Tydens
my besoek in Indië sien ek hoe my gashere soms ‘n oog laat val op ons nie-Indiërs
se geëtery met vurke.
In hul restaurants, eetsale en tuis om die tafel, smul hulle spontaan en soos hulle gemeenskappe
oor eeue heen gewoond is, aan hulle kos met hul vingers.
Daar
is darem, gegewe hulle ordentlikheid teenoor hulle gaste en as ‘n hoflike
gebaar, ‘n vurk langs ons eetplekke. Maar ek mis nie die sydelingse, vinnige blik nie...
Daarom
lees ek seker met meer as gewone belangstelling ‘n paragrafie in die F.T. van
vanoggend:
In
die artikel oor hoe presies en pynlik netjies tafels in Michelin Restaurants in
Europa gedek word, word vertel dat vurke eers in die sestiende eeu via
Italiaanse adel na Engeland gekom het. Die Italianers het dit, op hulle beurt,
uit Bisantië se koninklike kringe oorgeneem.
As
jy kyk na lyste van tafelgereedskap en toebehore in antieke tye voor hierdie
tyd, skitter vurke in hulle afwesigheid.
Van
die vroegste tye het mense hul kos wel met messe gesny, maar origens met hulle
vingers geëet.
Die
Italianers, lees ek verder, het vurke in die elfde eeu begin gebruik omdat
hulle gegril het vir vuil vingers. Volgens oorlewering het die Bisantynse prinses wat haar kos in klein stukkies gesny het en vir die eerste keer voor Italianers met ‘n tweetand-vurkie van goud geëet het, die gewone mense die hoenders ingejaagd. Die gewone mense het mettertyd die voorbeeld van
die adel begin volg.
Toeriste
in Italië het egter gedink dit is pure aansit. Daar is mooi verhale van reisigers oor die mense wat aan tafel hul kos met die mes sny en dan terselfdertyd die vurk met hul regterhand in dieselfde stuk vleis indruk om die kos in hul mond te bring. Oop-mond sit hierdie reisigers die nuwe gewoonte en bekyk, om die aand 'n hele inskrywing daaroor in hul verhale neer te pen.
En
tog was die vurk se opkoms onstuitbaar.
In vanoggend se artikel in die FT is dit die volgende brokkie historiese inligting wat my
belangstelling veral prikkel:
Die
Italiaanse kerkleiers in die tyd van die Bisantynse prinses was dadelik by om
hul teologiese uitsprake oor haar en haar vriende se nuwe gebruike te lewer.
Kyk, was hulle verontwaardigde uitsprake, God het vir die mens vingers as ‘n
natuurlike vurk gegee. Daarom beledig ‘n mens God deur met kunsmatige
metaal-vurke te eet.
Die
kardinaal van Ostia het, na die prinses uit Bizantië se vroeë dood, smalend en
met leedvermaak opgemerk dat haar liggaam besig was om, na haar oordadige
gesmul, heeltemal te verrot.
Die
kerk in ander tye en plekke het ook teen
die gebruik van vurke te velde getrek. Omdat prostitute nie taai souse of souse
wat hulle hande vlek wou eet nie en dus vurke gebruik het, het die kerk die
gebruik van vurke verbied. Of, erger, vertel sommige bronne: die vurk is
heftige teengestaan omdat prostitute hul poeding met vurke geëet het. Dadelik het die kerk die praktyk veroordeel
omdat dit so ‘n ongure konnotasie het.
Maar
niks kon die vurk-kultuur keer nie. Teen die sestiende eeu het handelaars in
Engeland die adel begin na-aap en ook vurke gebruik. En nie lank daarna nie,
het dit ‘n algemene gebruik geword, veral toe, met die industriële revolusie in
die agtiende eeu, fabrieke op groot skaal vurke kon maak en dit ‘n gewone
kombuis-voorwerp geword het.
Ironie
der ironieë. Vandag is dit eerder ‘n sonde om nie met ‘n vurk te eet nie. In
vele huise en in baie tye hoor ons oor die etenstafel: eet met jou vurk, my kind. Waar is jou
maniere dan?
En, oor die see, in Indië met sy cuisine en sy ou kulture, sien 'n mens, in die hoë geselskap van akademici en bevoorregtes die vinnige blik as jy jou vurk optel terwyl hulle met die hand eet en selfs die heerlike souse aan die vingers aflek...
Om
te dink: in vele plekke en tye het die kerk die gebruik van vurke in Europa
verbied gekry…
Die
geskiedenis kan, soos niks anders, mag en gesag ontluister en is ‘n wyse
leermeester.