Wednesday, June 06, 2012

Waar om God te soek in tye van vertwyfeling


In Daniël 9 is Daniël, die man van die leeukuil en die oond van vlamme, die man van visioene, ook Daniel die student van die Bybel.

‘n Mens begryp die boek beter deur dit te lees in die konteks waarin dit ontstaan het. Om die boek self te verstaan, gryp ‘n mens dus ook terug na die wêreld wat agter die teks lê, soos Ricoeur uitgewys het.

Die situasie waarin Daniel geskryf is, word deur die skrywer van die boek in Daniel 9 alleen al versigtig uitgewerk: Daniel, die hoofkarakter van sy boek,  sit in ballingskap, waar hy gekonfronteer word met ‘n omgewing waarin alles wat vir hom belangrik is, van hom weggeneem is en in sy nuwe situasie verder bedreig word.

Die maklike uitweg sou wees om maar kompromieë te sluit – iewers vas te hou aan sy geloof, maar ook toe te gee aan al die eise wat ‘n heidense omgewing aan hom stel.

In ballingskap soek Daniël nie die maklike uitweg en kies nie die goedkoop opsies nie. Daniel 9 teken duidelik wat in Daniel se gedagtes omgaan.

In sy omstandighede is sy gedagtes besig met die geskiedenis van God se mense.  In hierdie geskiedenis is daar ‘n paar momente wat skerp uitstyg. Daniel dink na oor die stad Jerusalem, die hart van die Joodse geloof. Dit is die stad van die verbond, oftewel, die stad met wie die Here ‘n liefdesverhouding aangeknoop het.  Dit is, trouens, ‘n stad wat aan God behoort. Oor die stad is God se Naam uitgeroep (Dan.9:18, 20). Die stad behoort dus aan God.

Vir Daniel geld wat vir eeue waar was vir gelowige mense. Jerusalem was by uitstek die plek van God se teenwoordigheid. In hierdie stad woon God in die tempel, op God se “heilige berg” (Dan.9:20). Hier bring die familie van God, die verbondsvolk, hulle vele offers. Hier sou hulle God in hul groot feeste opsoek. In die stad sou hulle God se lof besing. Deur die eeue het God, getrou, vir die volk van God bewaar en behou (Dan.9:2). Baie later, in die Nuwe Testament, kry ‘n mens weer hierdie voorstelling dat God in die midde van sy volk “woon” (sien Openbarin 21)

En toe gebeur die ondenkbare: ‘n groot onheil kom oor die stad (Dan.9:13, 14). Die stad word ‘n puinhoop (Dan.9:2) en sy inwoners word oor die aarde verstrooi (Dan.9:7).  Die volk van God is weggevoer; hulle woon nou tussen die nasies vir wie God niks is nie.  Die heilige berg is ontheilig. Die woonplek van God is verlate. Daar is geen teken van God se teenwoordigheid nie.

Vir die twyfelaars sou so ‘n situasie baie pyn meebring: God se verbond lyk nie meer so stewig nie. En God lyk nie so getrou soos wat die geskiedenis die familie van God laat dink het nie.

Ook Daniel ervaar trauma in die ergste graad. Alles wat vir hom belangrik is, word bevraagteken. Meer nog: dit word in ‘n sekere sin heeltemal van hom weggeneem.

Hy is ‘n balling in ‘n vreemde land, weg van alles wat vir hom sekerheid sou gee. Hy is vasgevang in leegheid, niks-heid. Wat hom betower het, vreugde gegee het, fees laat vier het, is hom ontneem. Die bekende vashouplekke van sy geloof is vernietig.  

En tog: In hierdie tyd van trauma, van verlies in die ergste graad, van deurgrondelike bevraagtekening van sy geloof, is hy eerder soekende na die wil van God.

Sy verstaan van God is wel verduister, sy insig in sy geestelike reis is hom ontneem, maar anders as vele van sy tydgenote wat hul geloof prysgegee het en deel van die inheemse volke geword het, laat Daniel nie vir God los nie. In die tyd van trauma is Daniel soekende. Hy wil verstaan. Hy verlang insig.

Dit is vanuit hierdie verlange dat hy sy “Bybel” oopslaan en Jeremia versigtig lees. Die tempel is nie meer daar vir hom nie. Maar die Skrifte word nou die plek om te soek na die weg wat God met mens wil inslaan. Daniel  is ingestel om hier rigting te soek. In die Skrifte, in Jeremia se profete-woord wil hy die stem van God hoor praat. In sy donker tyd van onsekerheid, van nietigheid, van donkerte, van uitsigloosheid, is die Skrifte, die geskrewe woord, die oord van toevlug.

Die verhaal wys hoedat mense in geloof steeds weer op die wysheid van die verlede teruggegryp het wanneer hulle in ‘n doodloopstraat beland het.  Want in die wysheid van mense wat na aan God geleef het, ontdek ‘n mens dikwels nog die lewende stem van God vir ander, later tye. ‘n Mens herken hierin iets van die gemeenskap van die gelowiges, waarin ons vas glo.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive