Monday, June 11, 2012

Wanneer God die mens inlei in die dieper dinge, raak dit ‘n mens tot in jou lyf.


Die afgelope tyd het Daniel as figuur vir my nuwe betekenis gekry terwyl ek nagedink het oor sy lees van die Bybel.

Ek is ook geïnteresseerd in die resepsie-geskiedenis van die Daniëlboek deur die loop van die eeue, veral ook in die skilderkuns. Dit het my uitgebring by Michelangelo wat sewe Ou-Testamentiese profete as deel van sy legendariese fresko teen die dak van die Sistynse Kapel in die Vatikaan, die offisiële paleis van die pous, geskilder het. Hy het Daniël so belangrik gevind dat hy hom op die tweede paneel van die fresko geskilder het. Michelangelo beklemtoon in sy fresko vier Ou-Testamentiese figure as die vier belangrikste profete – Jeremia, Daniel, Esegiël en Jesaja.

Onder hierdie vier profete word Daniël as die jongste een uitgebeeld. Hy is ‘n jongman in die fleur van sy lewe. 

Die fresko, en ook die uitbeelding van Daniël, is deur die eeue heen erg  beskadig. Maar in onlangse tye is dit uitvoerig herstel en is die oorspronklike, sagte kleure weer teruggevind.


Michelangelo het in baie opsigte vernuwing deur sy skilderwerk gebring. Een daarvan was om sy karakters in meer menslike vorm uit te beeld. In sy uitbeelding van Daniël is die profeet bloot net ‘n leser van ‘n boek:

Daniël lees en skryf in ‘n groot boek wat op die skouers van ‘n sterk figuur rus. 

Vergelyk hierdie uitbeelding met Briton Riviera en Rubens se voorstelling van Daniël  - albei gefokus op die leeukuil:







Duidelik wys hierdie kontras hoe vernuwend en anders Michelangelo was: sy Daniel kyk nie op na die hemel nie. Hy is, diep nadenkend, in ontsag, met geboë hoof besig om die boek te lees. 

Daniël, die een apokaliptiese boek in die Ou Testament, was saam met Openbaring vir Michelangelo baie belangrik omdat dit vir hom inligting gegee het om sy skilderye oor die eindtyd te maak.  Michelangelo was dus terdeë bewus van hoe besonders Daniël se boek was. In hierdie boek van die lewe het hy sy visioene neergepen.

Die detail van die skildery gee ‘n mens ‘n dieper insig in Michelangelo se bedoeling:  Michelangelo teken hom as iemand wat duidelik diep verlore in die boek is. Die jongman kry toegang tot die verborge dinge van God wanneer die visioene aan hom gegee word. Dit raak hom duidelik.

‘n Mens sien in die gelaatstrekke en lyftaal van die uitbeelding van Daniël iets van die ontsag raak waarmee hy gevul is toe hy sy visioene gesien het (Dan.8:27: “Ek, Daniël, was gedaan en het lank siek gelê. Daarna het ek opgestaan en weer my werk in die koning se diens gedoen. Ek was egter ontsteld oor die visioen, en niemand het geweet wat met my aangaan nie”). Michelangelo teken hierdie eg menslike kant van Daniël: hy, die profeet, skrik terug van wat hy gesien het. Sy hand, geteken in veelseggende detail, is so geteken dat dit hierdie spanning in hom verder uitbeeld.

Wanneer God die mens inlei in die dieper dinge, raak dit ‘n mens tot in jou lyf.




Blog Archive