemde digter is nie jammer vir homself nie. Hy vertel van die vrees wat hy het dat sy Godgegewe talent onbenut bly, hoewel, voeg hy by, juis die blindheid hom sterker instel op diens aan God. 


Sy innerlike rus vind hy daarin dat God genade skenk aan die een wat sy sagte juk geduldig dra. 


Dan, stilweg, is daar die genade. As hy die genade besing het, skryf hy die slotsin van die sonnet - een van die allerberoemdste sinne wat ooit in enige gedig geskryf is. Om op God te staan en wag, is goed genoeg - dit is goddelike diens waartoe die genade inspireer.


Hier is die sonnet: 


SONNET XIX.

ON HIS BLINDNESS.


WHEN I consider how my light is spent,
Ere half my days in this dark world and wide,
And that one talent which is death to hide
Lodged with me useless, though my soul more bent
To serve therewith my Maker, and present
My true account, lest He returning chide,
'Doth God exact day-labour, light denied?'
I fondly ask.  But patience, to prevent
That murmur, soon replies, 'God doth not need
Either man's work or his own gifts. Who best
Bear his mild yoke, they serve him best.  His state
Is kingly: thousands at his bidding speed,
And post o'er land and ocean without rest;
They also serve who only stand and wait.'



 



5




10

Tuesday, January 03, 2012

Nog 'n keer oor Calvyn en Mistiek




Ek loop hierdie opmerkings op Calvyn se opvatting van die mystia unio deur McGoldrick raak. Hy haal ‘n paar opsienbarende aanhalings van Calvyn oor die intieme verhouding en eenheid van die gelowige met Christus aan – die moeite werd om oor te neem en hier aan te haal. Ek onderstreep ‘n paar hoogs opmerklike frases – en is veral geboei deur die laaste twee daarvan:

According to Calvin, justifying faith leads to intimate fellowship with Jesus Christ. The reformer expressed his understanding in this way.

Most people consider fellowship with Christ and believing in Christ to be the same thing; the fellowship we have with Christ is the consequence of faith. In a word, faith is not a distant view, but a warm embrace of Christ, by which he dwells in us, and we are filled with the divine Spirit.34

Faith assents to the message of Scripture because the Holy Spirit illumines human minds to believe it and to embrace Christ, the object of faith. This faith establishes an eternal bond between God and his people, as his Holy Spirit resides within them. In Calvin’s words:

Not only does he [Christ] cleave to us by an invisible bond of fellowship, but with a more wonderful communion; day-by-day he grows more and more into one body with us until he becomes completely one with us.35

Spirituality entails intimacy between God as the object and believers as subjects.36 As Calvin put it to readers of his Institutes, “you must possess Christ, but you cannot possess him without being made partakers in his sanctification.”37 In other words, God never bestows the grace of justification without the grace of sanctification, a subjective experience that leads Christians to progress in spirituality toward its completion in eternity.

Calvin understood spirituality to involve deep personal communion with Christ as the fruit of justifying grace, so he scorned those people who claimed to possess faith while failing to demonstrate its reality in their lives. In pointed terms he exclaimed:

We detest these trifling sophists who are content to roll the gospel on the tips of their tongues when its efficacy ought to penetrate the inmost affections of the heart, take its seat in the soul, and affect the whole man a hundred times more deeply than the cold exhortations of the philosophers.38

Warnings to people whose faith is only cerebral or academic abound in Calvin’s writings, for he knew that a formal faith of the intellect alone could not lead to godly living. Contrary to popular myth, he was not an austere person with a countenance of stone and a heart of ice. Rather he understood the complexity of human nature, and he maintained that love for Christ must involve the emotions as well as the will.39 True faith then is not only , but fiducia fidei—a continuous trusting relationship with the Savior as empowered by the Holy Spirit. “The certainty of faith is knowledge, but [it] is acquired by the teaching of the Holy Spirit, not by the acuteness of our own intellect.”40

Since John Calvin emphasized the necessity of an intimate relationship with Christ, he did not hesitate to compare that to a marriage, as the Apostle Paul had done. Commenting on Ephesians 5:29, the Reformer wrote:

The strong affection that a husband ought to cherish toward his wife is exemplified by Christ, and an instance of that unity which belongs to marriage is declared to exist between himself and the church. This is a remarkable passage on the mysterious intercourse we have with Christ.41

Jesus, then, communicates not only his favor and benefits, but himself. More than fellowship (societas), it is comparable to the marital union.42 It may also be compared to eating, for Jesus said, “I am the bread of life” (John 6:35). This eating requires faith, and faith leads to communion with the Savior.

For faith does not merely look at Christ . . . but embraces him that he may become ours and dwell in us. . . . So it is true that we may eat Christ by faith alone, provided we grasp at the same time how faith unites us with him.43

34. Calvin, Commentaries on Galatians and Ephesians, 262 (on Ephesians 3:17).
35. Calvin, Institutes , III:2,24.
36. This is an insight of Otto Gruendler, “John Calvin: Ingrafting into Christ,” in The Spirituality of Western Christendom, ed. Rozanne Elder (Kalamazoo, MI: Cistercian Publications, 1976), 180.
37. Calvin, Institutes, III:16,1.
38. Ibid., III:6,4.
39. William J. Bouwsma, “The Spirituality of John Calvin,” in Christian Spirituality: High Middle Ages and Reformation, 318–33. This is a very perceptive essay.
40. Calvin, Commentaries on Galatians and Ephesians, 264 (on Ephesians 3:19).
41. Ibid., 322–23.
42. Gerrish, Grace and Gratitude, 73–74.
43. Calvin, Commentary on Gospel According to John, 250 (on John 6:35).
(Sien: http://www.reformedfellowship.net/articles/mcgoldlrick-calvin-practical-june09v59-n6.htm)

Monday, January 02, 2012

Mistiek en vriendskap




Wat maak ‘n skrywer soos Teresa van Avila invloedryk?

Sekerlik het dit te doen met haar ywer, haar doelgerigtheid, haar toewyding, haar opoffering en haar insig.

Maar in haar outobiografie kom daar iets heel spesiaal na vore wat help verklaar waarom sy tot in ons tyd nog so wyd gelees word. Die spesiale trek is ‘n kenmerk van die mistieke lewe wat te dikwels vergeet word.

Teresa van Avila, die bekende mistikus uit die sestiende eeu, het na haar ingrypende bekering (sien gister se blog) en na die totale breuk wat sy met haar verlede, ook as gelowige gemaak het, vele besondere ervarings gehad. Sy het die ingryping van God op baie maniere beleef – en met hierdie ervarings ywerig haar pad van hervorming geloop.

Maar haar aandag was nie ingestel op al die wonderlike dinge wat met haar gebeur het nie. Trouens, dikwels ondersoek Teresa al hierdie spesiale oomblikke met ‘n kritiese gees. Sy wou seker maak dat sy daarin na die wil van God geleef het. Sy was bedug dat van hierdie spesiale dinge selfs bose oorspronge kon gehad het. Daarom het sy moeite gedoen om te beklemtoon dat sy nie ervarings in haar lewe wou duld wat sy, in haar woorde, van die duiwel sou kry nie.

Wat my egter spesiaal aangryp in my leeswerk oor Teresa is die klem wat sy lê op die werking van God self in haar lewe. Dit is dus ook nie by haar ‘n kwessie van “nederige” “self-verloëning” nie. Haar selfloosheid word gedryf deur iets diepers en groters: vir haar is alles wat met haar gebeur ‘n teken van haar “vriendskap” met God. Dit is nie die wonders en die spesiale dinge wat tel nie, maar dat God in haar lewe aan die werk is.

Vir haar gaan dit om God wat haar lei, wat by haar is, wat haar gids is en wat in ontferming by haar bly.

Haar bewussyn van God se vriendskap met haar, is wat Teresa se werk so invloedryk maak: in haar werke herken mense vandag nog God as vriend – die Een wat die sondaar met barmhartigheid tegemoet snel en tot nuwe mens omvorm.

Dit is die magnetiese krag van die mistiek – om tog, in tye en plekke waar God se gesig nie altyd deur mense se lewens gewys word nie, vir mense uit te laat kom by iemand in wie se lewe ‘n mens die Ewige Ontfermer se teenwoordigheid herken.

Om God se hand in joune te voel - vriendskap, nabyheid, intimiteit.

Sunday, January 01, 2012

Met die begin van 'n Nuwe Jaar




Die bekende Spaanse vroue-mistikus, Teresa van Avila, was vir jare lank ‘n gelowige vrou wat haar lewe in die diens van God gestel het. En tog: In hierdie eerste negentien jaar van haar toegewyde diens aan God het sy dikwels ‘n halfhartigheid, selfs ‘n dubbelhartigheid in haar omgedra. Sy het in sommige opsigte ‘n dubbele bestaan gevoer. En sy het die louheid van daardie dubbele bestaan in vele opsigte ervaar.

In 1554 lees sy vir die eerste keer Augustinus se Belydenisse toe dit in ‘n Spaanse vertaling verskyn het. Dit sou ‘n keerpunt in haar lewe bring. Sy praat van ‘n dramatiese bekering met besondere intieme ervaringe van God se nabyheid in die volgende twee jaar. In hierdie twee jaar sou sy die deeglike hervorming van haar kerklike orde aan die gang sit. Maar dit was nie bloot net ‘n Spaanse stukke geskiedenis wat in haar lewe ontvou het nie. Teresa van Avila is vandag een van die mees gelese mistici van alle tye.

Die dubbelhartige vrou is deur die intieme belydenis van ‘n biegende skrywer, duisend jaar voor haar tyd, tot ‘n vurige hervormer getransformeer.

Op hierdie nuwejaarsdag, aan die begin van ‘n jaar met nuwe dinge wat wag, dink ek aan haar om ‘n spesiale rede: die hervorming wat Teresa sou inisieer en wat deur die eeue enorme invloed op baie mense sou uitoefen, het vernuwing in die mees intense vorm meegebring.

Maar vernuwing val nie uit die lug nie. Teresa is radikaal beïnvloed deur Augustinus. Sy vertel in haar outobiografie (1565) hoe sy baie geheg geraak het aan Augustinus: die rede, skryf sy, is eenvoudig omdat hy ‘n sondaar was. “Ek het baie troos gevind by sondaars wat, nadat hulle lank gesondig het, deur die Here teruggebring is na Hom.” En, vervolg sy, “terwyl ek die Belydenisse gelees het, het ek myself in hulle herken.  Toe ek by die gedeelte in die Belydenisse kom waar Augustinus oor sy bekering skryf toe hy die stem in die tuin gehoor het, het dit vir my gelyk of dit wat ek in my hart daaroor voel, die Here was wat my geroep het.”

Teresa se hervorming en haar groot invloed kan dus in ‘n sekere sin teruggevoer word na die werk van Augustinus.

Die nuwe jaar met al sy uitdagings bring geleenthede wat ons aanpak omdat ons die stem van die Here hoor praat in die lewens en getuienis van die groot geloofshelde van die verlede. Wat ons in die nuwe jaar doen, wat ons vanuit die binnekamers van ons hart voor God bely, kan God gebruik om ons geloofskinders van die toekoms tot nuwe dinge aan te spoor.

Blog Archive