Michelangelo het Daniel geteken: heel verbasend het hy nie vir Daniel geteken as dapper mens in die leeukuil nie. Hy skets Daniel as die leser van 'n boek. Ek wil nog meer van die skildery oplees. Maar vir wat ek nou lees oor Daniel, is dit 'n paslike illustrasie. Michelangelo het dalk meer besef...
Daniel 9 bied vir Bybellesers ‘n unieke kykie in hoe mense uit Bybelse tye die Bybel gelees het.
Sommer in die tweede vers van hierdie hoofstuk, ontmoet ‘n mens Daniel die student van die Skrifte. Só wil die skrywer van Daniel dat ons hom leer ken.
Dit is hoe hy sy verhaal oor Daniel se soeke na dieper verstaan wil begin, met die Skrifte as uitgangspunt. Wanneer Daniel voor die onpeilbare te staan kom, gaan lees hy Bybel....
Hier in die vers is daar twee opvallende dinge.
Eerstens vertel die skrywer van die boek hoe Daniel sy teks verstaan en hoe hy dit noem. Die skrywer gee hiervoor twee beskrywings vir die teks. Eers praat hy van die “Skrifte” (“Ek, Daniël, het uit die Skrifte vasgestel”): Daniel weet sy teks is geskryf deur die profeet Jeremia. Daniel is immers self ‘n profeet wat gesigte sien en sou daarom reeds aangetrokke wees tot de boek. Maar dit is nie die belangrikste rede waarom hy die teks lees nie. Die teks is vir hom belangrik omdat dit deel is van “die “Skrifte.
Letterlik was dit waarskynlik ‘n boekrol wat Daniel gelees het. Die belangrike is egter dat hy hierdie boekrol as “Skrifte” verstaan het.
Maar die skrywer gee onmiddellik ‘n verdere verduideliking van die teks (“volgens die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het”): Daniel lees ook Jeremia se teks omdat hy dit sien as iets wat Jeremia as die “Woord van die Here” ontvang het (Dan.9:2). Hy herken dit as die stem van die Here.
Op ons ore val sulke taal nie vreemd op nie. Dit klink asof daar geen gaping tussen Daniel en ons, moderner tye is nie: ons praat ook van die Heilige Skrif en die Woord van die Here.
Tog is dit veelseggend, want dit wys met watter houding Daniel die teks benader. Dit is taal wat iets vertel van eerbied teenoor die teks. Die teks is nie maar net ‘n boek soos alle ander boeke nie. Dit is deel van ‘n groep tekste wat as ‘n versameling rigtinggewend vir gelowiges is en waaraan hulle ‘n spesiale waarde heg.
Daniel sien die teks van Jeremia dus as gesaghebbend. Die teks het nie net vir die tyd van Jeremia ‘n woord te spreek nie. Hier, ook, is meer op die spel. Dit was vir Daniel woorde wat lank na die tyd van Jeremia, in sy eie tyd nog, gesag gehad het. Die teks van Jeremia kom van God af tot geslagte van gelowiges. Daniel lees die “Woord van die Here” in Jeremia se profesieë spesifiek om antwoorde op sy eie deurdringende geloofsvrae te soek. Hy vind rigting vir sy eie geestelike reis in woorde wat tot Jeremia gekom het. Hy weet dit is in Jeremia se tyd geskryf en hy besef die teks is nie duidelik nie. Vir hom is egter die belangrike om die waarde van die teks vir sy eie tyd te ontgin. En, soos ‘n mens uit Daniel 9 aflei, verander die teks Daniel se lewe ingrypend.
Tweedens merk die skrywer op dat Daniel iets “vasgestel” het: hy ontdek God se wil en begryp dat die verwoesting van die tempel en die stad vir “sewentig” jaar sal wees. In hierdie opmerking sien ons die ondersoekende gees waarin Daniel die teks lees. In sy tyd van kwelling en vrae, ontdek hy die antwoorde deur versigtig, onderskeidend te lees. Dit is, as ‘n mens dit mooi bedink, die tweede fase van die lectio divina. Na die lectio, kom die meditatio.
Daniel tel die Skrifte op, welwetende dat dit God se woord is en dat dit gesag het. En tog is dit nie maar net ‘n teks waarop hy ‘n maklike antwoord vaspen nie. Hy worstel, mediterende, daarmee. Niemand anders, impliseer sy woorde, het vir Jeremia nog verstaan soos Daniel dit doen nie. God se woord is nie maklik nie. Die antwoorde kan nie maar net uitgevis word nie. God se woord, hoe gesaghebend ook al, is vir meer as een uitleg oop. Ook Daniel ontdek, soos vele gelowiges, die ambigue karakter van die Skrif.
Daniel is dubbel gekonfronteer met geloofsvrae: al die gewone geloofsekerhede van mense se bestaan in die stad Jerusalem is hulle ontneem. Hulle het net die Skrifte om mee te worstel. En ook hierdie Skrifte vra versigtig lees. ‘n Mens sou kon sê: nie net is die tye donker nie, maar ook die Skrifte kan duister wees. Later sou Christus iets soortgelyks doen en sê, met sy eie besondere uitleg van die Skrifte, anders as die uitleg van die Fariseërs. En het Hy dan nie ook gewaarsku teen die valse profete en messiasse wat in die naam van God mense sou mislei nie? Christus se lees van die Skrif is in lyn met hoe Daniel dit gelees en bedink het.
Op die manier leer ons Daniel ken as iemand wat die Skrif met ‘n houding van ontsag en afhanklikheid benader, wat dit fyn bedink en wat daarmee sy eie reis in sy eie tyd wil voortsit. Die Skrifte is vir hom nie ‘n historiese boek nie. Dit is ‘n geestelike teks, afkomstig van die Here, waardeur die Here praat met die oog op die begeleiding van mense in tye van onsekerheid.
Die geloofsweg is nie altyd helder verlig nie. Dit is ‘n pad wat waagmoed en volharding vra. In donker tye kan die Skrif donker wees.
Maar die antwoorde van hierdie boeken van Bo, kan ‘n mens se lewe totaal omkeer. Daaroor nou meer.