Monday, June 11, 2012

Wanneer God die mens inlei in die dieper dinge, raak dit ‘n mens tot in jou lyf.


Die afgelope tyd het Daniel as figuur vir my nuwe betekenis gekry terwyl ek nagedink het oor sy lees van die Bybel.

Ek is ook geïnteresseerd in die resepsie-geskiedenis van die Daniëlboek deur die loop van die eeue, veral ook in die skilderkuns. Dit het my uitgebring by Michelangelo wat sewe Ou-Testamentiese profete as deel van sy legendariese fresko teen die dak van die Sistynse Kapel in die Vatikaan, die offisiële paleis van die pous, geskilder het. Hy het Daniël so belangrik gevind dat hy hom op die tweede paneel van die fresko geskilder het. Michelangelo beklemtoon in sy fresko vier Ou-Testamentiese figure as die vier belangrikste profete – Jeremia, Daniel, Esegiël en Jesaja.

Onder hierdie vier profete word Daniël as die jongste een uitgebeeld. Hy is ‘n jongman in die fleur van sy lewe. 

Die fresko, en ook die uitbeelding van Daniël, is deur die eeue heen erg  beskadig. Maar in onlangse tye is dit uitvoerig herstel en is die oorspronklike, sagte kleure weer teruggevind.


Michelangelo het in baie opsigte vernuwing deur sy skilderwerk gebring. Een daarvan was om sy karakters in meer menslike vorm uit te beeld. In sy uitbeelding van Daniël is die profeet bloot net ‘n leser van ‘n boek:

Daniël lees en skryf in ‘n groot boek wat op die skouers van ‘n sterk figuur rus. 

Vergelyk hierdie uitbeelding met Briton Riviera en Rubens se voorstelling van Daniël  - albei gefokus op die leeukuil:







Duidelik wys hierdie kontras hoe vernuwend en anders Michelangelo was: sy Daniel kyk nie op na die hemel nie. Hy is, diep nadenkend, in ontsag, met geboë hoof besig om die boek te lees. 

Daniël, die een apokaliptiese boek in die Ou Testament, was saam met Openbaring vir Michelangelo baie belangrik omdat dit vir hom inligting gegee het om sy skilderye oor die eindtyd te maak.  Michelangelo was dus terdeë bewus van hoe besonders Daniël se boek was. In hierdie boek van die lewe het hy sy visioene neergepen.

Die detail van die skildery gee ‘n mens ‘n dieper insig in Michelangelo se bedoeling:  Michelangelo teken hom as iemand wat duidelik diep verlore in die boek is. Die jongman kry toegang tot die verborge dinge van God wanneer die visioene aan hom gegee word. Dit raak hom duidelik.

‘n Mens sien in die gelaatstrekke en lyftaal van die uitbeelding van Daniël iets van die ontsag raak waarmee hy gevul is toe hy sy visioene gesien het (Dan.8:27: “Ek, Daniël, was gedaan en het lank siek gelê. Daarna het ek opgestaan en weer my werk in die koning se diens gedoen. Ek was egter ontsteld oor die visioen, en niemand het geweet wat met my aangaan nie”). Michelangelo teken hierdie eg menslike kant van Daniël: hy, die profeet, skrik terug van wat hy gesien het. Sy hand, geteken in veelseggende detail, is so geteken dat dit hierdie spanning in hom verder uitbeeld.

Wanneer God die mens inlei in die dieper dinge, raak dit ‘n mens tot in jou lyf.




Sunday, June 10, 2012

Daar is nie meer ateïste oor nie. Maar godsdiens is in?

Hier onder is  'n vreemde artikel wat in Trouw oor die naweek verskyn het. Dit skryf oor die gebrek aan belangstelling in die Christendom wat selfs daartoe gelei het dat daar nie meer ateïste van naam oor is nie. Die feit dat daar nie meer ateïste oor is nie, is volgens die artikel geen pluimpie vir die Christendom nie, asof die ateïsme die onderspit gedelf het nie. Inteendeel. Dit is eerder 'n teken van die agteruitgang van die Christendom omdat niemand eintlik meer sin het om stelling in te neem teen Christelike oortuigings nie.

Die "nuwe geloof"is nou "onverskilligheid". Niemand gee om nie.

Waarom ek die artikel vreemd vind, is die opmerking daarin dat ons wêreld, ten spyte van die toenemende sekularisering, steeds nog godsdienstiger word. Dit is 'n stelling wat meer aandag verdien. As die kerk en ateïsme uit is, wat is die groeiende godsdienstigheid dan? Ek het my gedagtes hieroor, maar is jammer dat dit nie in die artikel ter sprake kom nie.

Hier is die artikel:


Waar zijn de fanatieke atheïsten gebleven? Nog maar weinigen vinden God belangrijk genoeg om christelijke filosofen te lezen en hun ideeën te weerleggen. Onverschilligheid is het nieuwe ongeloof, meent theoloog Stefan Paas.

U organiseert een symposium over het bestaan van God en vindt dat een overtuigde atheïst niet mag ontbreken. Wie belt u? Richard Dawkins natuurlijk, als u koopkrachtig genoeg bent om de ongelovige Britse bioloog in te kunnen vliegen. Of filosoof Herman Philipse, als u in eigen land wilt zoeken. Maar wat als Philipse geen zin heeft?

Volgens Paas 'valt het niet mee om in Nederland een echte atheïst te vinden die bereid is daaraan een beetje op niveau mee te doen. In het protestantse opinietijdschrift CV Koers beschrijft hij deze maand hoe 'elke keer weer Herman Philipse komt opdraven'.

'Niets ten nadele van zijn intellect en retorische gaven, maar het is net zoiets als Barcelona zien spelen in elke Champions League-finale. Hoe goed ze ook zijn, we willen ook weleens wat anders.'

Vanouds was een atheïst volgens Paas 'iemand die God belangrijk genoeg vond om niet in te geloven'. Atheïsme was dus een bewuste keuze - en vaak één waar lang over was nagedacht ook. 'Zo bezien is Philipse de laatste echte atheïst van Nederland. Hij leest het werk van christelijke filosofen, hij probeert theologische concepten goed weer te geven, en ontwerpt argumenten om ze zo goed mogelijk te weerleggen.'

Een gepasseerd station
Andere publieke intellectuelen zie je dat vrijwel nooit meer doen, meent Paas. Zij beschouwen de vraag of God al dan niet bestaat en de kunst om zijn bestaan te verdedigen (de apologetiek) kennelijk als een gepasseerd station.

Toch is religie - zo vindt ook Philipse - bepaald niet uitgestorven. In Trouw vertelde hij een maand geleden hoe er, toen hij eind jaren '60 ging studeren, op filosofiefaculteiten werd gedacht 'dat Kant en de logisch positivisten er voorgoed mee hadden afgerekend'.

'Maar christelijke denkers als Plantinga kwamen met nieuwe, ingenieuze theorieën, die de godsvraag toch weer op de filosofische agenda zetten. Wij dachten in die tijd ook dat de secularisering ongeremd zou doorzetten. Maar dat is niet gebeurd. De wereld wordt juist steeds religieuzer.'

Onverschilligheid is het nieuwe ongeloof
Is die mondiale religieuze renaissance niet juist een mooie gelegenheid om geloofsargumenten te bestrijden? Philipse lijkt er weinig zin meer in te hebben. 'Het hoofdstuk God is nu wel gesloten', bekende hij. 'Je leest op een gegeven moment nauwelijks meer iets waar je nog opgewonden van raakt.'

'Onverschilligheid is het nieuwe ongeloof', concludeert theoloog Paas. 'Het verdwijnen van onze duizend jaar oude christelijke cultuur wordt niet zozeer geïllustreerd door de massale ontkerkelijking van de laatste decennia, maar veel meer door het verdwijnen van het atheïsme.'

'Voor het christendom in Nederland is dit een nieuw hoofdstuk. Zijn marginalisering en het massale religieuze analfabetisme hebben niet de kerk, maar juist het atheïsme de doodssteek gegeven.' Atheïsme is nu wat Paas betreft een zombiefilosofie: 'dood zonder het zelf helemaal te beseffen.'

Saturday, June 09, 2012

Wanneer die lees van die Skrif 'n mens in die teenwoordigheid van God bring. Oor die kontemplatiewe omgang met die Skrif


Wanner Daniël (volgens Daniël 9) sy Skrifte opneem om Jeremia te bedink, bring die hoofstuk oor sy lees van die profetiese teks ‘n mens uiteindelik tot die mees besondere punt van die gedeelte. Daniël bedink die Skrif, wat hy optel en lees met die houding dat dit die woord van die Here is. Sy nadenke oor die Skrif verander sy lewe en maak hom bewus van sy eie feilbaarheid en sy eie bydrae tot die trauma wat oor hom gekom het. Daniël steek die hand in eie boesem, soos die spreukwoord lui.

Terselfdertyd is die liefde wat God in sy lewe aangesteek het, wat hom laat vashou aan die Skrif, wat hom ‘n bidder en ‘n opregte mens maak, so diep en intens, dat hy, soos Jakob, vir God nie wil laat gaan nie. 

Hy leef in tye van trauma, van Godverlatenheid. Tog bly hy soek na God. Al is dit donker om hom, gryp hy soekend na die lig.

Soos Christus, veel later, in verlatenheid, ook weer tot God sou roep.

Gebed, smeking, belydenis vertel van Daniël se intense oorgawe aan God. Die “woord van die Here” deur Jeremia aan Daniël, word “beantwoord” met sy woorde in gebed. Maar hy “antwoord” nie maar net nie.  In sy soeke vind hy terselfdertyd vir God.

Al het God die volk in tye van trauma gebring, is God daar, kan Daniël met God praat. Daar staan, immers, hierdie opvallende frase: Daniël het hom tot die Here God gewend.

Hy gaan staan in die teenwoordigheid van God. Dit is die oomblik waarin hy bewus is dat God groot en ontsagwekkend is (vers 2). Maar liefdevol, vertrouend kan hy dan met God praat oor God se getrouheid, oor God wat liefdevol en regverdig is (7).

Hy bly praat met God: dit is ‘n gesprek wat vol U-aanspreekvorme is.  “Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam.” En ook: “U is regverdig, Here.”  En ook: “U, Here ons God, bewys barmhartigheid en U vergewe, al was ons opstandig teen U.” En ook: “Here ons God, U is regverdig in alles wat U doen.”

Daniël lees die Bybel as ‘n “wyse mens” om hom nader aan God te bring. Dit is die punt waarom alles gaan: sy opneem van die Bybel, sy meditatiewe nadenke oor die Skrif, sy biddende spreke tot God, is steeds weer ‘n dialoog in ‘n U-ek verhouding waarin Daniël God as teenwoordig in sy lewe beleef.

Dan volg die kontemplatiewe oomblik in Daniël 9:20-23 as God Gabriël  na Daniël stuur. Hier kom die goddelike kant van die verhaal uiteindelik sterk na vore: God reageer en bring ‘n nuwe wending. Maar kyk net hoe verbind die skrywer van Daniël die oratiewe en kontemplatiewe: Daniël sê: “Terwyl ek nog praat en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en by die Here my God pleit vir sy heilige berg, het Gabriël, die man wat ek by die vorige keer in die visoen gesien het, by my aangevlieg gekom. Dit was die tyd van die aandoffer.” Daniël, al biddende, ervaar ‘n goddelike visioen.

Die skrywer van die boek Daniël laat Gabriël ook hierdie punt maak. Hy vertel vir Daniël dat hy gekom het om hom in te lig. “Toe jy met jou smeekbede begin het, is daar ‘n antwoord gegee”  (Dan.9:23). Die oratiewe en die kontemplatiewe vorm ‘n volmaakte eenheid. Wanneer die mens bid, is God aan die antwoord. Reeds in die gebed is God aan die werk.

Maar dan volg die hoogtepunt van hierdie verhaal van Daniël se ervaring: Gabriël sê vir Daniël: “Want God het jou lief.” (חֲמוּד֖וֹת).

Daniël word bewus gemaak van God se liefdevolle teenwoordigheid in sy lewe. Van God se kant af word hy verseker dat toe hy nog besig was om sy skuld voor God te bely, God al op pad na hom was.

Daniël ervaar wat Jesus oor die Verlore Seun sou vertel: terwyl die seun op pad huis toe is, besig om homself voor te berei om vir sy vader te vertel hoe verlore hy was, was die Vader al aan die uitkyk vir hom. En lank voordat die seun sy skuld kon bely, was die Vader al by hom om hom te omhels en in die huis terug te bring.

Die slot van Daniël 9 bring ‘n mens by die hoogtepunt van die omgang met die Skrif: wat uiteindelik saak maak, wat ook al die omstandighede, is dat ‘n mens vanuit die Skrif nog nader aan God sal kom as ooit te vore. 

Thursday, June 07, 2012

Selfs die Skrifte is duister… Oor waagmoed op die geloofsweg







Michelangelo het Daniel geteken: heel verbasend het hy nie vir Daniel geteken as dapper mens in die leeukuil nie. Hy skets Daniel as die leser van 'n boek. Ek wil nog meer van die skildery oplees. Maar vir wat ek nou lees oor Daniel, is dit 'n paslike illustrasie. Michelangelo het dalk meer besef...

Daniel 9 bied vir Bybellesers ‘n unieke kykie in hoe mense uit Bybelse tye die Bybel gelees het.

Sommer in die tweede vers van hierdie hoofstuk, ontmoet ‘n mens Daniel die student van die Skrifte. Só wil die skrywer van Daniel dat ons hom leer ken.

Dit is hoe hy sy verhaal oor Daniel se soeke na dieper verstaan wil begin, met die Skrifte as uitgangspunt.  Wanneer Daniel voor die onpeilbare te staan kom,  gaan lees hy Bybel....

Hier in die vers is  daar twee opvallende dinge.

Eerstens vertel die skrywer van die boek hoe Daniel sy teks verstaan en hoe hy dit noem. Die skrywer gee hiervoor twee beskrywings vir die teks. Eers praat hy van die “Skrifte” (“Ek, Daniël, het uit die Skrifte vasgestel”): Daniel weet sy teks is geskryf deur die profeet Jeremia. Daniel is immers self ‘n profeet wat gesigte sien en sou daarom reeds aangetrokke wees tot de boek. Maar dit is nie die belangrikste rede waarom hy die teks lees nie. Die teks is vir hom belangrik omdat dit deel is van “die “Skrifte.

Letterlik was dit waarskynlik ‘n boekrol wat Daniel gelees het.  Die belangrike is egter dat hy hierdie boekrol as “Skrifte” verstaan het.

Maar die skrywer gee onmiddellik ‘n verdere verduideliking van die teks (“volgens die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het”): Daniel lees ook Jeremia se teks omdat hy dit sien as iets wat Jeremia as die “Woord van die Here” ontvang het (Dan.9:2). Hy herken dit as die stem van die Here.

Op ons ore val sulke taal nie vreemd op nie. Dit klink asof daar geen gaping tussen Daniel en ons, moderner tye is nie: ons praat ook van die Heilige Skrif en die Woord van die Here.

Tog is dit veelseggend, want dit wys met watter houding Daniel die teks benader. Dit is taal wat iets vertel van eerbied teenoor die teks. Die teks is nie maar net ‘n boek soos alle ander boeke nie. Dit is deel van ‘n groep tekste wat as ‘n versameling rigtinggewend vir gelowiges is en waaraan hulle ‘n spesiale waarde heg.

Daniel sien die teks van Jeremia dus as gesaghebbend. Die teks het nie net vir die tyd van Jeremia ‘n woord te spreek nie.  Hier, ook, is meer op die spel. Dit was vir Daniel woorde wat lank na die tyd van Jeremia, in sy eie tyd nog, gesag gehad het. Die teks van Jeremia kom van God af tot geslagte van gelowiges. Daniel lees die “Woord van die Here” in Jeremia se profesieë spesifiek om antwoorde op sy eie deurdringende geloofsvrae te soek. Hy vind rigting vir sy eie geestelike reis in woorde wat tot Jeremia gekom het.  Hy weet dit is in Jeremia se tyd geskryf en hy besef die teks is nie duidelik nie. Vir hom is egter die belangrike om die waarde van die teks vir sy eie tyd te ontgin. En, soos ‘n mens uit Daniel 9 aflei, verander die teks Daniel se lewe ingrypend.

Tweedens merk die skrywer op dat Daniel iets “vasgestel” het: hy ontdek God se wil en begryp dat die verwoesting van die tempel en die stad vir “sewentig” jaar sal wees.  In hierdie opmerking sien ons die ondersoekende gees waarin Daniel die teks lees. In sy tyd van kwelling en vrae, ontdek hy die antwoorde deur versigtig, onderskeidend te lees. Dit is, as ‘n mens dit mooi bedink, die tweede fase van die lectio divina. Na die lectio, kom die meditatio.

Daniel tel die Skrifte op, welwetende dat dit God se woord is en dat dit gesag het. En tog is dit nie maar net ‘n teks waarop hy ‘n maklike antwoord vaspen nie. Hy worstel, mediterende, daarmee. Niemand anders, impliseer sy woorde, het vir Jeremia nog verstaan soos Daniel dit doen nie. God se woord is nie maklik nie. Die antwoorde kan nie maar net uitgevis word nie. God se woord, hoe gesaghebend ook al, is vir meer as een uitleg oop. Ook Daniel ontdek, soos vele gelowiges, die ambigue karakter van die Skrif.

Daniel is dubbel gekonfronteer met geloofsvrae: al die gewone geloofsekerhede van mense se bestaan in die stad Jerusalem is hulle ontneem. Hulle het net die Skrifte om mee te worstel. En ook hierdie Skrifte vra versigtig lees. ‘n Mens sou kon sê: nie net is die tye donker nie, maar ook die Skrifte kan duister wees. Later sou Christus iets soortgelyks doen en sê, met sy eie besondere uitleg van die Skrifte, anders as die uitleg van die Fariseërs. En het Hy dan nie ook gewaarsku teen die valse profete en messiasse wat in die naam van God mense sou mislei nie? Christus se lees van die Skrif is in lyn met hoe Daniel dit gelees en bedink het.  

Op die manier leer ons Daniel ken as iemand wat die Skrif met ‘n houding van ontsag en afhanklikheid benader, wat dit fyn bedink en wat daarmee sy eie reis in sy eie tyd wil voortsit. Die Skrifte is vir hom nie ‘n historiese boek nie. Dit is ‘n geestelike teks, afkomstig van die Here, waardeur die Here praat met die oog op die begeleiding van mense in tye van onsekerheid.

Die geloofsweg is nie altyd helder verlig nie. Dit is ‘n pad wat waagmoed en volharding vra.  In donker tye kan die Skrif donker wees. 

Maar die antwoorde van hierdie boeken van Bo, kan ‘n mens se lewe totaal omkeer. Daaroor nou meer.

Wednesday, June 06, 2012

Waar om God te soek in tye van vertwyfeling


In Daniël 9 is Daniël, die man van die leeukuil en die oond van vlamme, die man van visioene, ook Daniel die student van die Bybel.

‘n Mens begryp die boek beter deur dit te lees in die konteks waarin dit ontstaan het. Om die boek self te verstaan, gryp ‘n mens dus ook terug na die wêreld wat agter die teks lê, soos Ricoeur uitgewys het.

Die situasie waarin Daniel geskryf is, word deur die skrywer van die boek in Daniel 9 alleen al versigtig uitgewerk: Daniel, die hoofkarakter van sy boek,  sit in ballingskap, waar hy gekonfronteer word met ‘n omgewing waarin alles wat vir hom belangrik is, van hom weggeneem is en in sy nuwe situasie verder bedreig word.

Die maklike uitweg sou wees om maar kompromieë te sluit – iewers vas te hou aan sy geloof, maar ook toe te gee aan al die eise wat ‘n heidense omgewing aan hom stel.

In ballingskap soek Daniël nie die maklike uitweg en kies nie die goedkoop opsies nie. Daniel 9 teken duidelik wat in Daniel se gedagtes omgaan.

In sy omstandighede is sy gedagtes besig met die geskiedenis van God se mense.  In hierdie geskiedenis is daar ‘n paar momente wat skerp uitstyg. Daniel dink na oor die stad Jerusalem, die hart van die Joodse geloof. Dit is die stad van die verbond, oftewel, die stad met wie die Here ‘n liefdesverhouding aangeknoop het.  Dit is, trouens, ‘n stad wat aan God behoort. Oor die stad is God se Naam uitgeroep (Dan.9:18, 20). Die stad behoort dus aan God.

Vir Daniel geld wat vir eeue waar was vir gelowige mense. Jerusalem was by uitstek die plek van God se teenwoordigheid. In hierdie stad woon God in die tempel, op God se “heilige berg” (Dan.9:20). Hier bring die familie van God, die verbondsvolk, hulle vele offers. Hier sou hulle God in hul groot feeste opsoek. In die stad sou hulle God se lof besing. Deur die eeue het God, getrou, vir die volk van God bewaar en behou (Dan.9:2). Baie later, in die Nuwe Testament, kry ‘n mens weer hierdie voorstelling dat God in die midde van sy volk “woon” (sien Openbarin 21)

En toe gebeur die ondenkbare: ‘n groot onheil kom oor die stad (Dan.9:13, 14). Die stad word ‘n puinhoop (Dan.9:2) en sy inwoners word oor die aarde verstrooi (Dan.9:7).  Die volk van God is weggevoer; hulle woon nou tussen die nasies vir wie God niks is nie.  Die heilige berg is ontheilig. Die woonplek van God is verlate. Daar is geen teken van God se teenwoordigheid nie.

Vir die twyfelaars sou so ‘n situasie baie pyn meebring: God se verbond lyk nie meer so stewig nie. En God lyk nie so getrou soos wat die geskiedenis die familie van God laat dink het nie.

Ook Daniel ervaar trauma in die ergste graad. Alles wat vir hom belangrik is, word bevraagteken. Meer nog: dit word in ‘n sekere sin heeltemal van hom weggeneem.

Hy is ‘n balling in ‘n vreemde land, weg van alles wat vir hom sekerheid sou gee. Hy is vasgevang in leegheid, niks-heid. Wat hom betower het, vreugde gegee het, fees laat vier het, is hom ontneem. Die bekende vashouplekke van sy geloof is vernietig.  

En tog: In hierdie tyd van trauma, van verlies in die ergste graad, van deurgrondelike bevraagtekening van sy geloof, is hy eerder soekende na die wil van God.

Sy verstaan van God is wel verduister, sy insig in sy geestelike reis is hom ontneem, maar anders as vele van sy tydgenote wat hul geloof prysgegee het en deel van die inheemse volke geword het, laat Daniel nie vir God los nie. In die tyd van trauma is Daniel soekende. Hy wil verstaan. Hy verlang insig.

Dit is vanuit hierdie verlange dat hy sy “Bybel” oopslaan en Jeremia versigtig lees. Die tempel is nie meer daar vir hom nie. Maar die Skrifte word nou die plek om te soek na die weg wat God met mens wil inslaan. Daniel  is ingestel om hier rigting te soek. In die Skrifte, in Jeremia se profete-woord wil hy die stem van God hoor praat. In sy donker tyd van onsekerheid, van nietigheid, van donkerte, van uitsigloosheid, is die Skrifte, die geskrewe woord, die oord van toevlug.

Die verhaal wys hoedat mense in geloof steeds weer op die wysheid van die verlede teruggegryp het wanneer hulle in ‘n doodloopstraat beland het.  Want in die wysheid van mense wat na aan God geleef het, ontdek ‘n mens dikwels nog die lewende stem van God vir ander, later tye. ‘n Mens herken hierin iets van die gemeenskap van die gelowiges, waarin ons vas glo.

Monday, June 04, 2012

Die Bybel oor die Bybelleser. Oor die rol van 'n mens se houding in die verstaan van die Bybel.


Wie dink ooit aan Daniel as ‘n student van die Bybel? Ons ken hom as ‘n dapper mens in die leeukuil en as ‘n profeet wat wonderlike gesigtes sien (bv van die Menseseun in Dan.7:13 e.v.).

En tog, in Daniel 7, sien ons hom ywerig aan die lees. Hy is besig om die profeet Jeremia te lees en na te dink oor Jeremia se profesie dat Jerusalem 70 jaar lank ‘n puinhoop sal wees.

Daniel ken sy Bybel en lees dit met graagte.

Sy betrokkenheid by die Bybel is gebore uit sy geestelike instelling. Sy lees van die Bybel het te doen met sy verhouding tot God. Die boek Daniel vertel ‘n paar keer meer van Daniel se geestelike lewe. Dit teken byvoorbeeld Daniel se bekwaamheid. Hy is 'n mens met 'n skerp verstand: In Daniel 1:4 word die leser van die boek vertel dat Daniel ‘n mooi, slim, ingeligte en wyse man was. Ander plekke in die boek beklemtoon dit (1:7, 20; 2:14; 4:8; 5:4).  

Maar Daniel is nie net 'n slimjan nie. Hy is vir geen oomblik bang om die waarheid te praat nie – ongeag die gevolge (Dan. 4:9). Hy deel ook nie sy besondere kennis met ander om deur hulle betaal te word nie en hy kan nie omgekoop word nie (Dan.5:18; 6:4 e.v.). Sy wysheid het gepaard gegaan met vreesloosheid, opregtheid en eerlikheid.

In ons byeenkoms in Gloucestershire praat Briggs hieroor: Daniel verteenwoordig die “wyse” mens wat met toewyding aan God en met integriteit teenoor ander optree en dit is as 'n wyse mens dat hy die Bybel lees. Hy skryf in sy referaat oor die beeld wat Daniel het:

The result is a portrait of Daniel the wise man, seer, apocalyptic prophet, and powerful member of a foreign government, who does not know how God will sort out the problems of his time. But he does know that holiness, faithfulness, prayer and study are the appropriate next steps to take, along with the continued embodiment of his public calling to serve the king – whether by way of confronting the Babylonian king or governing on behalf of the Persian king.   

Wanneer Daniel dus die Bybel optel om te lees, doen hy dit as iemand wat met sy lewe en woord ‘n geestelike reis met God afle. Sy studie moet vanuit sy noue verhouding met God verstaan word.

Hieroor wil ek verder nadink, veral ook aan die hand van Briggs se bespreking van Daniel. In sy aanbieding gaan dit naamlik oor die groot vraag hoe ‘n mens se instelling jou lees van die Bybel kan stuur en bepaal. Lank voordat ‘n mens die Bybel optel, is daar in sekere faktore wat die uitkomste van die lees van die Bybel gaan bepaal. Die houding van die mens wat die Bybel optel om dit te lees, is deurslaggewend.

Wat Daniel 9 so interessant maak is hoe dit Daniel as Bybelleser beskryf . Hier lees ‘n mens meer oor hoe die Bybel nadink oor watter soort mens met watter houding die Bybel lees.

Dit is maar een van die boeiende kante van die hoofstuk. Maar net om die hoofstuk rustig, op sy eie, deur te lees, is al ‘n ervaring.

Hier is die gedeelte, waarin die toewyding van die Bybellesende Daniel geïllustreer word:

1. Dit was in die eerste regeringsjaar van Darius seun van Ahasveros. Hy was van geboorte 'n Mediër maar het koning geword oor die Galdese ryk. 2 In sy eerste regeringsjaar het ek, Daniël, uit die Skrifte vasgestel dat volgens die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het, Jerusalem sewentig volle jare 'n puinhoop sou wees. 3 Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking: ek het gevas, rouklere aangetrek en as oor my kop gegooi. 4 Ek het tot die Here my God gebid en bely: “Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam. 5 Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie. 6 Ons het nie geluister na u dienaars die profete nie, wat in u Naam ons konings, ons leiers, ons familiehoofde en die hele bevolking aangespreek het. 7 U is regverdig, Here. Dit is onsself wat hierdie ellende oor ons gebring het, oor die mense van Juda, oor die inwoners van Jerusalem, oor die hele Israel, dié wat naby is sowel as dié wat ver is, ver in al die lande waarheen U hulle verstrooi het oor hulle ontrou teenoor U. 8 Here, hierdie ellende het oor ons, oor ons konings, oor ons leiers en oor ons familiehoofde gekom omdat ons teen U gesondig het. 9 Maar U, Here ons God, bewys barmhartigheid en U vergewe, al was ons opstandig teen U. 10 “Ons was nie aan U, Here ons God, gehoorsaam nie, ons het nie volgens u wil gelewe nie, u wil wat U deur u dienaars, die profete, aan ons gegee het. 11 Die hele Israel het u wil oortree; hulle het afvallig geword en nie na U geluister nie. Daarom het U die vloek wat met 'n eed bevestig is en wat opgeteken is in die wet van Moses, die dienaar van God, oor ons laat kom. Dit is omdat ons teen U gesondig het. 12 U het die woorde wat U in verband met ons en ons regeerders uitgespreek het, in vervulling laat gaan en hierdie groot onheil oor ons gebring. Daar het nog nooit op die aarde so iets gebeur soos in Jerusalem nie. 13 Al hierdie onheil het oor ons gekom net soos dit geskryf staan in die wet van Moses; tog het ons, Here ons God, nie ons saak met U reggemaak deur ons van ons sonde te bekeer en in te sien dat U doen wat U sê nie. 14 Daarom het U ons hierdie onheil nie gespaar nie maar dit oor ons gebring. Here ons God, U is regverdig in alles wat U doen, ons het nie na U geluister nie. 15 “Here ons God, U het u volk deur u groot mag uit Egipte gelei en daardeur u Naam groot gemaak soos dit vandag nog is. Maar ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen. 16 Here, U het reddingsdade gedoen, neem tog u toorn en u woede weg van Jerusalem, u stad, u heilige berg, want deur ons sonde en deur die oortredinge van ons voorvaders spot almal rondom ons nou met Jerusalem en met u volk. 17 Ter wille van Uself, hoor tog my gebed en smeking, en verskyn tog tot redding van u verwoeste heiligdom. 18 Luister tog, my God! Hoor ons tog! Sien tog ons verlatenheid raak, en dié van die stad waaroor u Naam uitgeroep is. Ons pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid. 19 Hoor, Here! Vergewe, Here! Gee tog ag op ons en tree op! Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God. U Naam is oor u stad en oor u volk uitgeroep.” 20 Terwyl ek nog praat en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en by die Here my God pleit vir sy heilige berg.

Sunday, June 03, 2012

Oor 'n kakebeen en verganklikheid.




Caravaggio het in 1607 hierdie skildery in Malta gemaak.

Dit is van die groot Bybelvertaler, Hieronymus wat in die vyfde eeu geleef het en een van die bekendste kerkvaders geword het. Hy het die Bybel in Latyns vertaal – en die vertaling het as die Vulgaat een van die bekendste tekste in die geskiedenis van die mensdom geword.

In Malta hang die skildery aan die oorkant van Caravaggion se onthoofding van Johannes die Doper in die oratorium van die museum en Sint Jan Kerk.

Caravaggio teken in hierdie skildery die wapen van Malaspina, die Grootmeester van die Ridders op Malta aan die onderkant van die regterkantse hoek van die skildery. Hy was ‘n besonder magtige figuur wat Caravaggio as sy beskermling beskou het. Caravaggio, die bakleier-kunstenaar, beroemd en berug, was in die geselskap van die grotes en magtiges van sy tyd.

Dit is nie duidelik waarom die skildery vir Hieronymus as tema gehad het nie. Malaspina was uit die aard van sy posisie en sy posisie as die belangrikste ridder op Malta, ‘n baie godsdienstige figuur. Hy was ook bekend as iemand wat omgegee het vir die armes, al was hy veral beroemd vir sy militêre geskiedenis. Hoekom sou hy Caravaggio hierdie tema laat teken het?

Hoe mooi is die uitbeelding: In die skildery van Caravaggio is Hieronymus ‘n fisiek indrukwekkende figuur. Die skildery is ryk aan die kenmerkende spel van lig en donker, maar ook vol al die detail waarvoor Caravaggio bekend is. Die volrooi kleed om sy onderlyf vorm ‘n sterk kontras met die donker agtergrond. Voor op die tafel s daar byvoorbeeld die tipiese kruis en klip wat met Hieronymus geassosieer word. Die klip is volgens die tradisie deur hom tydens sy verblyf van vier jaar in die woestyn gebruik om op sy bors te slaan as ‘n teken van rou.   

Ek staan en bekyk die skildery met sy poëtiese vorm in die ewe skilderagtige oratorium. Dit is moeilik om jou los te skeur van die werk met sy kwaliteit van oneindigheid. Dit is min dat ‘n mens weet jy is in die teenwoordgheid van meesterskap in sy suiwerste vorm.

Maar wat bly my by van hierdie besoek aan die oratorium en die twee skilderye van Caravaggio?

Op die tafel teken Caravaggio voor Hieronymus die baie bekende voorwerp van die kakebeen. Dit is nie die eerste keer dat ek die simbool op die dag van ons rondreis sien nie. In Malta se ko-katedraal van sint Jan, verbysterend mooi en oortrek met 24 karaat goud op die mure, is daar in die kerkvloer vele grafstene ingemessel- almal van die bekendste ridders. Op die grafstene is daar telkens ‘n kakebeen geteken. Dit herinner aan die dood, aan tydelikheid, aan verganklikheid. Die ridders van Malta was almal ryk, veral ook weens hul adellike bevoorregting.

En, nou, na al die eeue, is daar min van hulle teenwoordigheid te merk. Die leë kerke vertel van hulle verganklikheid. Hulle roem het weggesterf. Al wat oorbly, is herinneringe – en ook maar vaag.

Caravaggio se skildery is self ‘n gestolde oomblik van roem: ‘n roerende weergawe van ‘n peinsende Hieronymus. So spesiaal as wat dit is, so staan ook daarop onteenseglik uitgespreek hoe verganklik alles is. Roem, mag, sierlikheid is tydelik, is uitgelewer aan die mot en die roes.

Tydloos, egter, is die boodskap wat van die verganklikheid van roem vertel. Want langs die kakebeen is daar die kruis, die teken van die Ewige. En van die klip: die teken van boetedoening wat 'n mens toon oor sy/haar verknogtheid aan die uiterlike.


Saturday, June 02, 2012

Die helder lig uit 'n gebroke lewe...

Caravaggio, die beroemde Italiaanse kunstenaar uit die eerste helfte van die sewentiende eeu, was bekend as ‘n moeilike mens met ‘n berugte reputasie. Hy was gedurig in ‘n bakleiery betrokke. In een daarvan het hy sy opponent met ‘n mes doodgesteek. Hierna vlug hy na Malta om tronkstraf vry te spring.

Daar in Malta word hy, omdat hy so bekend vir sy skilderye was, ‘n ridder in die orde van die Maltese Orde van Sint Jan.

Maar nie lank nie, of hy baklei weer en word in die berugte Alcatraz tronk van Malta opgesluit. Hy word in ‘n plegtige seremonie as ridder geskors. Op ‘n wonderbaarlike manier ontsnap hy uit die tronk. Niemand kon dit nog ooit regkry nie. Sommige dink hy het skelm hulp van een van die ridders moes gekry het.

Dit is hier in Malta dat hy in 1607 een van sy mooiste skilderye teken. Trouens, sommige dink dit is die mooiste een wat in die wêreld in die sewentiende eeu geskilder is. Dit is die onthoofding van Johannes die Doper (sien gister se blog) en hang in die oratorium van die museum in Valetta, Malta.

Die skildery, ‘n boeiende spel van donker en lig, teken die balju/sipier net nadat hy die kop van Johannes afgekap het. Die groep mense rondom Johannes se liggaam op die grond, word in die linkerkant van die skildery geteken. Die res van die werk is ‘n uitgestrekte donker ruimte. ‘n Ewigheid van swart strek die ruimtes in: hier word al die treurige somberheid rondom die dood van ‘n heilige uitgedruk.



Johannes se gelaatstrekke, skryf ‘n kommentator, vertel van sy asketiese lewensstyl. Maar, voeg hulle by, dit wys ook dat hy vasbeslote was om vreesloos sy profetiese taak uit te voer. Hy is so vasbeslote dat hy bereid was om sy lewe daarvoor op die spel te plaas.





Dit is die enigste skildery wat Caravaggio geteken het. Daarom heg mense spesiale waarde daaraan. Hy skryf sy naam (kyk ook hierbo) onder die kop van Johannes, geteken met die bloed wat uit Johannes se kop vloei. Hy teken dus sy naam met die martelaarsbloed van Johannes om te wys dat hy wat Caravaggio is, ook ‘n gewelddadige einde aan sy lewe sien. Hy druk uit dat hy as martelaar sal sterf.  Dit is sy manier om uitdrukking aan sy mooier kant van toewyding te gee.

Johannes die Doper sterf in Caravaggio se skildery in ‘n vernederende, donker tronk. Hy wat die Here met water gedoop het, kom aan die einde van sy lewe met gedoop in bloed. Dit is ‘n gewelddadige einde van iemand wat God se wil vir sy wêreld uitgebeeld het.

Carvaggio, die kroniese moeilikheid-maker en bakleier, moordenaar en skurk, is ook die man van groot talent. In die hierdie skildery teken hy, in allerfynste detail, in ‘n gewyde, somber atmosfeer ‘n toneel wat iets van sy hartsverlange uitbeeld: om alles te kan gee vir jou allermooiste en aller-belangrikste ideale en drome.

Caravaggio se geestelike insig vertel van Johannes die Doper, die grootse profeet van alle tye (in die woorde van die Here) wat ‘n roemlose, verlate dood in ‘n donker sel sterf. Só loop die geestelike weg van hulle wat getrou bly.

Iemand skryf dat Johannes, anders as Jesus, nie eers gewillig, self-opofferend, regop met hande wat uitstrek na die hemel, sterf nie. Hy sterf, sy kop vasgepen op die grond, met sy hande vasgebind agter sy rug. Sy dood is roemloos. Sy einde is onberekenbaar vernederend.

Maar, nie vir ‘n oomblik, het hy ontrou aan sy profetiese boodskap geraak nie. Te diep, te geankerd, te verinnerlik was sy liefde om hierdie einde te wil ontkom nie. 

Skeef en krom soos hy geleef het, ten spyte van sy donker lewensstyl, kan Caravaggio hierdie geestelike boodskap op 'n unieke manier weergee. 

Of: miskien juis daarom...

Friday, June 01, 2012

Verset teen God - ten bloede toe



In die Ko-Katedraal op Malta, ontdek ek onverwags, is daar twee van Caravaggio se mooiste werke. Albei is in een saal en albei is onlangs gerenoveer.

Die grootste een van die twee is die onthoofding van Johannes die Doper. Dit is die grootste doek wat Caravaggio ooit geskilder het.Dit is 'n reusagtige skildery wat die hele muur van die saal volhang.

Ons kry gelukkig genoeg tyd om lank na die skildery te staan en kyk. Dit word vir my 'n hoogtepunt van ons weeklange besoek aan Malta.

Die skildery met sy kenmerkende spel van lig, soos 'n mens van Caravaggio verwag, trek my oog na twee aksies: die een is die sterk, vaste greep van die man wat Johannes op die grond vaspen, reg om hom dood te maak.

Die ander punt van fokus is Salomi wat by die bord regstaan om die kop van Johannes te kry.

En langs haar staan 'n man en wys met sy vinger na die bord. Hy bedui vir die laksman dat dit die plek is waarop die kop gesit moet word.

Alles loop uit op die vervulling van Salome se wens: sy wil Johannes dood kry. Meer nog: sy wil sy kop op die skinkbord uitgestal kry. Sy wil haar triomf oor die profeet publiekelik bewys.

Berekend. Koelbloedig.

So lyk die verset teen God se werk en God se mense soms in sy ekstreme vorme.

Maar, terwyl ek hieroor nadink, klink in my gemoed die woorde van ons bespreking tydens ons byeenkoms in Gloucestershire toe ons oor geweld en spiritualiteit gepraat het. Geweld, wys God se eind-oordeel ons, is altyd eindig. Dit kan ekstreem wees, tot die dood toe, maar dit kan nooit oor God se saak triomfeer nie.

Daarvan getuig die verrese Christus en sy pinkstergees wat ons in hierdie dae in herinnering roep en opnuut vir ons lewens soek. 

Blog Archive