Simone
Weil, die mistikus, is sonder twyfel ‘n invloedryke figuur wat tans feitlik
kultus-status geniet. Sy word deur sommige van die bekendste en ernstige
skrywers van ons tyd as van die helderste denkers van die twintigste eeu,
indien nie van die moderne tyd nie, beskou.
Sy
was nie sonder haar ekstreme, koue, vreemde en eksentrieke kante nie. Sommige
mense verdink haar van sielkundige afwykings.
Ander
weer wys op haar integriteit: hoedat sy alles waarin sy so radikaal geglo het,
letterlik in haar eie lewe uitgeleef het. As iemand wat solidêr was met die
arbeider en die arme, het sy, byna meer as hulle, as ‘n arbeider en ‘n arme
geleef, en, eintlik, ook as gevolg daarvan gesterf.
Weil,
het ek gister geskryf, het haar van die maghebbers gedistansieer. Sy was een met
en wou uitdruklik aan die kant wees van mense aan die onderkant van die
samelewing. Deur by hierdie mense te wees, na hulle te luister en nie “namens”
hulle te wil praat nie, erken en deel ‘n mens hulle menslikheid – iets wat
ander hulle dikwels (minagtend/paternalisties) ontsê.
Weil
het hierdie uitgangspunt gehandhaaf in haar groter verset teen allerhand
magsgrepe van ons geweldskultuur. Dit is deur teenwoordigheid by die vertraptes
en die verminktes, dat ‘n mens die greep van dodelike mag deurbreek. ‘n Mens,
skryf sy, ervaar ‘n hemelse oomblik as ‘n mens jou eie siel besit” en nie deur
magstrukture gemanipuleer word nie. Die harde
greep van mag in oorlog word stukkend gebreek en gestuit deur die mens
se weiering om daaraan toe te gee. Deur vir die vertraptes te kies en by hulle
te wees, in volle aandag, in ‘n toestand van luister, bevraagteken ‘n mens die
magspel van die status quo en die magshebbers.
Weil
verset haar dus met mag en mening teen mag en oorlog. Maar hier moet ‘n mens
mooi onderskei: Mense is soms jammer vir hulle wat oorwin word en wat die
slagoffers van geweld is. Hulle besef nie: die oorwinnaar is net so ‘n
slagoffer van geweld. En albei die geweldenaar en die slagoffer is lafaards. Ook
die oorwinnaar, die geweldenaar is ‘n lafaard.
Weil
skryf hieroor ‘n merkwaardige verhaal: beide die geweldenaar en die een wat stilswyend
onder die geweld ly en dit verduur, is deel van ‘n sfeer van lafhartigheid.
Daar
is iets dieps in hierdie insig: want as ‘n mens beide die geweldenaar en die
slagoffer van geweld laat deel in ‘n sfeer van lafhartigheid, is die vraag: wat
is moed? Hoe word jy ontslae van jou lafhartige gewelddadigheid of van jou
lafhartige verduur van geweld?
‘n
Mens, is die antwoord, het moed wanneer jy van alle vorme van mag en geweld
afstand doen en afstand neem.
‘n
Mens moet die moed hê om radikaal anders te leef en om deur ‘n transformatiewe
geestelike instelling ‘n ander manier van leef op te soek. Deur geestelike
toewyding soek ‘n mens ‘n totale ander vorm van bestaan: dit gaan dan vir ‘n
mens om ‘n soeke na genade, na ‘n sfeer wat aweregs staan op die sfeer van
lafhartigheid.
Dit
gebeur sodra ‘n mens besef, in die oomblik van stille solidariteit met ander,
wat werklik op die spel is. Weil, sê Poole in sy komplekse bespreking van haar
werk, beklemtoon dat daar ‘n oomblik van stilte moet kom waarin die
verskriklike bose sirkelgang van geweld en mag deurbreek word. Dit gebeur
wanneer ‘n mens nie langer vaskyk op mag as iets vanselfsprekends nie, as ‘n
eenvoudige bestaansfeer nie. Die stilte is wanneer ‘n mens weet van ‘n
alternatief wat reg teenoor geweld en mag staan.
‘n
Mens moet op ‘n punt kom dat jy die sinloosheid van geweld herken. Jy weet: die
geweldenaar word ook uiteindelik deur geweld vernietig. Dit is net die mens wat
terugstaan, wat geweld bevraagteken, wat die geraas van geweld ontglip, wat
daaroor kan seëvier.
Wat
tel is dus of ons ons lewensgang krities, stil en ondersoekend kan betrag en as
vernietigend herken/erken. ‘n Mens moet kan dieper dink, onder die oppervlakte
kan deurdring, die geestelike prosesse kan herken en insien wat werklike
vryheid vir ‘n mens gee. ‘n Mens moet die moed hê om die boosheid in ander
mense te herken en te verwerp, maar veral ook in jou eie lewe. Jy moet kan weet
dat jy as slagoffer van ‘n magswêreld daardie wêreld kan legitimeer en
kontinueer.
Wanneer
‘n mens dit insien en jou begin verset teen ‘n gewelddadige sfeer van mag, word
‘n mens vry daarvan. Meer nog: Dan word ‘n mens deel van die sfeer van genade.
Wie in hierdie sfeer woon, kan mag en geweld weerstaan.
Die
oorgang kom deur stilte, maar kom ook nie sonder ‘n mens se inspanning nie. ‘n Mens wag en streef
geduldig, volhardend om hierdie genade. 'n Mens wag dat die genade transformatief jou lewe nuut sal rig.
Maar
hoe lyk hierdie genade nou presies? Genade breek helder en oorweldigend deur
waar mense ontdek hoe werklik die liefde is. Uit die wêreldliteratuur wys Weil
hoe mense liefde ontdek: ouers teenoor kinders en kinders teenoor ouers,
weldoener teenoor behoeftige, gasheer teenoor gas, selfs die oorwinnaar teenoor
die oorwonne mens.
Wanneer
‘n mens solidêr is met die ander, is ‘n mens in die genade. Wanneer ‘n mens mag
prysgee en in stilte by ander bly, woon ‘n mens in genade. Die een wat alles
verloor, wen alles. Die een wat volledig mens word, wat weerloos is, wat feilbaar
raak, het genade gevind.