Saturday, June 02, 2012

Die helder lig uit 'n gebroke lewe...

Caravaggio, die beroemde Italiaanse kunstenaar uit die eerste helfte van die sewentiende eeu, was bekend as ‘n moeilike mens met ‘n berugte reputasie. Hy was gedurig in ‘n bakleiery betrokke. In een daarvan het hy sy opponent met ‘n mes doodgesteek. Hierna vlug hy na Malta om tronkstraf vry te spring.

Daar in Malta word hy, omdat hy so bekend vir sy skilderye was, ‘n ridder in die orde van die Maltese Orde van Sint Jan.

Maar nie lank nie, of hy baklei weer en word in die berugte Alcatraz tronk van Malta opgesluit. Hy word in ‘n plegtige seremonie as ridder geskors. Op ‘n wonderbaarlike manier ontsnap hy uit die tronk. Niemand kon dit nog ooit regkry nie. Sommige dink hy het skelm hulp van een van die ridders moes gekry het.

Dit is hier in Malta dat hy in 1607 een van sy mooiste skilderye teken. Trouens, sommige dink dit is die mooiste een wat in die wêreld in die sewentiende eeu geskilder is. Dit is die onthoofding van Johannes die Doper (sien gister se blog) en hang in die oratorium van die museum in Valetta, Malta.

Die skildery, ‘n boeiende spel van donker en lig, teken die balju/sipier net nadat hy die kop van Johannes afgekap het. Die groep mense rondom Johannes se liggaam op die grond, word in die linkerkant van die skildery geteken. Die res van die werk is ‘n uitgestrekte donker ruimte. ‘n Ewigheid van swart strek die ruimtes in: hier word al die treurige somberheid rondom die dood van ‘n heilige uitgedruk.



Johannes se gelaatstrekke, skryf ‘n kommentator, vertel van sy asketiese lewensstyl. Maar, voeg hulle by, dit wys ook dat hy vasbeslote was om vreesloos sy profetiese taak uit te voer. Hy is so vasbeslote dat hy bereid was om sy lewe daarvoor op die spel te plaas.





Dit is die enigste skildery wat Caravaggio geteken het. Daarom heg mense spesiale waarde daaraan. Hy skryf sy naam (kyk ook hierbo) onder die kop van Johannes, geteken met die bloed wat uit Johannes se kop vloei. Hy teken dus sy naam met die martelaarsbloed van Johannes om te wys dat hy wat Caravaggio is, ook ‘n gewelddadige einde aan sy lewe sien. Hy druk uit dat hy as martelaar sal sterf.  Dit is sy manier om uitdrukking aan sy mooier kant van toewyding te gee.

Johannes die Doper sterf in Caravaggio se skildery in ‘n vernederende, donker tronk. Hy wat die Here met water gedoop het, kom aan die einde van sy lewe met gedoop in bloed. Dit is ‘n gewelddadige einde van iemand wat God se wil vir sy wêreld uitgebeeld het.

Carvaggio, die kroniese moeilikheid-maker en bakleier, moordenaar en skurk, is ook die man van groot talent. In die hierdie skildery teken hy, in allerfynste detail, in ‘n gewyde, somber atmosfeer ‘n toneel wat iets van sy hartsverlange uitbeeld: om alles te kan gee vir jou allermooiste en aller-belangrikste ideale en drome.

Caravaggio se geestelike insig vertel van Johannes die Doper, die grootse profeet van alle tye (in die woorde van die Here) wat ‘n roemlose, verlate dood in ‘n donker sel sterf. Só loop die geestelike weg van hulle wat getrou bly.

Iemand skryf dat Johannes, anders as Jesus, nie eers gewillig, self-opofferend, regop met hande wat uitstrek na die hemel, sterf nie. Hy sterf, sy kop vasgepen op die grond, met sy hande vasgebind agter sy rug. Sy dood is roemloos. Sy einde is onberekenbaar vernederend.

Maar, nie vir ‘n oomblik, het hy ontrou aan sy profetiese boodskap geraak nie. Te diep, te geankerd, te verinnerlik was sy liefde om hierdie einde te wil ontkom nie. 

Skeef en krom soos hy geleef het, ten spyte van sy donker lewensstyl, kan Caravaggio hierdie geestelike boodskap op 'n unieke manier weergee. 

Of: miskien juis daarom...

Blog Archive