Monday, June 25, 2012

Paulus die liefdevolle, Paulus die liefdelose


Tydens ons byeenkoms in Gloucestershire praat ek oor die opvallende verskynsel dat Paulus se kwaai brief aan die Galasiërs tog ook belangrike uitsprake oor die liefde het.

In die akademiese skrywes oor die brief aan die Galasiërs word die perspektief oor die liefde nie altyd so sterk uitgewerk nie. Daar is ook, interessant genoeg, nie enige akademiese artikel net oor die begrip van die liefde in Galasiërs geskryf nie.  

As ‘n mens die brief vanuit die perspektief van die liefde lees, is die resultaat verrassend. Die brief kry ‘n heel ander kleur. Die liefde is so sterk daarin uitgewerk dat die genade, daardie kernmoment in die teks, maar net ‘n uitwerking van die liefde is. Die diepste moment in die verhouding tussen God en mens is nie soseer die genade nie, maar die liefde waaruit die genade gebore is.

Op sekere sleutelmomente in die teks vertel Paulus daarom in sterk taal van God se liefde vir die mens: Byvoorbeeld: in Galasiërs 2:20 skryf Paulus hoedat die Seun van God sy liefde vir Paulus bewys het deur sy lewe vir hom af te lê.

Vir Paulus is, dus nie die genade alleen nie, maar die liefde wat ten grondslag van die genade lê, die belangrikste. ‘n Mens word gered, deur die geloof, sonder verdienste bloot omdat God ‘n mens lief het.

Die liefde is vir Paulus die begin van alle dinge. Dit is die oorsprong van alles, die bron waaruit die lewe vloei. Uit die liefde wil God ‘n verhouding met die mens aanknoop wat nie aan verdienste gekoppel is nie, maar aan God se behoefte aan ‘n intieme verhouding met die mens.

Paulus skryf uit sy hart uit hieroor. Hy het immers al in Galasiërs 1:13-14 eerlik sy eie, haatdraende houding teenoor die “kerk van God” gewys toe hy, ‘n fanatieke yweraar vir die oorgelewerde leer van sy voorvaders hulle tot die uiterste vervolg en probeer uitroei het. Paulus, die dogmaties suiwer en regsinnige gelowige ontsien niks om sy teenstanders uit te roei nie. Maar, voeg hy dan by in Galasiërs 1:15, God het hom in genade geroep en in sy goedheid sy Seun aan hom geopenbaar. En dwarsdeur hierdie brief onderstreep hy telkens hoe die genade van God onverdiend, buite die wet om, tot mense gekom het en hulle tot die liefde bring. Die genade kom uit die liefde. Hy sal weet, hy, die een wat so kon haat.

Paulus, die haatdraende yweraar, die vyand van God se kerk, word deur die liefde getransformeer tot navolger van Christus.

Mooi werk Paulus die gevolge hiervan uit. As die Gees van God in mense vrug dra, sal ‘n mens dit heel eerste herken in die liefde, skryf hy in Galasiërs 5:22. Waar God inwoon, waar God se Gees bly, is die veral en eerstens in die liefde te merk.

Meer nog: In Galasiërs 5:13 skryf hy dat ‘n mens in liefde aan mekaar “verslaaf” is. ‘n Mens het geen keuse nie. Jou verhouding met ander mense word bepaal daardeur dat jy hulle slaaf is in die liefde. Liefde skep liefde. Goddelike liefde wek wederliefde. ‘n Geestelike mens blink eerstens en veral uit in die liefde – net soos God.

Aan die einde van my referaat wonder ek hoe dit kan gebeur dat Paulus wat die liefde so hoog ag, tog terselfdertyd sulke hardvogtige en skerp taal teenoor sy teenstanders kan gebruik. Hy noem hulle onnosel (Gal.3:1). Hy wens dat sy teenstanders hulleself sal ontman (Gal.5:12)  en hy beskuldig hulle dat hulle mekaar byt, verskeur en verslind (Gal.5:15). Daar is ‘n sterk toon van irritasie, verwerping, beskuldiging en geraas.

In die bespreking van my referaat kom iemand hierop terug. Die bespreking loop daarna in die volgende rigting. Paulus gebruik skerp taal, ja, maar… Paulus is ‘n kind van sy tyd. ‘n Mens moet die taal in terme van sy omstandighede verstaan. So het mense nou maar met mekaar omgegaan – veral wanneer hulle in ‘n polemiek betrokke was.

Ek is bewus hiervan, want die retoriese beginsel van vilifikasie is sterk aanwesig in die brief. Wanneer mense in die antieke mekaar gepak het, was een van hul werkswyses om mekaar behoorlik sleg te sê en verdag te maak. Ek verstaan die opmerking dus goed.

Maar is dit hoe ons met die Bybel omgaan? Verstaan ons die Bybel as ons historiese opmerkings maak? Is daar in die Bybel ook ander woorde, ander insigte wat vir ons laat dink dat Paulus iewers die liefde gefaal het?

Des te meer is dit ‘n kwessie omdat haat ‘n wesenlike kenmerk van ons tydsgees is. Vilifikasie in ons tyd nie juis verdwyn het nie. Trouens, in ‘n sekere sin is dit tydloos. In die regswêreld gaan advokate/prokureurs uit hul pad om hul teenstanders se integriteit te bevraagteken. Die doel is duidelik: wie kan ‘n mens met ‘n slegte reputasie vertrou?

Ek ken al die redenasies.

As iemand hierdie argument wel aanvoer, is dit vir my alleen maar ‘n vertrekpunt. ‘n Mens sou kon sê: ja, in Paulus se tyd het mense nog so met mekaar omgegaan. In ons tyd werk dit nie meer so nie. Selfs in ‘n hofsaak is daar ‘n regter wat met wysheid en volgens regsnorme weeg of getuienis oor die ander se integriteit oortuigend is.

Paulus het nie so ‘n regter gehad nie.

En in die kerk, onder gelowiges, weet mens te goed, is vilifkasie ewig teenwoordig. Dit is juis waarom ons moet begin om die aandag daarop te vestig. En dit kan ons goed doen deur uit te wys hoe Paulus, die apostel van liefde, nie heeltemal daarin slaag om uit die liefde teenoor sy teenstanders te leef nie.

Ons moet begin om stil te word wanneer mense gewelddadige taal gebruik. Ons kan nie maar net die taal “verstaan” en kontekstueel begryp nie. Ons moet sulke taal beoordeel.

Daar is immers alternatiewe. Dink maar aan die wysheidsliteratuur – soos Spreuke – met die beklemtoning dat ‘n sagte antwoord die grimmigheid afkeer.

Ek sit na die bespreking hieroor en nadink oor die aard van die gehoor wat juis die punt in my referaat wou uitlig. In ‘n ander konteks waar mense sensitiwiteit gehad het vir die verskynsel van verbale geweld, was, interessant genoeg, daardie deel van my referaat nie eers ‘n kwessie nie. Maar die gehoor in Gloucestershire het ‘n eie samestelling en ‘n eie kulturele konteks. Die krag van taal om te kwets, te verteken en te kleineer is dalk in hierdie eerste-wêreldse omgewing nie so ‘n sterk kwessie nie.

Dit alles roep weereens by my die kwessie op van voldoende Bybel-uitleg op. Wanneer die Ou Testament praat van volke wat op groot skaal uitgeroei is, wanneer die Nuwe Testament van slawe en vroue as besittings praat, is dit nie genoeg om te reageer met die opmerking dat dit maar is soos dinge destyds gebeur het nie. Mens moet verder gaan: al is dinge destyds so gedoen, weet ons vandag van beter. En net deur so ‘n opmerking toon ons ‘n bewustheid van ‘n ander, uitnemender weg as om ander te vermink en te verneder met taal.

Ek verwonder my nog steeds dat Paulus wat so spesiaal oor die liefde kon praat (1 Kor.13), so liefdeloos met sy teenstanders kon omgaan.


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive