Tuesday, June 12, 2012

Oor spirituele praktyke/dissipline.


Vas, meditasie en afsondering is seker van ons bekendste spirituele praktyke. Vele gelowiges is deesdae daarby  betrokke.

Hierdie praktyke is voordelig vir ‘n mens se geloofsreis: dit bring innerlike kalmte, ‘n dieper insig in waarheen ‘n mens op pad is en gee ‘n mens weer nuwe moed of hoop.

Daar is nog ander praktyke waaraan mense deelneem, bewustelik of onbewustelik, wat vir geestelike vorming van waarde is: persoonlike stiltetyd, Bybelstudie en gereelde kerkgang is voorbeelde hiervan. Ook belangrik is deelname aan sakramente soos die doop en die nagmaal. In die protestantisme is die nagmaal byvoorbeeld altyd deel van die erediens sodat ‘n mens saam met ander gelowiges daraan kan deel. Ook die doop is ‘n moment binne die erediens wat nie net die dopeling en die ouers raak nie, maar wat die hele gemeente herinner aan God se liefdesgawes.

Vir sommige mense is onderhouding van die Sondag as ‘n dag van ingetoëndheid, kerkgang en gesinsdag ook nog ‘n spirituele praktyk. Deur die onderhouding van die sondag voel mense word hul geestelik sterker en word hul verhouding met God gevorm.

Nog ‘n spirituele praktyk is die gee van tiendes, offergawes en dade van ontferming teenoor mense in nood. Mense besef dat hul materiële voorspoed van God af kom en in God se diens gestel moet word. Deur van hul besittings met ander te deel, voel hulle word hulle self verryk en reflekteer hulle teenoor ander God se goedheid teenoor hulle self. Mense wat vrygewig is, lewer ‘n getuienis. Terseldertyd wys hulle dat aardse dinge nie alles is nie en dat ‘n sober lewensstyl op ‘n spesiale manier tot God se eer kan dien.

Maar daar is allerhande nuwe insigte aan die ontwikkel oor spirituele praktyke: gelowiges raak al hoe meer bewus dat die skepping self ‘n plek van aanbidding moet wees. Hulle is lief vir die natuur wat God geskep het. Hulle verset hulle teen die uitbuiting en vernieling van die skepping en kom in opstand teen besoedeling, vermorsing en nalatigheid. Dit kom op die konkreetste van maniere na vore: ry eerder fiets as motor. Eet gesond. Bly fiks. Stap in die natuur. Spaar elektrisiteit. Koop minder. Al hierdie dinge kan vorme van spirituele praktyke word.

Wat opmerklik is, is hoe hierdie praktyk veral saamhang met ‘n bewuswording van ons konkrete, liggaamlik bestaan en die versorging van onsself.

Deur sulke dissipline en toewyding eer gelowiges God vir die spesiale gawe van die natuur en die liggaam. Dit kweek ook ‘n gevoel van verantwoordelikheid en vreugde dat ‘n mens op ‘n klein manier kan help om die skepping te beskerm en gesond na te laat vir die nageslag. Iemand wat omgee vir die skepping en sy/haar liggaam het ‘n ingesteldheid wat van die Heilige Gees kom. Die liggaam, skryf Paulus, is immers ‘n tempel van die Gees.

In haar artikel oor kontemporêre spiritualiteit, skryf Lesniak dat nuwe vorme van spirituele praktyke aan die ontwikkel is. Soos gelowiges bymekaar kom en oor hul geestelike reis nadink, ontwikkel hulle ‘n aanvoeling vir nuwe maniere om hul verhouding met God te versorg en te verdiep. Sy noem ‘n merkwaardige rits van praktyke: die skryf van dagboeke, vrywilligheidswerk, die soeke na ‘n nie-gewelddadige lewensstyl, kreatiewe projekte, weldeurdagte tuiste-skepping en ‘n vegetariese dieet. ‘n Mens kan hierdie dinge sommer net doen om dit te doen. Of ‘n mens kan dit doen met die wete dat ‘n mens daardeur ‘n meer volwasse, sterker, gesonder en geïntegreerde mens word – en dus op die manier die beeld van God al hoe meer in jou lewe reflekteer.

Die dinge waarmee ‘n mens besig bly en wat vir jou geestelike waarde het, vorm jou op ‘n nuwe manier. Spirituele praktyke laat ‘n mens in ‘n spiritualiteit ingroei en stimuleer nuwe lewensvorme. Dit laat ‘n mens gedurig oplet op watter nuwe maniere kan ‘n mens verder ontwikkel en jou verhouding met God beleef.  Dit bring ook ‘n bepaalde pligsbesef en verantwoordelikheidssin na vore: ‘n mens weet dat jy nie net daardie dinge doen wat vir jou aangenaam is nie, maar dat ‘n mens ook deur die pad van dissipline, toewyding, oefening, soberheid, gehoorsaamheid en self-prysgawe verander word om die lewe sinvol en ryk te ervaar.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive