Sunday, June 17, 2012

'n Eerste-wêreldse skaap.



In Brasschaat, 'n voorstadjie van Antwerpen, loop hierdie volronde, vierpotige suster met 'n hele troppie van diergenote in 'n klein veldjie rond. In die middel van 'n klomp huise is hierdie klompie ingehok. 


Voorpote netjies bymekaar, met twee bakore en 'n tuitmondjie. Asof sy nou net uit die badkamer gekom het, skoon, netjies en reg om te poseer vir die afnemery.


Hulle, hierdie troppie, staan netjies op 'n ry om enige besoekers terug te bestaar... Hulle weet van my, die fotograaf. 


'n Week vroeër, by Glenfall-house, met ons tweede konferensie is daar net so 'n vet skaap wat luilekker, in die vroeë lentetyd die malse weiveld beproe:






Ek sit en bedink aan die hand van hierdie skaap-stadjapies die ding van skaap-wees: mens kan praat oor die wol en die vleis wat hoeveel aande se kuiert met die tjoppie opgeluister het (!), of wat 'n ekonomie goed aan die gang kan hou.


Aards. 


Die antieke mens, na aan die veld, het van skape ryk simbole gemaak. Psalm 23, een van my gunsteling Bybeltekste, het ek al menige keer, in helder dae, in donker nag-oomblikke, vir myself gelê/geloop/gestaan en opsê het - dankbaar oor die geestelike uitleg van die skaap se weerloosheid in die konteks van 'n onveilige land. Die Psalm vertel van die Herder wat weet van sy skape se weerloosheid en wat omgee dat hulle versorg/veilig sal wees. So, soos 'n goeie herder oor die skaap waak, so is God, so liefdevol.


In die Nuwe Testament is daar die kontra-beeld: die woede teen die wolwe, die argeloses, die uitbuiters, die liefdeloses wat die skape tot niet maak eerder as om hulle te versorg. Kyk, ook, en miskien veral, onder die geestelikes, hulle wat van liefde moet weet, sal daar, in die donker tye, nie meer goedheid wees nie. Wreedheid eerder. 


Daar is die verhaal van die skape en bokke in die eindtyd. 


En, terwyl ek wonder oor my eie oplet na die skape in Brasschaat en Gloucestershire, aan hulle uitgelewer wees, hulle weerloosheid, hul behoefte aan versorging, veiligheid, kom seker die mees veelseggende metafoor van die Bybel by my op. 


Die Sterke, die Leeu van Juda, is ook die Lam. 


Boeiende beelde kan hiermee verbind word, veral omdat Openbaring die Griekse verkleinwoord, lammertjie, gebruik om van die Leeu te praat. Die eeu-oue beeld van die plaasvervangende offer word gesuggereer: om in die plek van ander gegee te word. Die sagte teiken. 


Die Sterke, die Heerser, word die Een wie se bloed vergiet word. Hier, goddelik, is die sagte teiken. Die self-prysgawe. Om te heers, beteken om jou self te gee. Aan die skaap met die sagte keel, die maklike prooi van die wolwe en die aasvoëls. 


As net een nie daar is nie, maak jy die kraalhek toe, donker nag, trek jou mantel styf om jou lyf, neem jou herderstok, die staf teen die kwaad, en stap donkerte in. Een is al rede om wakker te lê.


Dit is hoe God dink.  







Blog Archive