In die Ko-Katedraal op Malta, ontdek ek onverwags, is daar twee van Caravaggio se mooiste werke. Albei is in een saal en albei is onlangs gerenoveer.
Die grootste een van die twee is die onthoofding van Johannes die Doper. Dit is die grootste doek wat Caravaggio ooit geskilder het.Dit is 'n reusagtige skildery wat die hele muur van die saal volhang.
Ons kry gelukkig genoeg tyd om lank na die skildery te staan en kyk. Dit word vir my 'n hoogtepunt van ons weeklange besoek aan Malta.
Die skildery met sy kenmerkende spel van lig, soos 'n mens van Caravaggio verwag, trek my oog na twee aksies: die een is die sterk, vaste greep van die man wat Johannes op die grond vaspen, reg om hom dood te maak.
Die ander punt van fokus is Salomi wat by die bord regstaan om die kop van Johannes te kry.
En langs haar staan 'n man en wys met sy vinger na die bord. Hy bedui vir die laksman dat dit die plek is waarop die kop gesit moet word.
Alles loop uit op die vervulling van Salome se wens: sy wil Johannes dood kry. Meer nog: sy wil sy kop op die skinkbord uitgestal kry. Sy wil haar triomf oor die profeet publiekelik bewys.
Berekend. Koelbloedig.
So lyk die verset teen God se werk en God se mense soms in sy ekstreme vorme.
Maar, terwyl ek hieroor nadink, klink in my gemoed die woorde van ons bespreking tydens ons byeenkoms in Gloucestershire toe ons oor geweld en spiritualiteit gepraat het. Geweld, wys God se eind-oordeel ons, is altyd eindig. Dit kan ekstreem wees, tot die dood toe, maar dit kan nooit oor God se saak triomfeer nie.
Daarvan getuig die verrese Christus en sy pinkstergees wat ons in hierdie dae in herinnering roep en opnuut vir ons lewens soek.